Wenners van Nasionale Skryfwedstryd van Die Bloemfonteinse Skrywersvereniging, Skrywers 2015 is bekend!

  • 0

Die Bloemfonteinse Skrywersvereniging (BSV) se jaarlikse nasionale skryfwedstryd, Skrywers 2015, vanjaar weer geborg deur die Fakulteit Geesteswetenskappe van die Universiteit van die Vrystaat en gedeeltelik geadministreer deur die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum (Naln), het vanjaar die derde meeste inskrywings ooit (kort onder ’n duisend) uit alle provinsies van Suid-Afrika en van oorsee gelok, wat dui op die nasionale en selfs internasionale profiel van die skryfwedstryd. Volgens Corlietha Swart, voorsitter van die Bloemfonteinse Skrywersvereniging (BSV), is dit bemoedigend om te ervaar hoe die getal deelnemers aan hierdie tradisieryke Afrikaanse skryfwedstryd, wat al sedert 1979 jaarliks gereël word, bly styg - veral die skole- en studentegetalle. Dit is duidelik dat hierdie skryfwedstryd ’n baie belangrike bydrae lewer om ’n belangstelling in kreatiewe skryfkuns in Afrikaans onder oud en jonk te bevorder. Die BSV kan met trots terugkyk na ’n hele lys gerekende en bekroonde skrywers wie se sluimerende skryftalent aanvanklik deur die BSV-skryfwedstryd uitgewys en daarna met ’n slypskool ontwikkel is.

Altesaam R15 000 se pryse is vanjaar deur die Fakulteit Geesteswetenskappe van die UV uitgeloof en vyf BSV-wisseltrofeë vir skole was op die spel. Hoërskool DF Malan het vanjaar vier wisseltrofeë, asook die prys vir die skool met die meeste inskrywings, ingepalm – ’n jarelange rekord waarop hul trots is en wat moeilik deur ander skole geëwenaar gaan word met Lara de Bruijn, gr 12 van Hoërskool DF Malan, as die algehele skole-prosawenner. Hoërskool Jim Fouché, Bloemfontein het, soos verlede jaar, die Poësie-skoletrofee ingepalm met ’n eerste en tweede plek vir Jemima Meyer (gr 12) in poësie. Die aanmoedigingsprys vir Niemoedertaalsprekers is verower deur die Xhosasprekende Thandolwethu Gulwa van Oranje Meisieskool, Bloemfontein (gr 12) met haar mooi suiwer Afrikaanse taalgebruik. ’n Ongewone prestasie is dat die veelsydige Leunis van Rooyen van Brixton in beide Prosa (vir reeds-gepubliseerdes), sowel as in Poësie in die Ope-afdeling pryse verower het.

Al die bekroonde inskrywings en ook die beoordelaarsverslae sal in Inkvars 2015, wat spog met ’n voorbladontwerp van Fanie Viljoen (kunstenaar en skrywer van Bloemfontein), gebundel word en op 22 Augustus 2015 bekendgestel word wanneer die pryse tydens die BSV se jaarlikse Slypskool vir Ontluikende Skrywers, gedeeltelikgeborg deur Afriforum, by Noorderbloem in Bloemfontein oorhandig word. Benewens die prysgeld en trofeë, kan die skryfwedstrydwenners ’n daglange slypskool onder leiding van die veelbekroonde en –vertaalde skrywer, Deon Meyer as deel van hul prys gratis bywoon. Beskikbare plekke vir die publiek is alreeds besig om vinnig minder te word. Belangstellendes wat die slypskool (ete en verversings ingesluit) teen R300 wil bywoon (BSV-lede betaal R160, ook as hul op slypskooldag as lid aansluit), kan gerus vir Lelani Fourie (BSV-sekretaresse) by bloemsv@gmail.com of sel. 0733883377 kontak. Inkvars 2015 kan ook hier bestel word teen R90 per eksemplaar.

Wenners van die BSV se “Skrywers 2015” is:

SKOLE-AFDELING (A):
JUNIOR AFDELING (gr 8 en 9):
1ste (R1200) en trofee: Suné van Dyk, gr 9, Hoërskool DF Malan, Bellville.
2de (R700): Jana Fauré, gr 9, Hoërskool DF Malan, Bellville.
3de (R400): Liza Hugo, gr 9, Hoërskool DF Malan, Bellville.
Eervol vermeld: Lamé van Zyl, gr 9, Hoërskool DF Malan, Bellville.

SENIOR AFDELING (gr 10 – 12):
1ste (R1 400) en trofee:  Lara de Bruijn, gr 12, Hoërskool DF Malan, Bellville.
2de (R800): Christi Barkema, gr 10, Hoërskool DF Malan, Bellville.
3de (R500): Alex Galhardo, gr 11, Hoërskool DF Malan, Bellville.
Eervol vermeld: Irene Saunders, gr 10, Hoërskool Outeniqua, George.

AANMOEDIGINGSPRYS (Niemoedertaalsprekers):
Slypskoolbywoning en R300: Thandolwethu Gulwa, (Moedertaal: Xhosa), Gr 12, Oranje Meisieskool, Bloemfontein.

ALGEHELE SKOLE-PROSAWENNER: Lara de Bruijn, gr 12, Hoërskool DF Malan, Bellville.

OPE AFDELING DS (Poësie Skole):
1ste (R1 400) en trofee: Jemima Meyer van Hoërskool Jim Fouché, Bloemfontein.
2de (R700): Jemima Meyer van Hoërskool Jim Fouché, Bloemfontein.              

OPE AFDELING B (Nog nie voorheen gepubliseer teen vergoeding nie):
1ste (R1400) en trofee: Edna Taljaard, Ekklesia.
2 de (R800): Ilse Smalberger, Kimberley.
Eervol vermeld:  Sidney Gilroy, Meyerton.

OPE AFDELING C (Voorheen gepubliseer teen vergoeding):
1ste (R1 400) en trofee: Leunis van Rooyen, Brixton.
2de (R800):  Hanté du Toit, Bainsvlei, Bloemfontein.
Eervol vermeld: Leunis van Rooyen, Brixton.

OPE AFDELING D (Poësie):
1ste (R1 400) en trofee: Lisa Deysel, Centurion.
2de (R800): Leunis van Rooyen, Brixton.             
Eervol vermeld – 2 gedigte: Leunis van Rooyen, Brixton.                       

TROFEË:

HAUM-Literêr-trofee vir skool van wenner in Junior Afdeling: Hoërskool DF Malan, Bellville.
Olivier-wisseltrofee vir skool van wenner in Senior Afdeling: Hoërskool DF Malan, Bellville.
Gerhard Beukes-wisseltrofee vir skool van algehele skolewenner: Hoërskool DF Malan, Bellville.
Vrystaat-wisseltrofee vir skool met meeste inskrywings (plus R1 000): Hoërskool DF Malan, Bellville.
Poësie Skoletrofee vir skool van wenner in poësie: Hoërskool Jim Fouché, Bloemfontein.
Wisseltrofeë vir die drie Ope-afdelings word ook aan individuele eerstepryswenners toegeken.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top