Westelike Aandhemel gedurende 2013

  • 11

Die hemelruim in die jaar 2013 was tot dusver opwindend met die asteroïdes wat hier by die aarde verbygeskuur het en die onverwagse meteor wat die Russe skrik op die lyf gejaag het. Die komeet PanSTARRS (C/2011 L4), was ongelukkig nie baie goed uit die Suidelike Halfrond sigbaar nie maar het nie teruggehou toe dit die hemelruim bo die noordelike halfrond betree het nie. Kyk gerus na die WOW-foto wat op 15 Maart 2013 geneem is met die komeet in die hemelruim bo die verligte kasteel Hohenzollern naby Stuttgart. 

Sterrekykers kan voorts nog uitsien na ’n pragtige vertoning van Venus as aandster gedurende 2013 met verskeie konstellasies van die Sodiak op die agtergrond.

Met behulp van die programmatuur Starry Night Pro; Paint Shop Pro en Windows Live Moviemaker het ek meegaande animasie aanmekaargeflans om die westelike aandhemel soos daagliks om 20:00 vir die tydperk 1 April 2013 tot 31 Desember 2013 te reflekteer. Afgesien van die konstellasies van die Sodiak wat ek duidelik gemerk het, is Orion — April tot Mei — en die Suiderkruis — Julie en Augustus, ook duidelik herkenbaar. As voorgrond het ek ’n foto gebruik wat op die grens van die Khomas Hochland en die Namibwoestyn geneem is. Die verloop van die jaar word links bo, aangedui. Venus sal teen die einde van die jaar vinnig in die weste begin sak en uit die aandhemel verdwyn om later in 2014 weer as die môrester te verskyn.

Die animasie kan vanselfsprekend op enige stadium tydelik tot stilstand gebring word vir beter besigtiging.

Panda

  • 11

Kommentaar

  • Daar is ook 'n program genaamd Stellarium, wat mens gratis van die internet kan aflaai, wat heel goed werk. Die PanSTARRS-komeet was van hier af sigbaar, maar ek hom misgeloop a.g.v. voortdurende wolkbedekking vir die paar dae wat hy sigbaar was. 

     
    Jupiter is op die oomblik in die vroeë aandhemel te sien (op die oomblik in die konstellasie Taurus) en altyd die moeite werd om met 'n verkyker of klein teleskoop te bekyk. Tensy jou naam Kobus de Klerk is, is sy vier grootste mane maklik sigbaar. En bekyk dan sommer die maan ook: selfs deur 'n doodgewone verkyker is die groter kraters maklik sigbaar (veral hier rondom halfmaan), en deur 'n klein teleskoop is dit 'n asemrowende gesig. 
     
    Venus is interessant om deur 'n kelin teleskoop te bekyk omdat die skyngestaltes (vol Venus, half-Venus, kwart-Venus, sekel-Venus ens.) sigbaar is. Wanneer Venus nou aandhemel toe kom is hy vol, maar so week of twee voor hy die aandhemel verlaat is die sekel-Venus selfs deur 'n verkyker sigbaar, en baie maklik te sien deur 'n klein teleskoop.
     
     
  • Panda

    Dankie man - weereens uiters leersaam. Ek hou van die musiek.

    Net jammer sekere mense beskou dit alles as optiese ulisies!

    Groetnis
    Thomas

  • Panda, dis bedonnerd!  Jy's 'n yster!
    Het jy een dag per maand gekies?  Hoekom ek vra is omdat die maan elke keer in een van sy kwartiere is lyk dit my, daars byvoorbeed nie een volmaan nie.
    Wat my ook opval is dat, soos die tekens van die sodiak (diereriem soos ek ook al gehoor het) sak in die weste, styg die maan en venus in die weste.  Is dit as gevolg van 'n stroboskopiese effek (soos die wiele van 'n wa agteruit draai in 'n Cowboyfliek)?  Terloops, dit is wat my ook laat dink dat jy vir elke maand 'n spesifieke dag gekies het.
    Interessant is dat in September die sekelmaan regdeur Venus beweeg, amper soos in 'n Pacman-speletjie.  Ek wonder dikwels of dit is waar die Islamteken vandaan kom.
    Groetnis

  • Jan Rap:

     
    Panda skryf in sy inleiding dat die animasie bestaan uit 'n daaglikse blik op die westelike aanhemel vir die jaar. Hy wys ons dus elke aand, nie net een per maand nie. Die rede waarom die maan nooit vol voorkom nie is omdat ons hom hier in die vroeë, westerse aanhemel sien: vir die maan om vroegaand in die weste te wees moet hy so half tussen ons en die son wees en kan dus nooit vol wees nie. 
     
    Mens moet hier maar 'n prentjie gaan teken: gesien soos vanaf 'n punt ver bo die son se noordpool, beweeg die aarde (en ander planete) anti-kloksgewys rondom die son (en die maan anti-kloksgewys rondom die aarde, wat selfs anti-kloksgewys om sy eie as draai). Dit verklaar waarom die maan lyk asof hy aand vir aand styg in die weste, en die konstellasies weer asof hulle elke aand bietjie verder sak (of vroeër opkom, as mens oos kyk!). Bietjie moeilik om dit sonder 'n diagram te verduidelik!
     
    Dit is moontlik dat die maan in September dalk reg voor Venus gaan verbybeweeg, maar volgens my eie sagteware sal ons dit ongelukkig nie van hier kan sien nie. Goeie vraag of dit dalk is waar Islam se sekelmaan en ster vandaan kom... 
     
     
  • Barianvds  — My poging om die PanSTARRS te sien was nie baie suksesvol nie. Ek dink die Noordelike Halfrond was hierdie keer bietjie voorgetrek.

    Jupiter is ook in die animasie in Taurus te sien alhoewel ek hom nie spesifiek geïdentifiseer het nie. Dié is gewoonlik op sy beste sigbaar wanneer dit saans in die ooste, d.w.s. in opposisie met die son, sigbaar is. Die bewegings van die vier Galileaanse mane is altyd opwindend omdat hulle aansienlik vinniger as ons eie maan wentel. Ek het al baie ure aanmekaar gesit om hulle dop te hou. Venus se fases sal veral teen die einde van die jaar en vroeg aanstaande jaar ook weereens vir ’n skouspel sorg.

    Ek het vir my 'n ruimtespieël gebou waarop ek my verkyker gemonteer het en dit werk wonderlik omdat dit al die stres uit die nek en die bewe van die verkyker haal en ek kan dit baie sterk aanbeveel. Dit keer nou wel die beelde onderstebo maar wie gee nou daarvoor om want uit die Noordelike Halfrond is die konstellasies en die maan in elkgeval vir ons onderstebo en andersom.

    Dit moet ’n spesiale soort spieël wees wat aan die voorkant blink gemaak is. In Engels word dit ’n ‘front surface mirror” genoem. Ek weet ongelukkig nie wat die Afrikaanse woord daarvoor is nie. Ek wou 'n foto van die ruimtespieël plaas maar kan dit nie onder kommentaar doen nie.

    Voorspoed en geniet die sterre.

    Panda

  • Panda: Ek sou graag 'n foto van jou ruimtespieël wou sien! Jy kan dit altyd oplaai na 'n plek soos   http://imgur.com/ en dan bloot die skakel plaas. 

     
    Jy is reg: Jupiter is op sy beste as hy vroegaand in die oostelike hemel is. Maar hy is groot genoeg dat hy omtrent enige tyd 'n skoupel is, veral natuurlik danksy die optiese illusies wat altyd rondom hom gesien kan word. 🙂
     
    Met Mars is dit min of meer verpligtend dat hy in opposisie moet wees, ten minste as jy net 'n klein teleskoop het. 
     
     
     
  • Jan Rap,

    Dankie, vir jou kommentaar en vrae. Brianvds het dit so mooi verduidelik dat ek eintlik niks hoef en kan byvoeg  nie en soos hy uitgewys het, is ’n volmaan saans in die weste heeltemal onmoontlik.  Gaan werk dit gerus vir jouself uit. Wanneer die maan saans in die weste is, sal dit altyd ’n sekelmaan in een of ander stadium wees. Let ook op dat by ’n sekelmaan die gedeelte van die maan wat nie deur die son verlig word nie — die nag gedeelte dus — altyd effens verlig is, vir dieselfde rede as wat ’n volmaan die aarde se donker kant in die nag verlig en namate die maan groei neem die verskynsel wat ons aardskyn (“earth shine”)  neem af sodat wanner die maan die fase van eerste kwartier bereik, daar geen teken meer is van die aardskyn op die maan is nie.

    Die animasie wys die aandhemel in die weste soos om 20:00 daagliks vanaf 1 April tot 31 Desember 2013. Die meter in die linkerkantse hoek bo van die animasie, dui die verloop van die jaar aan. Die rede waarom die konstellasies na die weste toe sak, is die gevolg van die aarde wat om die son wentel en die rede waarom Venus bv. in die weste bo die horison uitstyg terwyl die konstellasies sak, is die gevolg van Venus se omwenteling om die son. In die stadium net voor dit tussen die aarde en die son deur beweeg sal dit vinniger as die konstellasies begin sak en kort daarna het jy die Môrester in die oggend in die ooste. Met ’n verkyker sal jy die fases van Venus waarna Brianvds verwys, voor en na die oorgang  van Aand- na Môrester, duidelik kan waarneem. En as jy presies weet waar om te kyk sal jy vir Venus in daardie stadium in die helder daglig kan sien.

    Groete

    Panda

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top