Sy hoor hoe die traliehek toeklik en die silwer sleutel stadig draai. Sy kyk om haar rond. Dit is so stil soos die graf. Al wat sy sien, is ’n klipharde bed en ’n toilet.
Die hoofopskrif lees: “Vrou koudbloedig deur vriendin onthoof.” Sy kan haar oë nie glo nie. Hulle verdink háár. Sy sal dit nooit aan haar beste vriendin doen nie! Ons twee is soos vinkel en koljander, dink sy.
Later die middag hoor sy ’n klop aan haar deur. Sy slenter na die deur en kyk deur die loergaatjie. “Die polisie?” Sy maak die deur oop en nooi hulle vriendelik binne. “Goeiemiddag, dame, u moet asseblief u nodige goed pak en my na die polisiestasie vergesel.”
“Hoekom, wat het ek gedoen?” vra sy senuweeagtig. “U word verdink van die moord op Karin Bester.” “Ek sal nooit so iets doen nie. Ek was my hande in onskuld!” sê sy parmantig. “Spaar dit vir die hof, mejuffrou. Enigiets wat nou gesê word, kan teen u in die hof gehou word,” sê die polisieman kortaf.
By die polisiestasie word sy dadelik in aanhouding geneem. “Ek soek my prokureur, nou dadelik!” eis die vrou. “U is daarop geregtig. Ons sal hom nou laat kom,” antwoord die polisieman. ’n Toestand van gemoedsrus vervul haar van binne.
Tien minute later kom haar prokureur daar aan. Die polisieman lig hulle in dat haar hofsaak oor twee dae sal plaasvind.
Dis twee dae later.
“Staan, asseblief.” Die regter stap die hof binne en gaan sit op sy stoel. Die kussing kreun onder hom. “Orde in die hof, neem julle plekke in!” beveel die regter. “Na ondersoek word mejuffrou Theron skuldig bevind op die moord van Karin Bester,” sê die regter in sy uitspraak. Haar prokureur protesteer dadelik en vra: “Wat gebruik julle as bewyse?”
“DNS, meneer Smit. DNS van die verdagte is op die moordtoneel versamel,” sê die regter vir hom.
“Die hof het besluit dat mejuffrou Theron skuldig is. Sy kry dertig jaar tronkstraf.” Sy word dadelik aan die hand gegryp om geboei te word en na die selle geneem.
Onder by die vierkantige hokkies wat sy van nou af huis gaan noem, is dit asof sy in ’n vrieskas ingeloop het. Sy word in ’n sel ingestamp. “Moenie bekommerd wees nie. Ek weet jy is onskuldig en ek sal dit bewys,” troos haar prokureur.
Hy verlaat haar en gaan huis toe. Sy is alleen. Dit is yskoud en sy het ’n draai op haar maag. Sy weet nie wat om te doen nie en val mismoedig op haar harde bed neer.
’n Paar dae later kom haar prokureur besoek aflê en sê: “Ek het dit! Jy is onskuldig en ek gaan dit bewys!” “HOE?” vra sy opgewonde en dit lyk of sy nou uit haar vel gaan spring. “Ek het navorsing gedoen en ek dink ek het agter die kap van die byl gekom!” sê hy, baie in sy skik. “Wat? Wat het jy uitgevind?” vra sy met ’n toon van hoop in haar stem.
“Hoe kan ek dit verduidelik? Dit mag dalk nou eienaardig voorkom, maar daar is ’n nuwe tegnologiese uitvindsel. Dit word ’n muskiet genoem – dit suig bloed by ’n mens, sonder dat jy dit agterkom. Sodra hulle die bloedmonster het, kan hulle jou kloon en dis hoe jou DNS op die toneel gevind is,” verduidelik hy.
“Hoe is dit moontlik?” vra sy verbaas.
“Ek het geen idee nie, noem dit maar kunsmatige intelligensie. Ja, wat óórneem!”
“Hoe gaan ons bewys dat dít gebeur het? Ek bedoel, dis seker die vreemdste saak wat al ooit voor die hof gepleit is,” stotter sy senuweeagtig. Haar prokureur antwoord: “Moenie bekommerd wees nie, ons versoek die hof om die saak te ondersoek.”
“Dink jy hulle sal ons glo?” vra die vrou onseker. “Ek hoop so, maar hulle moet elke verdagte ’n regverdige kans gee. Elke verdagte is nog onskuldig totdat dit anders bewys is,” antwoord hy.
Nog twee dae later.
“Is jy reg vir die hof?” vra die prokureur vir sy kliënt. “Nee, maar dis nou of nooit. Ek hoop net nie hulle dink ons jok vir hulle nie,” antwoord sy. “Nee, hulle sal nie. Dit sal goed gaan, ek is seker daarvan.”
“Staan in die hof,” sê die regter. ’n Paar minute later toe die prokureur sy saak klaar gepleit het, sê die hof: “Dis absolute waansin. Ek het nog nooit so ’n slegte verskoning gehoor nie en daarom kry boontjie sy loontjie. Dertig jaar.”
“Nee, dit kan nie wees nie. Ek kan nie tronk toe gaan nie. Dit was nié ek nie! Ek belowe!” skree sy met trane in haar oë.
Sy word aan die arm gegryp en by die trappe afgetrek. Onder word sy by ’n tronksel ingestamp.
Sy hoor hoe die traliehek toeklik en die silwer sleutel stadig draai. Sy kyk om haar rond. Dit is so stil soos die graf. Al wat sy sien, is ’n klipharde bed en ’n toilet.
Lees nog oor die LitNet Akademies WF-skryfkompetisie