Kyk –
’n Blinkswart druppel bloed boor deur die lug, op pad na ’n noodlottige ontmoeting met die vloer.
Ligte wimpers verbloem deur etlike klontjies maskara gly oor ’n glimmende pupil. Sjliek.
~
Mev Renolds ontsmet dadelik haar vingerpunt en smeer ’n lagie mediese gom oor die prikkie.
“Die uitslae van u toetse sal môre aan u deurgestuur word,” sê ’n dokter met ’n sintetiese wit glans aan sy tande. “Goeiemiddag.”
Mev Renolds neem ’n pamflet terwyl sy uitstap by die kliniek. Sy weier om na die voorblad te kyk – sy weet sy sal net meer onbekostigbare mediese prosedures begeer. Sy blaai eerder naarstig deur die genetiese-ontwerp-opsies vir babas. Eerste die geslag, ’n goedkoop spermskeiding. Dan kom die fisiese kenmerke. Donker velpigmentasie is gewild – die hoë melanienfaktor verleen sonbestandheid. So ook bruin oë. Mev Renolds stel nie belang in fisiese eienskappe nie. Sy gee versterkte immuunstelsels en siekte-bestandheid ’n vlietende kyk. Sy weet al wat sy wil hê hier. Groter longkapasiteit, vinniger metabolisme en sterker harte vlieg verby haar oë, voordat sy die blaaie stop met onfeilbare akkuraatheid by loopbaangepastheid.
Mev Renolds is ’n gebore ingenieur. Lae empatie, hoë wiskundige vaardighede en ’n reuse geheuebank. Sy trek ’n pen uit haar broeksak en byt ingedagte die doppie af.
Daar is ’n lang lys kitsloopbaan-aanpassings om van te kies, maar die res van die bladsye is bedek met ’n digte, vaalgrys warboel van lettertjies. Die opskrif – Eie keur.
~
Kyk –
’n Blou keël glim, vasgepen onder twee gepoleerde stene, geslyt en geskuur tot ’n volmaakte tal getal fasette.
’n Enkelnael, opgebou uit lae en lae naellak, soos ’n antieke murasie uit lae en lae verf, krap ’n donker haarsliert agtertoe. Fyn, grys haartjies sprei onder die vergruisende plaat.
~
Haar vinger loop af by vlakke van taalvaardigheid, logika, geheue, empatie en werksetiek. Elke geen kos meer as die vorige. Mev Renolds kan net ’n paar bekostig, en is vasbeslote om haar geld effektief te bestee. Teen die einde van die boekie is twee dosyn geen-kombinasies gemerk met blou ink. Sy maak dit toe, plaas die doppie op haar pen en neem eindelik kennis van haar omgewing.
Haar voete het haar geneem tot in ’n onbekende deel van die stadskonglomerasie. Haar veeldoelige polshorlosie sê dat sy vyf honderd meter links ’n tremlyn sal vind. Sy draai af in die systraatjie.
Die strate bruis, maar die lugkanale is vandag redelik stil. Elke paar minute slinger ’n leerling-bestuurder deur die rookmis, ’n rooi “L” geplak op hul hemeltuie.
~
Kyk –
Geel ligbalke, gestol deur die druk van rook-vervoerbande, flits en ruk gate in die soliede lug.
Soos ’n droë blaarpunt in die wind sidder ’n vlymskerp hoekie (half skarlaken, half salm) te volgstroom. Klein, grys stofstipseltjies klou, trillend, aan die opgeslaande plakker.
~
Mev Renolds wag nie lank vir ’n trem nie. Die lang stringe trokke beweeg stadiger as ortodokse motors, maar vinniger as voetgangers. Om op die bewegende voertuie te spring, noodsaak vernuf en spoed, maar al is sy mollig, kan sy met pamflet in die hand en al opspring. Twee mans klim geoefend af met lang, oordrewe treë.
In die trem maak sy haar oë toe en luister na die knor en spin van die masjien. Soos ’n lewende ding krul dit, sissend en sputterend tussen die woonstelblokke en wolkekrabbers wat die mae van die gode prik en druppels asbruin reën tot die aarde bring.
Bo die tropiese woud van koperliane en donker stamme vergader die wolke in swaar hope. Sonstrale skeur skaars deur die dreigende massa. Nog verder weg word komeet 453 vergruis teen ligjare. Dit word aangeteken en die spoed van ontbinding word bereken. ’n Sterrestelsel pyl af op die Melkweg teen ’n wit-asteroïed-spoed. Iemand sal sekerlik iets daaraan doen.
~
Kyk –
’n Hak skuur fyn skaafsels harde plastiek van die vloer af. Die voorheen-wit oppervlak is herskep deur ’n verstrooiing vuilgrys miniatuur-krulletjies, elk met ’n klein skeppie skoenpolitoer in die bakkie.
’n Enkele velskilfer sluit aan by die stofpoeier.
~
“Goeiemôre, mev Renolds,” glimlag die trotse eienaar van twee-en-dertig dentienplate. “Hoe kan ons u help?”
“Julle het my teenwoordigheid versoek in die kliniek vanoggend.”
Sy het al vyf gekose karaktereienskappe met swart ink gemerk.
“Wil u nie miskien sit nie?”
“Ek is haastig vanoggend.”
“Ek sien u sal dit waardeer as ons reguit tot die punt kom. U bloedtoetsuitslae het deurgekom. U en u man toets positief vir hoë kankerrisiko. Die geenkombinasie is resessief. Daar is geen kans dat u kan voortplant met dié geenkombinasie nie. U kan geen-vervanging oorweeg met die konstruksie van u fetus, maar anders is u voortplanting onwettig.”
Mev Renolds weet wat dié geen-vervanging kos. Meer as vyf geen-verplasings vir intelligensie, geheue of kunstigheid. Met hul ingenieurssalarisse kan hulle nie bekostig om ’n gesonde kind te produseer nie.
“– wet is noodsaaklik vir die finale uitroeiing van kanker onder die menslike spesie –”
~
Kyk –
’n Kristalhelder traan boor deur die lug, op pad na ’n noodlottige ontmoeting met die vloer, waar dit ontplof, en meng met vuilgrys stofdeeltjies.
Kyk –
Die aarde is gekantel op sy as. Dit veroorsaak lente, somer, herfs en winter.
Notas
Ter wille van duidelikheid word die kriptiese afdelings soos volg gekatalogiseer:
A
Kyk –
- ’n Blinkswart druppel bloed boor deur die lug, op pad na ’n noodlottige ontmoeting met die vloer.
- Ligte wimpers verbloem deur etlike klontjies maskara gly oor ’n glimmende pupil. Sjliek.
B
Kyk –
- ’n Blou keël glim, vasgepen onder twee gepoleerde stene, geslyt en geskuur tot volmaakte getal fasette.
- ’n Enkelnael, opgebou uit lae en lae naellak, soos ’n antieke murasie uit lae en lae verf, krap ’n donker haarsliert agtertoe. Fyn, grys haartjies sprei onder die vergruisende plaat.
C
Kyk –
- Geel ligbalke, gestol deur die druk van rook-vervoerbande, flits en ruk gate in die soliede lug.
- Soos ’n droë blaarpunt in die wind sidder ’n vlymskerp hoekie (half skarlaken, half salm) te volgstroom. Klein, grys stofstipseltjies klou, trillend, aan die opgeslaande plakker.
D
Kyk –
- ’n Hak skuur fyn skaafsels harde plastiek van die vloer af. Die voorheen-wit oppervlak is herskep deur ’n verstrooiing vuilgrys miniatuur-krulletjies, elk met ’n klein skeppie skoenpolitoer in die bakkie.
- ’n Enkele velskilfer sluit aan by die stofpoeier.
E
Kyk –
- ’n Kristalhelder traan boor deur die lug, op pad na ’n noodlottige ontmoeting met die vloer, waar dit ontplof, en meng met vuilgrys stofdeeltjies.
Kyk –
- Die aarde is gekantel op sy as. Dit veroorsaak lente, somer, herfs en winter.
Deel A1 is letterlik ’n enkele druppel bloed wat val, maar verwys figuurlik na die wêreld waarin mev Renolds lewe en hoe perfek en volmaak dit vir haar lyk. Die druppel is geslote, soos mev Renolds se beperkte, naïewe siening van die wêreld. Die druppel gaan wel bars. So ook mev Renolds se wêreld.
Deel A2 is letterlik mev Renolds se oog, maar suggereer ook dat iets verbloem word in hierdie perfekte wêreld.
Deel B1 is letterlik die pendoppie tussen mev Renolds se tande, maar “tal” verwys ook na die wiskundige en wetenskaplike heerskappy in die wêreld.
Deel B2 verwys letterlik na mev Renolds wat ’n haarsliert agter haar oor plaas, maar dit sê weer dat die negatiewe aspekte van die wêreld versteek bly.
Deel C1 is letterlik die hemeltuie wat beweeg deur die besoedelde lug, maar dit wys dat die aarde (en die mens) deur sy eie tegnologie vernietig word.
Deel C2 verwys na die opgeslaande hoekie van die rooi “L” van ’n leerling se hemeltuig, maar ook na die imperfeksie van die wêreld.
Deel D1 is letterlik mev Renolds se skoenhak op die kliniekvloer, maar verwys ook na die imperfeksie van die wêreld. Dit verwys ook visueel terug na deel A2, maar in dié geval is die geheim ontbloot.
Deel D2 is letterlik ’n vallende velskilfer, maar dit sê dat die mens intiem betrokke is by die imperfeksie van die wêreld.
Deel E1 is letterlik ’n vallende traan, maar dit verwys terug na deel A1, en wys hoe mev Renolds se siening aan flarde geruk is. Voorheen was die druppel net in sy perfeksie getoon, vallend, maar nie vernietig nie. Nou word al die onooglikheid van ’n vuil, gespatte druppel vertoon.
Deel E2 is letterlik die aardbol se gradiënt, maar dit verwys na die imperfeksies wat die wêreld bewoonbaar maak. As die aarde nie op sy as gekantel was nie, sou die mens nie daar kon oorleef nie.
Die titel, “Zoem”, verwys na hoe die leser se fokus konstant moet verander gedurende die kortverhaal. Dit verwys ook na hoe probleme in perspektief gesien moet word (’n komeet teenoor ’n sterrestelsel), sodat morele keuses gemaak kan word. Of tog nie?

