Dr Ricky van der Hoven dwaal deur die bos. Hy gaan dit kry – hy weet hy gaan. Daar is iewers ’n nuwe organisme wat wag om ontdek te word.
Van die gewoel tussen die plante is sy arms en bene al vol skrape. Sy voet haak agter ’n boomstomp vas en hy stort vir die soveelste keer neer.
Langs sy hand, op die boomstomp, sien hy dit. Is dit die langverwagte organisme waarna hy nou al dae lank soek? Hy bekyk die besigheid van nader en voor hy mooi dink wat hy doen, reik hy na die plant uit en vat daaraan. Die intense pyn wat hy ondervind, laat hom onmiddellik terugtrek.
Geskok kyk Ricky na sy uitvindsel. Dit lyk so sag soos fluweel, maar steek soos ’n doringbos.
Met sy tangetjie neem hy ’n groot stuk om vele ekperimente op te doen. Ricky kan nie help om op te let dat daar amper geen plante om hierdie organisme is nie. Dis ’n dooie kol, vol van niks.
So opgewonde dat hy iets gevind het, vergeet hy van die dooie kol. Met selfvertroue loop hy die voetpaadjie tree vir tree huis toe.
By die huis aangekom, oorval die moegheid hom. Hy sien nie kans om die trappe tot bo te klim nie en gaan lê sommer op die bank. Binne sekondes het die donker hom oorval en Ricky begin droom ...
Donker. Uiterste donker en dan ... skielik ... ’n klein ligkolletjie wat stukkie vir stukkie groter word. Die lig skyn op ’n klein mannetjie. Die mannetjie se oë gaan oop en Ricky skrik vir die honger wat hy in daardie klein ogies sien. Skielik spring die mannetjie op en begin Ricky byt. Dit voel presies soos die prik wat hy gekry het toe hy aan die organisme geraak het. In ’n paar sekondes suig die mannetjie Ricky heeltemal op, met net sy kop wat oorbly. Met ’n groot glimlag stap die mannetjie nader en Ricky maak sy oë toe om nie te sien wat kom nie ...
Natgesweet ruk Ricky wakker. Hy kyk na sy wekker. ’n Volle twee dae geslaap. Die honger knaag aan hom en hy staan op om kos te gaan maak. Een hap van ’n heerlike toebroodjie en Ricky is haastig op pad na die badkamer. Op pad terug kombuis toe loop Ricky verby die voordeur. Hy sien ’n hasie in die veld en skielik neem sy primêre instinkte oor ... Hy ruk die deur af en hardloop die veld in.
Die arme haas het geen kans nie. Voor hy mooi weet wat aangaan, is Ricky bo-op hom. Net soos die klein mannetjie begin Ricky suig en hy kan homself nie keer nie. Die kop van die haas bly heel laaste oor. Beangste ogies word toegemaak toe Ricky inbeweeg vir die finale suig.
Versadig en baie in sy skik met sy vangs loop Ricky huis toe. Hy gaan dadelik na sy laboratorium en haal die stukkies van die organisme wat hy gepluk het uit. Die sakkie is aan die verdwyn, sien hy met ’n skok. Die besigheid binne-in het begin groei. Ricky is stomgeslaan.
Binne sekondes kom hierdie nuwe organisme se naam na Ricky. Die Verdwynia.
Ricky begin sy toetse en stel ’n hipotese op: Enige voorwerp wat met Verdwynia in aanraking kom, sal verdwyn.
Hy doen eksperiment op eksperiment en bevind elke keer dat sy hipotese reg is. Sy heel laaste eksperiment is om vas te stel wat gebeur as voorwerpe slegs deur Verdwynia geprik word, soos in sy geval. Hy prik ’n rot met die organisme en voel weer honger. Hy sit die rot in ’n hok en stap weer die veld in.
Hierdie keer verdwyn ’n hele bok sonder ’n enkele bloeddruppel wat êrens verspil is. Tevrede loop Ricky terug huis toe. Hy onthou van die rot en hardloop die trap af, terug na die laboratorium. Hy kan sy oë nie glo nie. Slegs die rot se kop is nog oor. Dit sweef in die hok rond, sonder ’n liggaam.
Hy plaas ’n bakkie bloed in die houer en hou die rot stip dop. Die kop beweeg na die bak en die rot lek die bloed op. Stadigaan begin sy liggaam weer verskyn ...
En Ricky het die antwoorde op sy vrae.
Wat gaan gebeur as ek nie bloed kry nie?
Die naam van my nuutgevonde organisme, Verdwynia, stel dit so mooi: Ek gaan verdwyn sonder ’n druppel bloed as bewys dat ek ooit bestaan het.

