WF 2012: Die Terka

  • 0

Dit is die jaar 6069 en globale verwarming het sy klimaks bereik. Daar is min oorlewendes op planeet Aarde.Ons storie begin by die sensus van die oorlewendes in Kaapstad, Suid-Afrika.

Karen: “Goeiedag, soos julle weet, my naam is Karen en ek is die hoof van Oorleef die Hitte. Dit is ons jaarlike sensus en ek is bly om te sien dat ons almal die afgelope jaar oorleef het. Dit is die eerste jaar, soos julle kan sien op die lyngrafiek op die witbord dat ons almal nog bymekaar is. Ons het baie mense reeds verloor, maar ons het sterk gestaan en een familie gevorm.”

Herman: “Dagsê, almal! Ek het hierdie jaar, soos belowe, gaan dink oor wat ons kan doen om ons wêreld terug te kry. Eerstens het ek na die oorsake van globale verwarming gaan kyk. Dit is hoofsaaklik as gevolg van die rook van die verbranding van nie-herwinbare materiaal. Ons het te min natuurlewe, soos bome, gehad om te fotosinteer en hierdie koolstofdioksiedgasse uit ons atmosfeer te verwyder.”

Karen: “My pa het my as ’n klein dogtertjie vertel van hierdie eensellige organismes, naamlik terka, wat oor die wêreld gefloreer het. Hierdie organismes kon fotosinteer, hulle het soveel koolstofdioksiedgas uit die lug gevat en dit vervang met suurstof dat hulle uitgesterf het. Ek en Herman het hierdie geëvolveerde organismes in die bodem van ons vlak see gevind.”

Herman: “Die helfte van ons is wetenskaplikes en ons vra elkeen se hulp om hierdie Terka na sy eerste weergawe in die wêreld terug te werk. Dit sal al die oortollige koolstofdioksiedgasse uit ons atmosfeer verwyder. Ons hoop dat almal ewe entoesiasties is vir hierdie nuwe plan wat ons sal help om die osoonlaag weer toe te kry. ”

Agtien maande later....

Karen: “Aandag, almal! Ons het dit reggekry! Vandag is 21 Oktober 6070 en hierdie dag sal herdenk word as die eerste stap om ons Aarde terug te kry!”

Dit het baie arbeid en deursettingsvermoë geneem om die Terka aan die lewe te hou. Almal het saam gebid en geleef en die terka dopgehou. Elke bietjie hoop en almal se drome was op hierdie klein sel geplaas.

Oor ses maande het die Terka oor Engeland floreer. Almal kon beter asem haal en na nog twee maande was Jan die eerste mens wat sy lugfilter afgehaal het.

Op die sensus van 6073 het hulle ’n satelliet gebruik om te kyk hoe die osoonlaag herstel het. Dit was wonderlik om te sien dat dit van 90% weg tot 80% weg verbeter het. Die osoonlaag was besig om weer te groei en die Aarde toe te maak.

Na tien jaar was daar 500 mense op Aarde. Dit is dubbel die getal wat die sensus van 6073 getel het. Gerhard was nou in beheer van die organisasie.

Gerhard: “Middag, almal, ek is bly om te sê dat ons oor die afgelope 14 jaar geweldige vordering gemaak het. Ons liggame is sterker en gesonder en die Aarde veral het enorme verbetering getoon. Ek wil almal net vriendelik herinner dat ons nie weer moet verval in ons ou gewoontes nie, maar aanhou voortbou op hierdie groen generasie.”

Daar was nie ’n enkele persoon op die planeet Aarde wat nie sonkrag gebruik het nie. Almal het hulle water herwin en papier is oor en oor herwin. ’n Boom is vir elke twee mense per jaar afgekap. Al die onnodige geboue is afgebreek en vervang met bome en natuurlewe. Die watervlakke van die Aarde het toegeneem, soos temperatuur wêreldwyd gedaal het.

In die jaar 7040 was daar 1087 mense. Die osoonlaag was ten volle herstel. Daar was een president vir die hele wêreld en almal het in vrede saam op die kontinent gewoon.

Almal was bewus van die oorsake van globale verwarming en die onmoontlike wat bereik was om die Aarde te red.

Die Wet van Karen is geïmplementeer. Hierdie wet het behels dat bevolkingsgroei ’n groot risiko is en dat elke huishouding slegs drie kinders kan hê, geen fossielbrandstowwe mag gebruik word nie en herwinning moet onder streng regulasies gebeur en alles moontlik moet herwin word.

Die wêreld was op ’n punt van uitsterwing, maar almal het saam gewerk en op die punt van dood, gesonder en sterker geword. Globale verwarming word nou gesien as ’n les vir die mensdom om nie selfsugtig te wees nie.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top