Wenners van pryse by Clover Aardklop Nasionale Kunstefees aangekondig

  • 0

Twee produksies het uitgetroon tydens die oorhandiging van pryse op vanjaar se Clover Aarklop Nasionale Kunstefees – die klassieke Moeder Moed en haar kinders en die eietydse Son. Maan. Sterre. 

Moeder Moed en haar kinders het die Clover Soveel Beter-prys vir die beste aanbieding (R60 000) ingepalm en Jerry Mofokeng het die OFM-prys vir beste regisseur (R15 000) gewen.

DSC_0136

Dit het ook duidelik geblyk dat Laurika Rauch se teruggekeer na Aardklop, ná 'n afwesigheid van nege jaar, met ope arms en opgewondenheid deur feesgangers ontvang is. Nie as ek sing nie – Laurika Rauch het die Clover Soveel Beter-prys vir gewildste aanbieding, ter waarde van R40 000, gewen.

Son. Maan. Sterre. het weggestap met die Clover Soveel Beter-prys vir beste akteur en die Clover Soveel Beter-prys vir beste aktrise, albei ter waarde van R15 000. Wilhelm van der Walt het dit gekry vir sy vertolking van Ollie en Tinarie van Wyk Loots het dit gewen vir haar vertolking van Megan, sowel as vir haar vertolking van Mariaan in Hemelruim

IMG_4546

Die ATKV Aartvark-prys vir grensverskuiwende werk is toegeken aan die woordkunsprojek Byderhand, wat aangebied is in die botaniese tuin, by die Boeke-oase en by die Hoër Tegniese Skool Potchefstroom. Die prys is R15 000 en 'n beeld van Sanna Swart.

Saam met Moeder Moed en haar kinders is nog twee stukke benoem in die kategorie beste aanbieding: Son. Maan. Sterre. en People Are Living There.

Moeder Moed is deur die beoordelaars beskryf as 'n produksie sonder weerga en wat met flair al die registers trek – dié van kabaret, drama, patos en komedie; ook ten opsigte van dekor en kostuums en spel wat deurgaans goed is. 

Geskryf as Mutter Mut und ihr Kinder deur die Duitse dramaturg Bertolt Brecht tydens die uitbreek van die Tweede Wêreldoorlog, verbeeld dié drama die mens se tweeslagtige houding jeens oorlog. Moeder Moed is die smous wat met haar wa en drie kinders munt slaan uit die oorlog en wat terselfdertyd diep deur die oorlog gekwes word. Saartjie Botha het die vertaling gedoen.

Volgens die beoordelaars blaas Mofokeng nuwe lewe in 'n klassieke stuk. Waar Brecht gefokus het op historiese konflik bied Mofokeng 'n blik op die universaliteit van die verskrikking van oorlog. Dit bewerkstellig hy onder meer deur 'n klankbaan wat 'n parallelle werklikheid skep – dié van grommende helikopters, runnikende perde en wegtrekkende motors. Hy skep poëtiese momente wat 'n mens op 'n visuele vlak bybly.

Saam met Mofokeng was die ander benoemdes in dié kategorie André Odendaal (People Are Living There) en Christiaan Olwagen (Son. Maan. Sterre.).

Wat die beoordelaars veral beïndruk het van Van der Walt is die manier waarop hy in Son. Maan. Sterre. oop en bloot ongesiens sy karakter ontwikkel van voorbeeldige, dog gefolterde jong man tot 'n ysingwekkende kindermolesteer. Dis die gefikseerde glimlaggie teen die einde van die produksie wat jou snags wakker sal laat lê...

Sy medebenoemdes was Francois Jacobs (People Are Living There) en André Roothman (Moeder Moed en haar kinders). 

Volgens die beoordelaars slaag Van Wyk Loots daarin om 'n besonder veeleisende rol in sowel Son. Maan. Sterre. en Hemelruim met groot gemak te vertolk. In haar vertolking van die rol van Mariaan in Hemelruim wys sy dat sy op die oog af moeiteloos van toneel tot toneel van gedaante kan verwissel: van guitige verleidster tot oorstelpde verloofde tot sterwende kankerlyer.

DSC_0302

In Byderhand, 'n projek aangebied deur die Vakgroep Skryfkuns aan die NWU, kry poësie, kort- en kinderverhale en 'n spookstorie gestalte in 'n digitale era buite die raamwerk van woorde op papier. Bowenal word die omgewingspesifieke moontlikhede wat digitale tegnologie bied ten beste aangewend. Lesers kry die geleentheid om interaktief in kontak te tree met skrywers se werk – om die werk te lees, te hoor en in sommige gevalle na animasie en toonsettings van die werk te kyk en te luister. 

Die paneellede, uitgesluit vir die gewildste aanbieding en vir die Mama Afrika-prys, was Diane de Beer, Theo Kemp, Danie Marais, Johan Myburg en Deborah Steinmair. 

FOTOGRAAF: Anton de Jager

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top