WF 2012: Net ’n kloon?

  • 0

Wat is ek? Wie is ek? Is ek ék? Hoe gaan ’n mens ooit weet …

Dit is dieselfde vrae wat ek my al vir 1 760 dae oor en oor vra en, om eerlik te wees, ek is siek en sat vir die raaisel om nie te weet wat meer in die wêreld aangaan nie. Ek twyfel sterk of enigiemand weet. As iemand ooit uitvind, laat weet my tog net dadelik, asseblief. Ek is besig om van my trollie af te raak.

Ek is op die oomblik in Frankryk, so: “Bienvenu pour France. Je m’appelle Kristel Burger; enchanté.” Dit is maar ’n paar goedjies wat ek opgetel het so langs die pad. Al wat ek eintlik sê, is: “Welkom in Frankryk. My naam is Kristel Burger; dit is aangenaam om jou te ontmoet.” Om tale te leer praat, veral Frans, is een van my gunstelingdinge om te doen. So verskoon my as ek ’n bietjie afdwaal. Ek sal my bes probeer om by Afrikaans te bly.

Die werklike rede waarom ek in Frankryk is, behalwe vir al die onweerstaanbaar aantreklike geboue en natuurlik die homme (mans), is om uit te vind, soos jy reeds weet, wie ek is, of ek rêrig ek is en of ek dalk net hier is weens die bevordering van tegnologie. Die belangrikste vraag is egter: Is ek hier vir ’n doel?

Ek moet erken ek was nie altyd so vol vrae en op ’n missie nie – ek het eintlik my lewe geniet. Ek het die algemene lewe van ’n normale tienermeisie gehad totdat ek 19 jaar oud geword het. Of so stel ek my maar voor my lewe was. Al wat ek eintlik weet, is dat my lewe handomkeer moes verander het en onderstebo gedraai gewees het. Ek het die een oggend in ’n vreemde kamer wakker geword, totaal en al deurmekaar en verbouereerd omdat ek niks kon onthou van my kinderlewe nie. Ek het later na ’n koffiewinkel oorkant die straat gegaan. Wat my net nog meer omgekrap het, was dat ek my ewebeeld gesien het.

Ek weet baie mense kry die out of body experience, maar wat ek gesien het, was definitief die werklikheid. Dit was ek wat daar voor die koffiewinkel gestaan het, en tog was dit nie ek nie. Dit kon nie ek wees nie. Niemand word toegelaat om ’n tweeling te hê nie, weens die feit dat daar te veel mense op Haskonië68 woon (Haskonië68 is ’n kloning van ’n planeet met die naam Aarde wat amper 350 jaar gelede deur ’n terroriste-aanval vernietig is). Ek het my oë geknip en toe ek weer kyk, is sy net weg. Ek het haar ’n paar keer weer gesien en besluit of haar te agtervolg en uit te vind hoekom ons presies dieselfde lyk.

Dit is vandag amptelik 2 000 dae nadat ek in die kamertjie wakker geword het en ek het uiteindelik antwoorde op my vrae. Ek is die werklike 27-jarige Kristel Burger. Die meisie wat ek die afgelope tyd agtervolg het, is my identiese kloning. Ek was op 21 in ’n motorongeluk en is breindood verklaar. My ouers kon dit nie oor hulle harte kry om die masjiene af te skakel nie en het dit vir ’n paar jaar aangehou. Totdat hulle op ’n dag ingelig is dat daar ’n kloning van my gemaak kan word. Sy sal presies soos ek lyk, maar om die mens Kristel Burger te maak, moes hulle my geheue vat en in dié mens se brein sit.

Natuurlik het my ouers ingestem – wie sou nie? Hulle kon hulle enigste dogter terugkry. My masjiene is afgeskakel en die papiere is geteken, maar sonder dat my ouers die fyndruk op die papier gelees het. Ek is toe na ’n spesiale fasiliteit geneem waar hulle toetse doen op mense wat breindood verklaar is. Die toetse het duidelik geslaag, want hier sit ek vandag springlewendig en gesond – wel sonder enige herinneringe aan my lewe as kind en tiener of selfs my ouers – maar ek is hier om dit terug te vat.

Wat daar nog in die fyndruk gestaan het, is dat as die persoon wat die toetse ondergaan, wel weer lewe, word daar deur die wet van menseregte toestemming aan die werklike mens gegee om sy/haar geheue terug te vat en die kloon moet van Haskonië68 verwyder word …

Dit is drie jaar nadat ek my geheue teruggekry het en ek moet sê ek en my ouers is al deur dik en dun saam en ek verstaan presies hoekom hulle gedoen het wat hulle gedoen het. Een vraag wat nog nie duidelik beantwoord is nie, is wat my doel op Haskonië68 is, of nog erger, wat is enigiemand se doel, want jy kan so vinnig deur ’n kloon vervang word. Ja, jy kan langer lewe as jy vroeg in jou lewe sou sterf, maar is dit reg? Wat moet gebeur, moet gebeur. As dit in my hande was, sou Haskonië68 dieselfde tragiese paadjie as die aarde loop …

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top