WF 2015: Biomeganiese organe het nou genoeg gehad

  • 0

My arm begin onwillekeurig rondswaai. Dit het ’n lewe van sy eie. Die arm wikkel homself los en begin stadig oor die vloer kruip, weg van my af.

Ek kyk in verbasing na hoe my arm skuif-skuif om die hoek verdwyn. Die snaaksste is dat ek geen pyn ervaar het nie. Dit het amper kielierig gevoel.

Dit was die arm wat omtrent tweehonderd-en-vyftig jaar gelede afgesit moes word as gevolg van ’n motorongeluk. Hulle het allerhande kunsmatige toestelle geïnstalleer wat my in staat gestel het om dit te gebruik. Dit is duidelik dat dit nou nie meer bruikbaar is nie.

Daarna het ek ’n hele paar hartoorplantings ondergaan. Soos ek na die hospitaal toe ry (in ’n selfbeheerde kar), dink ek aan wat gebeur het. As my arm ’n lewe van sy eie kon kry, wat van my hart, wat ook biomeganies is?

Ek loop in die dokter se spreekkamer in en voel ’n pyn in my bors. Dit is asof duisende naalde hul pad na buite toe wriemel. Ek val op my hande en knieë neer en voel duiselig.

Ek word wakker met ’n spul drade orals in my lyf gedruk. Ek het nie ’n nuwe arm nie, want ek kan dit nie bekostig nie. Die nuusleser op die televisie wys hoe talle mense se kunsmatige organe hulle verlaat.

Die televisie wys na ’n man wat omtrent heeltemal uit kunsmatige organe bestaan. Hy lyk soos ’n zombie. Die manier waarop hy loop en als. Die kameraman wou nog iets vir die "mens" vra, toe spring die ding na die kamera toe en die skerm word swart.

Soos ek daarna kyk, lyk dit soos ’n rebellie. Die mens se skepsele teen die mens self. Dit is iets waaroor daar nog altyd bespiegel word. Die Nasionale Instituut van Tegnologie het die mense gerusgestel dat alles eenhonderd persent veilig is. Hulle reken dat as iets verkeerd sou gaan, is daar ’n program wat alle elektroniese toestelle in die wêreld onmiddellik sal afsit.

Ek hoor ’n geskuifel buitekant die kamer. Dit klink soos iemand wat hulp nodig het. Ek haal die drade uit my lyf uit en loop versigtig na die deur toe. Ek maak dit oop en skielik spring daar ’n hand na my gesig. Ek buk vinnig en die hand skiet verby my gesig.

Ek hardloop na die deur en klim so vinnig moontlik in die hysbak. Daardie hand was die dokter s’n. Ek moet hier uitkom. En vinnig.

Ek loop die strate in en orals om my is snaakse, onmenslike goed wat rondloop. Dit lyk soos ’n klomp ledemate wat aanmekaar geplak is. Een van hulle skuif-skuif oor die vloer. Reguit na my toe.

Van die onderlywe wat heel is, kan baie vinnig hardloop. Ek bevind myself op ’n stadium in ’n stoeigeveg met iemand se bolyf. Ek skop hard en met ’n bevredigende gekletter val die ding uitmekaar.

Ek moet by die hoofkantoor van die NIT kom sodat ek dalk al die masjinerie kan afsit. Die karre is almal buite werking omdat dit deur ’n robotbrein beheer word. Die vinnigste manier daarheen is per fiets.

Die ingang is groot en ongemaklik stil. Ek loop onseker, voetjie vir voetjie by die gang af. Ek hoor ’n geluid wat kink asof iemand na asem hyg. Om die draai sit ’n man. Helfte van sy lyf is skoonveld.

Hy is ’n wrak. Sy bene, een arm en helfte van sy bors is weg. Sy oë probeer fokus op iets agter my. Ek voel ’n koue rilling by my rug af gaan. Toe ek omdraai, raak ek naar. Dit is ’n klomp koppe, bene, arms en torso's van kunsmatige ledemate wat aanmekaar geheg is. Hulle lyk nie baie vriendelik nie.

Ek kyk terug na die man op die grond en hy gee vir my ’n sleutel en beduie na ’n kassie in die hoek van die saal. Ek hardloop daarheen en druk die sleutel in. Die kassie gaan met ’n pneumatiese klank oop en vertoon ’n rooi knoppie. Ek druk dit.

My moed sak tot in my skoene toe die flitsende boodskap opkom: "Override not successful. Please try again later." Ek voel hoe ’n arm my om die been gryp. Die hele bondel ledemate spoel oor my en sluk my letterlik in. Ek voel hoe ek stadig beheer oor my liggaam en bewustheid verloor.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top