Wêreldwyd: "’n Viering van boeke is ’n viering van kultuur"

  • 0

.....

“Met die onlangse/huidige situasie met COVID-19 dink ek baie mense het weer nuwe waardering vir lees gekry en die towerkrag wat boeke het om jou verbeelding na ’n ander wêreld te neem terwyl jou lyf by die huis vasgekeer sit.”  – An-Mari Fouché

.....

Wêreldboekdag word jaarliks Wêreldwyd op 23 April 2020 gevier ter bewusmaking van die belangrikheid van lees en boeke in die moedertaal. Die ATR se Merlyn van der Rheede het met Shawna-Leze Meiring, An-Mari Fouché en Nandi Lessing-Venter van LAPA Uitgewers gesels oor dié dag.

MvdR: Wêreldboekdag word op 23 April 2020 gevier, waarom dink jy is dit so ’n belangrike dag?

AF: Wêreldboekdag is belangrik, want boeke is belangrik, en om verskeie redes. Lees het ’n enorme positiewe effek op kinderontwikkeling en ontwikkel taalvaardighede, begrip, kritiese denke en wakker ook die verbeelding aan. Boeke help mense om die wêreld op ander maniere te ervaar en vanuit ander perspektiewe te sien en so ontwikkel kinders van ’n jong ouderdom af empatie vir ander en ’n begrip vir belangrike konsepte soos gelykheid. Behalwe vir sulke vaardighede wat ontwikkel word is boeke ook ’n ervaring, ’n ontsnapping, ’n ontdekking. Met die onlangse/huidige situasie met COVID-19 dink ek baie mense het weer nuwe waardering vir lees gekry en die towerkrag wat boeke het om jou verbeelding na ’n ander wêreld te neem terwyl jou lyf by die huis vasgekeer sit.

Om al hierdie dinge te vier is van baie groot belang.

MvdR: Waarom dink jy is dit belangrik dat ons in Suid-Afrika ook hierdie dag vier? 

AF: Suid-Afrika het van die swakste geletterdheidsyfers in die wêreld. Ek glo dat, deur boeke te vier, kinders aangemoedig sal word om meer te probeer lees. Wêreldboekdag gee ons ook ’n fantastiese geleentheid om die groot verskeidenheid fantastiese skrywers en boeke wat ons land het te vier, en ’n viering van boeke is inderdaad ’n viering van kultuur – iets waaraan Suid-Afrika beslis nie ’n tekort het nie.

MvdR: Een van die groot probleme wat ons tans in ons land ervaar, is dat baie kinders nie toegang tot boeke het nie. Wat dink jy, hoe kan mens hierdie probleem oorkom? Verder, dink jy dat groter toegang tot boeke kinders sal aanmoedig om te lees? 

NLV: Kinders in arm gebiede is afhanklik van boekskenkings en voorbeelde van rolmodelle wat ’n liefde vir lees by hulle kan kweek. Boekklubs kan in hierdie gebiede gestig word en kinders kan sodoende gemotiveer word om boeke te lees waarin hulle belangstel en wat hulle aan leesplesier sal blootstel. Vrywilligers wat vir kinders boeke kan voorlees sal ook kinders se leesplesier aanmoedig. Tydskrifte, koerante en boeke kan ook aan gemeenskapsinstansies soos klinieke en kerke geskenk word waar dit aan kinders uitgedeel kan word of waar kinders dit in ’n veilige omgewing kan lees. (Uit ’n gesprek tussen Nandi Lessing-Venter en Estelle Kruger op LitNet)

Groter toegang tot boeke sal beslis kinders se leeslus aanwakker.

MvdR: Watter maniere bestaan daar om kinders se leeslus aan te wakker? 

NLV: In ’n poging om kinders se leeslus en -waardering aan te moedig, is dit nodig om die inligtings- en leesbehoeftes te verstaan. Dit is waardevol om ’n positiewe gesindheid by leerders ten opsigte van leesgeletterdheidsvaardighede te ontwikkel. ’n Liefde vir lees moet by kinders gekweek word, omdat dit beide hulle leesvaardighede verbeter en hulle leeslus aanwakker.

Wanneer kinders gemotiveerd is om te lees, is hulle geneig om die leesproses te geniet en te verstaan en het hulle vertroue in hulle vermoëns om te lees. Van daar ontwikkel kinders die innerlike waardering vir lees, wat hulle in staat stel om met geesdrif en nuuskierigheid te lees en krities te dink deur middel van die uitdagings van die teks voor hulle. Lees is veel meer as bloot net ’n kognitiewe proses. Die affektiewe komponent van die leesproses is ewe belangrik. Rolspelers soos ouers en onderwysers moet beide die kognitiewe en die affektiewe komponente van die leesproses in gedagte hou.

.....

“Die verskaffing van gebalanseerde boekversamelings op alle terreine van belangstelling is noodsaaklik vir leesbetrokkenheid vir beide niefiksie- en fiksieboeke wat gebruikers self kies om te lees.”  – Nandi Lessing-Venter 

.....

Deur gebruik te maak van beide ekstrinsieke en intrinsieke wyses waarop kinders geleer of gemotiveer word om te lees, kan rolspelers die affektiewe komponent van die leesproses bevorder. Veral die intrinsieke motivering van kinders moet gestimuleer word, want hierdeur word daar op hulle unieke en individuele belangstellings, behoeftes, aanlegte, persoonlikhede en leerstyle gekonsentreer.

Wat verder van uiterse belang is, is dat rolspelers, soos ouers en onderwysers, moet besef dat lees die kernvaardigheid van kinders se latere prestasies is (Snyman 2006). Alle rolspelers wat belang by die kind en die gedrukte media het, behoort kinders se leesbehoeftes en -voorkeure in ag te neem.

Humor word voorgestel as ’n moontlike sleutel tot motivering, bevrediging van die kind se leesbehoeftes, kognitiewe styl en unieke persoonlikheid.

Foto: Pixabay.com

Kennis oor humor, die fases van humorontwikkeling en humorsin kan van besondere waarde wees tydens die fasilitering van kommunikasie vir rolspelers soos terapeute, onderwysers en ouers en verdien verdere ondersoek (Lessing-Venter & Snyman, 2017).

MvdR: Daar is ’n tekort aan boeke in ons inheemse tale. Hoe kan ons die gebruikers van inheemse tale bewus maak van die belangrikheid van boeke?

NLV: Navorsers het ’n aantal faktore geïdentifiseer wat ’n rol speel in die motivering om te lees, insluitende selfkonsep en waarde van lees, keuse, tyd spandeer om te praat oor boeke, tipes teks beskikbaar en die gebruik van aansporing.

Rolspelers, soos die ATR, kan moontlik negatiewe faktore verminder en leesmotivering aanmoedig deur aktiwiteite voor te stel om ’n positiewe groepdinamika te bou deur gebruikers van inheemse tale in te sluit by die keuse van leesmateriaal en aktiwiteite wat gepas is vir die belange van die gebruikers. Boekvoorlesing en -bespreking is ook effektiewe maniere om leesbetrokkenheid aan te moedig. Wanneer ’n teks voorgelees word, stel dit gebruikers van inheemse tale in staat om belangrike leesstrategieë en -gedrag te modelleer.

.....

“Ek dink meer mense sal in plaaslike tale skryf as daar eerstens meer skrywers is wat opgelei is oor hoe om goed te skryf. Hoe meer skrywers, hoe meer stories.” 

.....

Die verskaffing van gebalanseerde boekversamelings op alle terreine van belangstelling is noodsaaklik vir leesbetrokkenheid vir beide niefiksie- en fiksieboeke wat gebruikers self kies om te lees. Om boeke vir selfseleksie beskikbaar te stel, opwinding en liefde vir lees te deel, ’n gebalanseerde boekversameling te bou, ’n passie vir lees te openbaar en om belonings te bied wat die waarde van lees demonstreer, is net ’n paar eenvoudige voorstelle wat die liefde vir lees kan aanmoedig vir gebruikers van inheemse tale.

MvdR: Ons weet dat moedertaalonderrig baie belangrik is en dat dit veral belangrik is dat skoolkinders in hul moedertaal leer en lees, gewoon omdat die vormingsjare belangrik is vir hul begripsvermoë. Hoe kan skrywers aangemoedig en gemotiveer word om boeke in al ons inheemse tale te skryf?

SM: Moedertaalonderrig is vir seker belangrik – en bly ook belangrik ná kinders se vormingsjare. Ek sou sê dat hierdie besef ook by onder andere ouers, onderwysers en leerders moet posvat. Ons moet nie inkoop in die idee dat Engels jou verder gaan bring omdat dit belangrik is as “besigheidstaal” nie. Volgens my veronderstel so ʼn siening dat jou moedertaal of plaaslike tale, nie so belangrik en “waardig” is as groter tale, soos Engels, nie.

Ek dink meer mense sal in plaaslike tale skryf as daar eerstens meer skrywers is wat opgelei is oor hoe om goed te skryf. Hoe meer skrywers, hoe meer stories. Tweedens sal dit skrywers ook help om kinders – ongeag hul taal – se leesvoorkeure en -belangstellings na te vors. Kinders wil nie boeke lees wat nie regtig iets met hul leefwêreld te doen het nie. As kinders van ʼn boek hou en dit verkoop goed, sal dit natuurlik beteken die skrywer kry ’n inkomste.

MvdR: Hoe kan ons ’n bewustheid skep en belangstelling aanwakker by leerders om in hul moedertaal te lees?

SM: LAPA het nog altyd geglo dat lees lekker moet wees. Humor staan in hierdie opsig voorop. Kyk maar watter prettige boeke het skrywers soos Jaco Jacobs, Fanie Viljoen en Theresa van Baalen al in Afrikaans geskryf. ʼn Lekkerleesboek bevat ook dikwels ʼn storie waarmee lesers kan identifiseer. Boeke wat te veel lessies bevat, boei kinders nie. Die sukses wat lekkerleesboeke het, praat vir sigself. Dit is boeke wat kinders aan die lees kry en uiteindelik van hulle lewenslange lesers kan maak.

Kinders kan dus op die uitkyk wees vir boeke wat vir húlle interessant (en snaaks) klink, en hopelik sal ouers hierdie boeke koop.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top