Die koue metaal van die pistole kleef teen my klam hande. Ek haal diep asem en spring om die hoek van die antieke doolhoof, die vuurwapens voor my uitgehou – gereed om te elimineer … Maar daar is niks. Al wat ek sien, is meters en meters hiërogliewe wat in die dowwe beligting lyk asof dit kriewel. ’n Gevoel van hoendervleis loop teen my ruggraat op. Dit voel asof die farao teen die muur met sy enkele oog tot by my siel in staar. Die skerp reuk van ’n verrottende lyk is al waarskuwing wat ek ontvang voor my konfrontasie met ’n gesiglose wese.
Ek trek die snellers tegelyk, sonder ’n oomblik van huiwering.
Dis ek óf jy.
My ammunisie is besig om min te word, wat beteken dat ek naby aan die einde behoort te wees.
Die Egiptiese figure beduie met hul wysvingers in die rigting waarheen ek veronderstel is om te gaan. Soos ’n slaaf volg ek hul woordelose opdrag en sluip deur die tonnel na my volgende geheime mikpunt. Op pad daarheen raak ek ontslae van nog twee gesiglose gediertes wat die verskriklikste gille gegee het terwyl hul liggame gedisintegreer het. Dit ontsenu my, maar ek weet dis maar net ’n speletjie. Met elkeen is dit dieselfde: hande en arms stokstyf voor hom, net soos ’n tipiese mummie, maar iets aan sy liggaamshouding tref my as vreemd. Ek is nog besig om vlugtig oor my skouer te kyk toe die aarde skielik onder my voete verdwyn. Ek beland in ’n wriemelende massa en besef gou genoeg dat dit ’n put vol kobras is.
Hoe ongerieflik, is my laaste gedagte terwyl die een slang om my enkel begin krul …
Ek lag verleë en haal die elektroniese helm van my kop af.
“Dis ’n uitdágende speletjie … Ek’s mal daaroor! Baie dankie, Leo.” Leo vryf homself teen my bene en laat sy stert om my enkel draai. “Dis net ’n plesier,” antwoord hy op sy gewone komkommerkoel manier. Soms is ek oortuig daarvan dat ek die mees sarkastiese kat in die wêreld het, maar ander kere verbaas hy my met hoe oulik hy kan wees.
“Ek sou graag vandag by die huis wou bly saam met jou en my dag in ’n virtuele wêreld deurbring met tuna-toebroodjies vir middagete.” Ek hoor, eerder as sien, hoe Leo sy lippe aflek. “Maar ek moet by die universiteit kom om my tesis in te lewer. Geniet jou dag, moenie te veel kattekwaad aanvang nie en hou op om met die voëls te probeer praat. Hul sagteware is nog nie op jou spesie se kommunikasievlak nie.” Uit gewoonte vee ek my hare agter my oor in en soen hom op sy kop. Hy trek ’n komiese gesig en maak asof hy hom probeer skoonmaak waar ek hom gesoen het.
Die rit na die universiteit is ergonomies doeltreffend, om die minste te sê, en skaars ’n minuut is verby toe ek die glansende vensters van die formidabele instituut gewaar. Ek lewer my tesis in en draf ’n paar klasse voordat ek my pelle by die Studentesentrum ontmoet vir iets om te eet.
Ek bestel rooibostee en lasagne, terwyl my een vriendin my vertel van ’n ou wat sy oor die naweek ontmoet het. Ek roer halfhartig my tee met ’n silwer lepel. Ek wil die lepel op die tafel neersit, maar dit bly aan my vingers vasklou. My vriendin kyk verskrik na my en ek lag verbouereerd. Ek probeer hierdie magnetiese vermoë uit op my mes en vurk, met dieselfde sukses. Kort voor lank is die hele tafel se messegoed êrens teen my lyf vasgeplak – willekeurig of nie. Een van die ouens probeer toe sy vurk terugkry, maar die oomblik wat sy vel kontak maak met myne, ervaar ons albei ’n pynlike staties-elektriese skok. Ek verskoon my en vat die vinnigste roete huis toe.
Toe ek met my voet by die deur instap, is dit asof ek ontlaai en die eetgerei val kletterend en klingend op die vloer. Dit is egter nie al wat op die vloer val nie …
Ek is terug in die piramide se dodelike netwerk van gange. Ek weet nie hoe dit gebeur het of wat aan die gang is nie, maar besluit om my instinkte te volg. Dit lei my na ’n vertrek wat ek slegs kan beskryf as ’n troonkamer. Ek trek my asem skerp in toe ek sien wie op die troon sit.
“Leo!”
“Tegnies gesproke is my naam Cleo, maar ek sal jou onkunde vergewe. Dit was tog ek wat jou daardie leuen laat glo het.”
Hy lyk groter, intimiderend, edel.
“Ek is so verlore. Kan jy asseblief verduidelik wat hier aangaan?” Ek probeer kalm voorkom, maar die angs is duidelik in my stemtoon.
“Moet ’n kat altyd alles uitspel? Hierdie is ons coup d’etat. Na meer as tweeduisend jaar se onderdrukking, na ons gloriejare in Egipte as góde, is ons terug om daardie titel te eis.” Sy stert wip gevaarlik op en af. Hy gluur deur skrefiesoë na my. Mý Leo is weg – voor my sit ’n kat met ’n agenda.
“Dit is hoe dit gaan werk: Net soos in die vorige “toetslopie” sal jy twee gewere ontvang. Dan is jy vasgevang in hierdie virtuele werklikheid, totdat óf jy óf die hele mensdom uitgewis is. Die beste deel is dat ons nie eens ’n poot hoef te bemors nie – julle doen die vuil werk vir ons. Ja, daardie gesiglose wesens wat jy vroeër uitgemoor het? Dit was ander deelnemers, net soos jy.”
Ek voel hoe die lasagne by my keel opstoot.
“Ag, moenie so bekommerd wees nie. Jy is mos ’n veteraan as dit kom by oorlogspeletjies.”
Ek staan steeds sprakeloos. Die kat grynslag en knipoog vir my.
“Tyd vir geselsies is verby. Jy het nege lewens. Mag jy nooit op jou voete land nie.”

