WF 2015: Bekende onbekendheid

  • 0

Dit álles voel só bekend. Hierdie plek. Hierdie spesifieke oomblik. Die lug wat ek diep in my longe inasem. Ek kyk na die wêreld om my. Hierdie nuwe wêreld van my. Was ek al hier gewees? Miskien is dit net déjà-vu? Maar dit kan tog nie wees nie, kan dit? Iets wat só bekend voel, moet tog bekend wees?

Ek kan niks van die ou wêreld onthou nie, net stories. Swart op wit. Boeke vol stof. Die dinge geskryf in hierdie boeke voel onwerklik. Hoe kan ’n wêreld so wreed wees? Die ou wêreld was vol haat en rassisme. Daar was slegte dinge vol slegte mense. Al wat ek ken, al wat ek nog ooit geken het, is die nuwe wêreld. Alles voor die dag van die groot verandering is vergete. Verlore gedagtes.

Cesare Pavese het gesê ’n mens onthou nie dae nie, maar oomblikke. Ek onthou goed: dinge, plekke, maar ek is nie seker of dit waar is nie. Miskien is dit dinge wat ek moet onthou. Dalk plekke waar ek al was. Op sekere plekke het ek hierdie warm, gemaklike gevoel in my hart. Dan weet ek: dít wat ek nou doen, het ek al gedoen. Hier waar ek nou is, was ek al.

Ma het eendag vir my ’n storie vertel. Van die ou wêreld en ’n meisie met die naam Helena wat saam met haar ma en pa in ’n klein huisie gewoon het. Sy was gelukkig, al was dit ’n wrede wêreld vol slegte dinge. Die wêreld was haar speelplek, en later het dit haar klaskamer geword. Sy het dinge van die wêreld geleer wat haar bang gemaak het en op ’n dag het haar wêreld vir ewig verander. Daar was oorlog. Die groot oorlog van die jaar 2032. Haar pa is weg om te gaan veg vir die wêreld se vryheid. Maar dit was in hierdie oorlog wat hy gesterf het.

Ek het wakker geword in ’n koue kamer. Alles was wit. Die mure. Die beddegoed. Die vloere en gordyne. Alles was vreemd en onbekend. Rondom my het ander mense gelê. Dit het gelyk soos ’n vertrek in ’n hospitaal, maar dit was skoner, witter, groter. Ons almal was aan masjiene gekoppel. Orals was daar vreemde mense – lank en groot. Groen van kleur met gepunte ore en geel, dooie oë. Maar ek was nie bang nie. Hulle het by elke bed langs gegaan en een vir een is ons ontslaan. Daar was ’n vreemde tekening op my linkerpols. Wanneer het ek ’n tatoeëermerk gekry? Ek onthou die eerste ding wat deur my kop gegaan het: wat sou my ma en pa daarvan sê? Ma, Pa … waar sou julle wees?

Ek het deur die gange van die hospitaalplek geloop. Die vertrekke was vol mense – mense van my soort en ook van die groen mense. Ek het gekyk of ek my ma-hulle kry. Maar daar was vreeslik baie kamers en vrek baie mense. Ek het Ma in kamer 325 opgespoor, maar my pa was nie saam met haar nie. Sy het ook ’n snaakse tatoeëermerk op haar linkerpols gehad. Sy was skraal en bleek, en die sakkies onder haar oë het haar soos ’n ou vreemdeling laat lyk. Maar sy was bly om my te sien en het my dadelik huis toe gevat.

Dit was die jaar 2038 – die jaar wat ek 16 geword het. Iewers het ek iets gemis, ’n deel van my kan niks onthou nie. My eerste herinnering was van die dag in 2036 toe ek uit die hospitaal ontslaan is. Hoe verloor ’n mens dertien jaar se geheue? Dertien jaar se stories en avonture en onthou? Wat het ek in die hospitaal gedoen? Ek kon dít nie eens onthou nie. Niemand wil sê wat ek daar gedoen het nie. Ek onthou hoe ek op die lugtreinrit op pad huis toe by Ma wou weet waar my pa is. Sy het niks gesê nie, net stil voor haar uitgestaar. Die huis was stil – Pa was ook nie daar nie. Na daardie dag het ons nooit weer oor hom gepraat nie.

Dié wêreld is al wat ek ken, al wat ek nog ooit geken het. Maar dit maak nie saak hoe mooi en skoon en gelukkig hierdie plek is nie, daar bly ’n deel van my wat wonder oor die ou wêreld. Ek is lief vir my skool en vriende. Ek is lief vir my ma, maar ek verlang na my pa – waar hy ook al mag wees. Iets is weg. Iewers het iets heeltemal verander en ek het dinge vergeet wat ek weet ek moes onthou.

Ek sit oudergewoonte onder die groot boom oorkant die parkie. Ek kyk na die kindertjies wat speel met hulle maats – of jy soos jou maat gelyk het, het nie in hierdie wêreld saak gemaak nie. Ek kyk na die voëls wat sing in die bome en die ou paartjie op ’n bankie naby die swaai. Sy is van ’n ander planeet en hy is van hier, maar hulle is lief vir mekaar – jy kan dit sien in hoe hulle na mekaar kyk. Ek kyk na die gras wat dans in die wind en na die lugtrein wat soos ’n slang deur die wolke seil. Hierdie wêreld ken ek goed, maar ek onthou … Die mense voor my word ’n warboel van beweging en die klanke verdof in my kop. ’n Bekende gevoel skiet deur my lyf.

Ek onthou!

Ek onthou ’n meisie wat lag en gesels en dans deur die huis. Ek onthou ’n huisie met ’n groot tuin en ’n knus kombuis. Ek onthou ’n man wat huis toe kom en ’n vrou op haar voorkop soen voordat hy met die meisie deur die huis dans. Hulle draai en draai en dan swaai hy haar in die rondte. Sy is gelukkig en hy glimlag breed. Die meisie lyk bekend, die huis ook. Die man en vrou ook. Ek onthou die meisie wat op die vrou se skouer huil.

Ek staan op en hardloop huis toe. Ek ruk die deur oop en hardloop reguit na my ma toe. Sy kyk op en ek sien díe antwoord in haar oë. Sy weet ek weet, maar ek vra tog:

“Ma, is ek Helena?”

Lees nog oor die LitNet Akademies WF-skryfkompetisie

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top