WF 2012: Papie

  • 0

“... deur ’n proses wat induksie genoem word.” Ek skryf “induksie” stadig op my papier neer, kyk weer op en dryf weg in my gedagtestroom. Ek sit altyd voor teen die muur van die kelderklas, want die lektore glo dat enigiemand wat voor in die klas sit, entoesiasties oor die lesse is. Dis nou nie dat ek die filosofie haat nie – soos hulle sê, dis hoog tyd dat iemand vir ons leer hóé om te dink en nie wát om te dink nie.

“... vanaf afgesonderde gebeurtenisse, in teenstelling met deduksie ...” Ek krap langsamerhand “deduksie” op die bladsy, klik die doppie op my pen en dink verder. Dis die jaar 2040, en danksy die afskaffing van Afrikaans as ’n amptelike taal is ek een van die laaste Afrikaanssprekendes in Suid-Afrika. Hierdie filosofielesse is nou nie juis die opwindendste manier om ’n misdaad te pleeg nie, maar dis óns manier – en die feit dat dit in Afrikaans gegee word, maak dit nog net meer rebels.

“Wakker word, Linda,” sê iemand met ’n dik aksent agter my. Die enigste persoon in die kelder wat só praat, is Winston, ’n Engelse seun wat teen die huidige korrupte regering betoog deur Afrikaans en logiese denkwyses te leer. Die les moet verby wees. Winston trek speels aan my vlegsel. Ek kyk uiteindelik om en hy pluk my notas triomfantelik van die plastieklessenaar af.

“Gee terug!”

“Geen kans.” Hy draai die papier om, trek sy grys oë op skrefies en blaai weer terug. “Is dit al wat jy geskryf het?” vra hy ongelowig. “Jy het alles gemis oor vanselfsprekendheid! En die kontraste tussen deduksie en induksie!”

“Ek sal dit later opkyk,” brom ek en gryp die papier terug. Die lektor, ’n vriendelike mannetjie met ’n toiletborselsnor en ronde brilglasies, stoot ons na die deur, waar klein groepies mense uitsypel.

“Julle twee kan saam uitgaan,” glimlag hy. “Onthou, een minuut tussen elke groep.”

“Jy is hopeloos,” sê Winston terwyl ons die trappe klim. “Vat so.” Hy druk sy notas in my rugsak, sónder my toestemming. Ek probeer om die papiere weer in die skemerdonker uit te pluk, maar hy keer my. “Moenie kwaad raak nie. Ek probeer jou net help.”

“Ek het nie jou hulp nodig nie,” snou ek en beweeg vinniger teen die trappe op. My voetstappe eggo deur die kelder terwyl ek die helmkap van my bestralingskerm laat sak en al die filters aktiveer.

In die buitelug kies ek koers na die dorpstuin, waar ek weet ek kan ontspan sonder dat morone soos Winston my onafhanklikheid probeer ondermyn. My persoonlike kunsmatige-intelligensie-toestel laat my met ’n aantal bliep-geluide weet dat my liggaamstemperatuur hoër as wenslik is en blaas ’n stroom ysige lug oor my nek. Ek swets binnensmonds en klap vies aan die kunsmatige vel. Terselfdertyd kom ek agter dat een man reg voor my gestop het en na my staar.

“Can I help you?” vra hy goedgesind. Sy oë blink wit agter sy donker helmkap.

“It’s fine,” antwoord ek deur geknerste tande, sonder om my aksent te probeer versteek.

Die man glimlag egter en bly staan. Ek moet skynbaar verduidelik. “It’s just my PAIS giving trouble. I can’t remember where to switch off autopilot.”

Hy sien die modelnommer op my arm terwyl ek spartel om die skakelaar te vind en knik. “I have the same model. Autopilot is the button on the right.” Ek druk die knoppie en die koue lug diffundeer. Ek bedank die man en wil aanstap, maar hy keer my.

“I have a message for you. Promise me this,” sê hy, “never complain – always find a solution. You have the power to change things, and you are better than you think.” Hy draai sy kop skeef. “Better even than that, yes? Remember that.” En voor ek enigiets verder kan sê, knipoog hy, sê: “Tot weersiens, nè?” en stap verder aan sonder om terug te kyk. Ek snak na asem. Sedert 2020 is Afrikaans die geheime taal van die rebelle – die taal van die filosowe en die denkers.

Ek haas my na die tuine, waar ek op die gras gaan sit, alles neerskryf op my notapapier en dit ’n paar keer deurlees. “Moet nooit net kla nie – vind ’n oplossing. Jy het die mag om dinge te verander, en jy is beter as wat jy dink – nog beter, selfs, as dit. Onthou dit.”

Ek rol om op my maag in die son terwyl ek met my tweede vel se opsies vroetel, met fokus op die temperatuurreguleerder. ’n Vlinder draai stadig oor die gras en ek stop om ’n video te neem. “Videokamera,” sê ek duidelik en fokus op die bloedrooi vlerke. ’n Polsende rooi kolletjie verskyn in die hoek van my helmkap en ek volg die vlinder met my oë om dit af te neem. Na ’n paar sekondes dartel hy, asof hy skaam is, agter die bosse in en ek deaktiveer die opnemer. Nou haal ek die verskrompelde notas van Winston uit my rugsak en probeer om die papiere plat te stryk. Die filosofiese terme is netjies in drukskrif geskryf, met lywige definisies onder elk. Maar skuins geskryf, apart van die res, is:

As jy weer in jou dagboek skryf
Onthou
Om die goue blaar te sien in die somerson
Of miskien die blou moederkappie
Op een van ons afwesige wandelinge
Teen Tafelberg.*

Ek herken die vers – dis nie Winston se eie skepping nie. Hy het wel ’n intens gedetailleerde skets van ’n orgidee gemaak in die kantlyn – dis nou seker die moederkappie. Ek grawe dieper in my rugsak, tussen my spaarbatterye, pistool en gekrapte identiteitskaarte, en trek ’n ou rondepunt-verfkwas en verwronge buisie akriel uit. Dis Burnt Sienna Brown, sien ek ingedagte. Ek kies ’n oop wit sementbankie en druk die buisie. ’n Wurm verf kruip uit. Ek skep met die kwas en begin verf: “As jy weer in jou dagboek skryf ...”

Ek begin neurie. Dis ’n Chopin-etude, kom ek agter. Op 10 nr 12 in C mineur – die Revolusionêre studie.

 

* Jonker, Ingrid. 2009. “As jy weer skryf.” Versjoernaal – Nuwe benadering tot poësie. Malan, Lucas, Henk Viljoen, Heleen Stevens, Catrina Vosloo en Rina Lamprecht (reds). Best Books, Bl 97.

Lees nog oor die Kuberklas Kreatief WF-skryfkompetisie

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top