WF 2012: Revolusie

  • 0

Na die opstand teen die internasionale banke en maatskappye in 2030 was die wêreld werklik vir die eerste keer sedert die 18de eeu vry. Dit het tien jaar van beplanning en wêreldwye weerstand geneem om uiteindelik uit die kloue van gulsige korporatiewe hande te ontsnap. Die uitgebuite bevolking het saamgestaan en geveg teen die korrupte politici – wat aangemoedig is deur kommersiële en private agentskappe – wat skuil agter valse eise van “demokrasie”, “terrorisme” en “inflasie”.

Aan die einde van 2012 het die Amerikaanse ekonomie heeltemal platgeval. Die sisteem kon eenvoudig nie meer die finansiële vraag en aanbod van die land hanteer nie. Kort daarna het Wall Street en die Europese ekonomie ook in duie gestort, gevolg deur die res van die wêreld. Regerings het geskarrel en vinnig “oplossings” gesoek deur middel van grootskaalse propaganda om onluste te verhoed. Weermagte moes ingryp toe dié strategie nie uitwerk nie en talle is dood nadat honger en woede hulle tot geweld gedryf het. Munisipale geboue en banke is onder andere geteiken in groot stede reg oor die wêreld, soos globale chaos oorgeneem het.

Ongelukkig was dit alles deel van die plan. Tydens die jare ná die ineenstorting van die internasionale ekonomie het nuwe leiers na vore gekom. Nuwe beloftes en propaganda is bevorder. Internasionale verdrae is opgestel en geteken. Lande wat ryk aan hulpbronne is, sou in die toekoms gebruik word om die infrastruktuur weer aan die gang te kry. Met nuwe hoop het mense harder as ooit tevore gewerk – doodgelukkig met die minimum betaling. Olie, steenkool en minerale is van arm lande gestroop. Die korporatiewe diewe was gelukkiger as ooit. Weer eens is daar perfek in hul hande gespeel.

Onafhanklik van enige regering of maatskappy het ’n groep van slegs ’n paar individue in 2018 bymekaargekom en ’n klein organisasie geskep. Hulle het die internasionale maatskappye en regerings dopgehou. Hulle was bewus van die korrupsie, uitbuiting en ekonomiese slawerny wat dié in beheer aangedryf het. Stilweg het hulle vermeerder en hul kennis aan mense uitgebrei, met een doel: om die individue agter die skerms omver te werp en die wêreld te bevry.

Allerlei slim planne het na vore gekom en daar is op een besluit: om die mense werklik te bevry, sal daar eers van die huidige politieke en finansiële “leiers” ontslae geraak moet word. Globale opstand was nodig en die woord is versprei. Mense is ingelig oor hoe korrup die sisteem was. Mense het begin saamstaan en die onluste het weer van voor af uitgebreek – dié keer buite beheer van die “wêreldleiers”.

Geld het skielik geen waarde meer gehad nie. Mense wat voorheen ryk was, was nou op dieselfde finansiële vlak as die mense wat op straat bly. Politieke leiers, weermaglede en biljoenêrs het skielik geen mag oor enigiemand gehad nie. Vir die eerste keer was almal gelyk. Mense is gedwing om saam te staan. Dit was die begin van ’n nuwe era vir die mensdom.

Die planne van die groep onafhanklike individue is toe uitgevoer: alle vorme van geld, politici, weermag en besighede is van kant gemaak. Daar sal geen vorme van finansiële handel plaasvind nie. Alles sal gratis aan almal beskikbaar wees. Die monetêre stelsel is heeltemal van kant gemaak. ’n Nuwe stelsel is in plek gestel: ’n hulpbrongebaseerde ekonomie.

Fossielbrandstowwe is uitgeskakel as ’n bron van energie. Dit is vervang met meer effektiewe, groener en 100% herwinbare bronne, naamlik geotermiese, wind-, son-, en golfenergie. Huidige motors is geskrap en vervang met nuwe, slimmer en skoner maniere van vervoer. Moderne motors wat deur batterye aangedryf is, met ingeboude sonar om ongelukke te verhoed, is op die paaie gesit. Kommersiële vliegtuie is vervang met hoë-spoed- interkontinentale treine, wat wrywingloos van een kontinent na die ander skiet teen snelhede van meer as 6 000 km/h. 90% van die poste wat tans deur mense beman word, is vervang met masjiene. Masjiene het komplekse mediese operasies verrig, huise gebou, paaie skoon gehou, landerye beman en omgesien na die instandhouding van geboue. Alles is outomaties en selfonderhoudend.

Die meerderheid wette is ook uitgeskakel. Omdat daar nou geen vorm van geld of handel in die samelewing is nie, is daar geen werkloosheid nie. Misdaad het dramaties gedaal. Mense het geen rede om meer te steel nie – alles is teen geen koste aan almal beskikbaar. Daar is geen wins om te maak nie; dus is daar geen maatskappye wat kompeteer nie. Geeneen is ryker of armer as die ander nie. Gelykheid en regverdigheid is vir die eerste keer ooit werklik bereik.

Die fokus van die mensdom is verskuif vanaf geld, skuld, politici en patriotisme na die ontwikkeling van nuwe tegnologie en vooruitgang. Tegnologie wat ons aan die begin van die 21ste eeu nie eers kon beoog nie, het na vore gekom. Dekades later kan mense steeds nie glo hoe primitief en onvolwasse die samelewing 100 jaar gelede was nie.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top