WF 2012: Sprong na gesondheid?

  • 0

Die geflikker van die monitorliggies naby my maak my wakker. Ek lê in ’n bed in ’n donker kamer. Is dit aand? Waar is ek? Die ruimte waarin ek my bevind, is wit en klinies. Ek is gekoppel aan allerhande hospitaaltoerusting wat my vel binnedring. Ek sien ’n rooi knoppie langs my bed; hierdie is natuurlik die noodknoppie. Is ek in nood? Is waar ek my bevind, my redding of my tronk? Rukkerig strek ek nader en druk die knop stadig …

Vandag is my verjaarsdag! Ek word dertien en almal kom vandag na my huis toe. Dit is werklik ’n verligting; vandag sal perfek wees. My ouers is al lank bekommerd oor my siekte. Ek weet self nie wat fout is met my nie. Ek moes al vir baie toetse gaan. Koue naalde en plate teen my jong, skoon vel. Ek sien net op die televisie en koerante hoe verskriklik baie mense doodgaan van ’n nuwe, vreemde siekte. Is dit die siekte wat ek het? Is ek dan verdoem tot ’n kort lewe op die aarde?

My ouers kom omhels my, maar agter die geluk in hulle oë sien ek vrees. Vandag gaan nie ’n lekker verjaarsdag wees nie. Ek moet weggaan na ’n hospitaal wat in my siekte spesialiseer. Hulle wil ’n nuwe geneesmiddel op my toets. ’n Middel wat blykbaar die siekte totaal sal uitwis. So dink die wetenskaplikes en so dink my ouers. Hulle is so gretig om my gesond te maak, maar sal hulle my geluk prysgee vir my gesondheid?

Bang en weerloos lê ek op die bedjie wat deur die gang vlieg. Lig op lig kom en gaan verby. Die ligte lyk soos die straatligte in die aand as ek en my ouers rondry. Ek sal liewers daardie ligte wil sien as dié wat my nou so bang laat voel. Ek word in ’n lokaal ingestoot en ek wag op my lot. Hoekom is ek die enigste pasiënt in die kamer? Is ek dan die enigste een wat siek is? So baie vrae wat ek nooit as ’n jong seuntjie sou kon beantwoord nie. Buite die kamer sien ek hoe dokters met my ma en pa praat. Waarom straf my ouers my so? Ek het nie ’n sê in my eie lewe nie.

’n Klomp dokters staan om my. So gretig soos aasvoëls wat ’n dooie dier gevind het. Ek hoor nie eens hoe hulle my beter wil laat voel nie. Alles voel vals. My arms, bene en nek is vasgemaak aan die bed waarop ek lê. Ek staar na die massiewe naald bo my. ’n Massiewe pen wat my wil binnedring. Ek kan nie help om die konsep te bewonder nie. Hulle wil my gesond maak, maar om dit te kan doen, moet hulle my na die dood vat en weer terugbring! Hierdie proses kan meer sleg as goed wees. Almal word stil en die naald begin stadig sy pad volg na die swart kolletjie op my voorkop. Ek voel dadelik die koue steek en begin gil. My stemmetjie word dadelik hees, omdat my stembande nie die volume van die skree kan hanteer nie. My lyf begin ruk en ruk, maar die bande hou my vas. Ek kan voel hoe my vel skeur en my bene begin breek onder die massiewe pyn wat deur my lyf skiet. Dit is net te erg vir my jong siel en ek bevind my in ’n swart ruimte, weg van alles ...

… En die liggies begin flits en die monitors bliep-bliep, maar stop skielik. Ek loer stadig rondom my en sit regop. Waarom kan ek niks onthou nie? Die laaste ding wat ek kan onthou, is my ouers, maar die herinneringe aan hulle is baie vaag. Dit voel asof my ouers my verraai het. Ek stoot die gedagte weg en kyk na my hande. My hande lyk so volwasse en oud. Ek sien ’n klomp wit letsels op my arms en bene, ’n klomp littekens oor my lyf. Die merke lyk gesond, maar is tog nog steeds seer. Ek klim ywerig uit die bed. Die vloer is vreemd teen my vel, maar tog is die gevoel so verfrissend. Met klein treetjies beweeg ek na die deur toe. Buite in die gang is dit leeg. Leeg? Waar is almal dan? Die plek lyk verwaarloos. Die gang is vuil en alles is stukkend of gebreek. Bo die deur aan die punt van die gang flikker ’n uitgangteken. Is ek veiliger binne of buite? Met dieselfde skuif-skuif van voete beweeg ek na die uitgang toe. ’n Vuil koerant op die grond trek my aandag. Ek bestudeer die bladsy, maar ek kan dit nie lees nie. Ek het vergeet hoe om te lees. So baie vrae swem in my kop rond: Waarom is ek so oud, waarom kan ek skaars lees of loop, en die belangrikste: waar is almal? Strale sonskyn sypel deur die krake in die deur. Die deur kreun met baie moeite oop. Die sonskyn verblind my, die helder sonlig te erg gekontrasteer met die donker hospitaal. Ek voel die hitte van die son op my vel. Die gevoel van lewe wat deur my beweeg, laat my huil. Trane vloei teen my wange af, trane van geluk. Ek maak my oë oop en skielik verander my geluk in vrees. Voor my is nie die groen, warm aarde van my jong dae nie. Die aarde is leeg. Alles wat met lewe gevul was, is nou net ’n leë dorheid. Niks nie. Leeg …

Ek is alleen. Ek is die enigste persoon wat die siekte oorleef het. Ek het my gesondheid, maar ek kan nie my geluk vind nie …

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top