WF 2012: Maanwoning?

  • 0

Dit was die jaar 2040 … Toksiese lug, besoedelde water en grond en talle sterftes.  Dit het baie jare gevat, maar uiteindelik kon ons aarde nie meer lewe onderhou nie. Die mens het die aarde vernietig. 

Emma was ’n 16-jarige meisie wat saam haar gesin in ’n groot huis gebly het. Sy het twee broers gehad en het nooit regtig met hulle oor die weg gekom nie. Die lewe was vir Emma maar vervelig. Elke dag was min of meer dieselfde. Skool was vir Emma glad nie lekker nie en sy het verkies om die middae eerder televisie te kyk as om buite te speel. Emma het haar hele lewe lank gesien hoe die omgewing se toestand verswak, maar het nes die meeste ander mense nie aandag daaraan gegee nie. Tot eendag, toe daar deur middel van ondersoeke vasgestel is dat lewe op die aarde nie kon voortbestaan nie.

Emma, saam met miljoene ander mense, was verward en bang. Almal het geweet iets drasties gaan gebeur. Iemand moes vinnig ’n plan maak – dit het almal geweet. Vir ’n week lank het mense gedebatteer oor wat moes gebeur en die oplossing was duidelik. Hulle sou nuwe blyplek moes kry. Dit het lank gevat om almal daar te kry, maar na vele jare was die maan die mens se nuwe tuiste.  So begin ’n nuwe era.

Daar was baie dinge wat verander het. Om op lug te loop, het die 16-jarige Emma gedink is onmoontlik. Dalk op planeet Aarde, ja, maar op die maan was dinge anders. Water beweeg opwaarts en karre agteruit. Aan die begin was daar geen televisie of tegnologie van enige aard nie. As gevolg van ontwikkeling wat te stadig plaasgevind het, was daar vir die eerste paar jaar nie skool nie. 

Aan die begin het dit hemels gevoel. Geld was vir die eerste keer in ’n baie lang tyd nie ’n probleem nie en kinders kon doen net wat hulle wou. Elke dag was soos ’n vakansie. Die weer was ook altyd lekker warm en die omgewing was skoon. Kinders het altyd buite gespeel en meer tyd met hul gesinne deurgebring. Minder karre is gebruik en almal het geloop tot waar hulle moes wees. Almal was daarop ingestel om die nuwe tuiste te beskerm. Almal het gewoond geraak aan die spesie wat daar voorgekom het en het hulle na ’n tydjie as mense beskou en hanteer, al was hulle groen met drie oë.

Emma het met haar ouers en twee broers in ’n klein huisie in een van die honderde dorpies op die maan gewoon.  Sy en haar broers het elke dag in die parkie oorkant hul huis gaan speel. Die parkies was baie anders. Jy beweeg op met die glyplank en hang met jou voete, nie met jou hande nie. Emma het haar ma gereeld help bak en die seuns het hul pa met allerlei goed gehelp. Vir die eerste jaar was die lewe net lekker.

Na ’n jaar het Emma begin besef dat dinge verander.  Dit was nou moeite om te bak en tegnologie is teruggebring, beter en meer ingewikkeld as ooit tevore. Haar ma en pa het net heeldag voor die televisie gelê. Haar broers het net heeldag geëet en die parkie was verlate.

Mense het begin rommel strooi en meer begin kar ry. Skoolgeboue is nog steeds nie gebou nie en kinders het dom en onnosel geraak. Emma het besef dat sy iets moes doen om haar omgewing te red. Sy het pamflette begin maak om almal te herinner aan hoe die mens die aarde vernietig het. Sy het dit vir almal in haar buurt uitgedeel en dit as haar plig beskou om publieke areas skoon te maak. Die mense het egter nie geluister nie en na twee jaar se gesukkel het Emma opgegee.

Na twee jaar op die maan het dinge baie verander. Die toestand van die splinternuwe omgewing het verswak en niemand het meer regtig omgegee nie. Net soos vantevore het mense min aandag aan enigiets gegee. Daar was wel verdere implikasies, soos dat die lug nie grys was nie, maar bloedrooi, en die maan se oppervlakte het begin skeur as gevolg van die besoedelde grond wat giftige stowwe bevat het.

Mense het die skeure weer vasgewerk en gedink alles is weer reg, maar Emma het geweet dat die mens nog ’n tuiste vernietig het.

Dit was 2070. Rooi lug, verlate geboue en skeure in die maan se oppervlakte. Dit het dertig jaar gevat, maar uiteindelik kon die maan nie meer lewe onderhou nie.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top