WF 2012: Asem

  • 0

Asemhaling – reëlmatig, ’n geroetineerde in- en uitasem.

Die staaltafel is ysig en kil onder sy lyf. Die harde oppervlak rus ongemaklik teen elke werwel. Sy tande knetter op mekaar; hy knyp sy oë styf toe om van die koue te ontsnap, maar die donker se voorbode dwing hom om weer sy oë op die wit plafon bokant sy kop te vestig. Die beeld verloor fokus; swart kolletjies begin speels voor sy oë dans. Hy voel hoe elke ooglid swaarder raak; ’n swart sluier van die donker se voorbode oorval hom. Die groen entstof in die plastieksakkie waaraan hy gekoppel is, het leeggeloop.

Asemhaling – uitgeput.

Lydia staan buite die deur van die kliniese wit lokaal. Sy rus haar toe met die steriele skoene en wit baadjie wat voor die deur geplaas is voor sy die kamer binnetree. Sy stap tot teenaan die staaltafel in die middel van die vertrek en begin die leë sakkie waaruit die groen entstof net oomblikke tevore nog gesyfer het, ontkoppel.

Sy neem een van die groen oorpakke uit die kas en plaas dit bo-oor die lyf van die bleek, ou man wat op die staaltafel voor haar lê. Sy soek haastig na die rits. Die vertrek is stil. Die geluid van die ritssluiter is al wat hoorbaar is bo haar asemhaling. Versigtig trek sy haar plastiekhandskoene uit en plaas dit in die geel drommetjie langs die wasbak. Sy stap na die interkom toe. “Skoonmaker na kamer 93, nr 10649 is afgehandel.”

Die trok is vandag oorvol gelaai. Die bestuurder sit agter die stuur en steek ’n sigaret aan. Die ongeduld begin in hom opwel. “Maak vinnig daar agter; ek het nie heeldag tyd nie,” sê hy tussen ’n paar rookwalms deur. “Jammer, baas, maar hier is ’n groot besending vandag,” sê ’n jong werker agter sy masker deur. Hy slinger die laaste paar slagoffers in die trok. Vandag kyk hy net een keer na die hope groen oorpakke in die trok voor hy die deur terstond toemaak. “Reg, baas kan maar ry.”

Kamer 93 is leeg, maar in die middel van die vertrek sit ’n vrou kruisbeen op die vloer. Haar rooi hare hang soos ’n gordyn voor haar oë. Haar skouers rus swaar op haar arms; haar jong gesig lyk moeg en gedaan.

 “Tersia, dis nou genoeg, jy moet hier uitkom,” hoor sy skielik die stem agter haar.

“Moenie vir my sê wat om te doen nie, Lydia – julle het hom weggevat. As dit nie vir hom was nie, was ons almal lankal dood. Moenie maak asof jy skielik verstaan nie.” Die woorde is skaars hoorbaar tussendeur die hartseer wat nou onwillekeurig oor haar wange stroom.

 “Hy was reeds te oud,” probeer Lydia stry. “Die ouderdomslimiet vir die mensdom is veertig jaar, en hy was op pad vyftig toe. Ons het nie ’n keuse gehad nie. Ons hulpbronne en voorrade raak by die dag minder.”

Tersia sit voor haar en uitstaar asof die woorde onbegrypbaar is. Haar gesigsuitdrukking bly strak. Sy staan op en stap na die deur toe. Lydia volg kort op haar hakke en gryp haar aan die arm.

“Tersia, wag nou eers. Ek is jammer ...”

Tersia ruk haar arm weg en kyk stip na Lydia deur haar rooigehuilde oë. “Nee, Lydia, ék is jammer. Ek is jammer dat ek gedink het dat my pa, die rede hoekom ons nog genoeg water het om te drink, iets meer as ’n nommer of ’n groen oorpak in ’n trok kon wees.”

“Skoonmaker na kamer 106, nr 10700 is afgehandel.” Lydia stap uit die wit vertrek en trek haar steriele skoene uit. Sy is moeg vandag, die spanning van die afgelope paar maande rus swaar op haar skouers. Dit is reeds baie laat en die gang is pikdonker. Haar voete vind vanself, soos passiewe geprogrammeerdes, die pad na haar kamer toe.

Die donker vertrek word skielik geskakeer met vlekke van rooi ligte. Die aankomende sirenes laat haar haar aandag dadelik op die voordeur toespits. Twee jong verpleegsters, ’n man en ’n vrou, hardloop haastig verby haar. Enkele sekondes later keer die vrou terug. “Hulle het nog ’n onwettige een in die dorp gekry. Vyf en veertig jaar oud. Moet ons haar nou opkoppel of in die selle hou tot môre?” Lydia se stug allure steek haar emosies goed weg. Sy trek haar skouers op. “Gaan doen solank die voorbereiding – ek is nou daar. Vyf jaar beteken ons het alreeds genoeg tyd gemors.”

Tersia werk al van vroegoggend af. Haar hande werk vinnig; sy kyk na die wit poeier wat in die pierinkie voor haar lê. Die son is warm vanoggend en maak die klein kombuisie nog bedompiger. Sy haal versigtig nog een van die wit pille uit die sakkie en begin dit met mening fyndruk.

“Ek is jammer ek is so emosioneel deesdae. Ek dink ons het tyd nodig om rustig oor alles te praat. Kom eet vanaand by my. T.”

Lydia sit en staar na die wit briefie wat sy vanoggend op haar lessenaar gekry het. Sy weet nie of sy gelukkig of skepties moet wees daaroor nie. Is dit miskien die deurbraak waarvoor sy gewag het? Dat Tersia haar uiteindelik as haar stiefma sal aanvaar?

Tersia neem versigtig die pierinkie met wit poeier wat sy voorberei het en gooi dit in haar ma se oudste Royal Dalton-suikerpotjie. Dit is al laatmiddag. Sy haal haar mooiste porseleinborde uit, die soort met fyn gedetailleerde patrone op, en begin die tafel dek.

Dit is donker buite, maar die wit gebou van die IVBH se ligte brand nog. Die mediese personeel is steeds hard aan die werk. Lydia staan by die ontvangs om die pakkie te gaan afhaal wat vroeër vir haar gearriveer het. Sy sien die bruin pakkie op die toonbank. “Lydia Theron” is in groot drukletters daarop geskryf.

Sy skeur die papier opgewonde af. Sy verkyk haar daaraan. Toe sy dit gister bestel het, het sy nie gedroom dat dit so mooi kon wees nie. Sy vryf oor die gladde, goue oppervlak en hou dit styf teen haar vas. Versigtig plaas sy dit op die toonbank en vee die lastige traan wat nou oor haar wang rol met die agterkant van haar mou af. Sy roep die ontvangsdame nader. “Hou dit vir my hier tot môre – ek wil hê Tersia moet dit sien.”

 Die ontvangsdame knik. Sy kyk Lydia agterna toe sy wegstap. Sy loer af na die gedenkplaat wat op die toonbank voor haar lê: Ter nagedagtenis aan Josef Theron, wat sy lewe vir die lewe van ander opgeoffer het.”

Tersia hardloop vinnig na die deur toe. Die klokkie lui hard en skril. Sy voel selfversekerd. Sy sit haar mooiste glimlag op voor sy die deur ooppluk. Sy val Lydia dadelik om die hals.

 “Haai, Ma, jy is net betyds. Dis nou nie ’n vyfsterete nie, maar ons doen mos ons bes met wat beskikbaar is.” Lydia staan verstom, maar haar blydskap slaan tussen haar mondhoeke deur. “Dankie, Ters, ek het ’n lang dag gehad. Kom ons wag nog ’n rukkie voor ons eet – ek sterf nou vir ’n koppie tee.”

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top