Na aanleiding van ’n baie interessante TV-dokumentêr oor die Bermuda–driehoek het ek weer eens besef hoe noodsaaklik dit is dat die mens voortdurend daarna moet streef om die onverklaarbare te ondersoek en met ware feite te probeer verklaar. Jare al,hang daar ’n vreeslike misterieuse wolk oor hierdie gebied in die Atlantiese Oseaan en allerhande mites het al posgevat oor bo-natuurlike gebeurtenisse daar.
Eerstens is hierdie area die grafkelder van honderde skepe,wat sonder taal of tyding net verdwyn het.Na ondersoek,het wetenskaplikes heelwat antwoorde hierop.Daar is bv ’n studie gemaak van die landskap onder die water en dit blyk dat daar ’n baie diep kanaal of vallei (3000vt diep) wat amper met ’n reuse rivier vergelyk kan word, in ’n sirkelvormige gebied oor die oseaanvloer strek. Dit veroorsaak ’n geweldige sterk seestroom en sou ’n skip sink, is dit onmiddellik ingetrek en heel moontlik weggevoer deur hierdie onderwaterrivier. Dit sal kan verklaar hoekom geen oorblyfsels van verdwene skepe op die oppervlakte gevind is nie.
Tweedens is dit ook ’n gebied,wat juis vanweë die sterk onderwaterstroom,bekend is vir reuse fratsbranders. Hierdie branders kan skielik uit die niet verskyn en skepe verswelg, voordat enige SOS uitgestuur kan word. Dit gebeur so vinnig dat geen mens betyds kan reageer nie, vandaar die geheimsinnige verdwynings, sonder taal of tyding. Dus is dit ook heel verklaarbaar.
Die derde aspek is die geheimsinnige verdwynings van vliegtuie, veral die tragiese verhaal van Eskader 19 in 1945. Hierdie eskader van vyf torpedobomwerpers van die VSA-vloot, was op ’n roetine oefenvlug uit en het nooit teruggekeer nie. Na vele ondersoeke en opvolg van inligting, is tot die gevolgtrekking gekom, dat die eskaderleier die vliegtuie verkeerd gelei het. Dieselfde aand wat hulle verdwyn het, het drie radarpunte elk vyf ongeïdentifiseerde vliegtuie op hul skerms waargeneem. Almal het waargeneem die vliegtuie was in ’n westelike rigting oppad en nie oos oor die see nie. Die vermoede is dat almal in die Okefenokeemoeras geval het. Dus was menslike faktore en ’n tekort aan brandstof,die oorsaak van hierdie misterie.
Daar is nog heelwat onopgeklaarde vrae oor hierdie deel van die wêreld,maar wetenskap bewys weer eens daar is niks sinister of bo-natuurliks op moeder aarde nie. Dis ons menslike breintjies,wat al hierdie dinge skep! Maar bygesê: dit maak die lewe interessant.
Groetnis
Perdebytjie


Kommentaar
Ek stem saam met jou. Die argument wetenskap vs religie dra niks by tot die wetenskap nie, maar tog is dit interessant. Wat is lekkerder as spookstories om 'n kampvuur?