
Corlietha Swart: "En so het al die BSV-skryfwedstrydinskrywings vir 2016 gelyk voordat dit na die vier beoordelaars vir anonieme beoordeling gestuur is."
Die Bloemfonteinse Skrywersvereniging (BSV) se jaarlikse nasionale skryfwedstryd, vanjaar weer geborg deur die Fakulteit Geesteswetenskappe van die Universiteit van die Vrystaat en gedeeltelik geadministreer deur die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum (NALN), het weer vanjaar kort onder 1000 inskrywings, die tweedemeeste sedert die ontstaan van die wedstryd in 1979, uit alle provinsies van Suid-Afrika en oorsee opgelewer. Volgens Corlietha Swart, voorsitter van die Bloemfonteinse Skrywersvereniging (BSV), is dit vanjaar opvallend dat veral die Seniorskole-afdeling getalsgewys ʼn sterk groeikurwe op die grafiek vertoon – ʼn bewys dat jongmense graag kreatief skryf in Afrikaans. Wat ook opval, is dat die kompetisie in die opeafdelings baie straf is, aangesien vorige jare se wenners gereeld teen mekaar meeding. Die BSV kan met trots terugkyk na ’n hele lys gerekende en bekroonde skrywers, wie se sluimerende skryftalent aanvanklik deur die BSV-skryfwedstryd uitgewys en in baie gevalle daarna met ’n slypskool ontwikkel is - soos die gereelde BSV-wenner, Hilda Smits (van Nashville, VSA), wat onlangs as digter by Protea Boekhuis gedebuteer het en haar bundel onder by die BSV in NALN kom bekendstel het.
Altesaam R18 000 se pryse is vanjaar deur die Fakulteit Geesteswetenskappe van die UV uitgeloof en vyf BSV-wisseltrofeë vir skole was op die spel. Hoërskool DF Malan het vanjaar drie kategoriewisseltrofeë, onder andere die prys vir die skool met die meeste inskrywings, ingepalm. C&N Sekondêre Meisieskool Oranje van Bloemfontein het die Prosatrofee vir Seniors (Skole) ingepalm. ʼn Mooi prestasie is dat die Prosawenner van die Juniorafdeling (van DF Malan) aangewys is as die algehele Prosa-wenner vir skole.
Al die bekroonde inskrywings en ook die beoordelaarsverslae sal in Inkvars 2016 gebundel word en op 20 Augustus 2016 uitgereik word wanneer die pryse op die BSV se jaarlikse Slypskool vir Ontluikende Skrywers, geborg deur Afriforum, by die Noorderbloemsaal in Bloemfontein oorhandig word. Benewens die prysgeld en trofeë, kan die skryfwedstrydwenners ’n daglange slypskool onder leiding van Joan Hambidge as deel van hul prys gratis bywoon. Beskikbare plekke vir die publiek is alreeds besig om vinnig minder te word. Belangstellendes wat die slypskool teen R300 wil bywoon (BSV-lede betaal R160), of Inkvars 2016 teen R90 per eksemplaar wil aanskaf, kan Lelani Fourie (BSV-sekretaresse) by bloemsv@gmail.com of sel. 0733883377 kontak. Baie geluk aan al die 2016-wenners!
Wenners van die BSV se “Skrywers 2016” is:
SKOLE-AFDELING (A):
JUNIOR AFDELING (gr 8 en 9)
1ste (R1500) en trofee: Lisa van Niekerk, gr 9, Hoërskool DF Malan, Bellville
2de (R800): Marli Fouché, gr 8, Hoërskool DF Malan, Bellville
3de (R500): Ila Alberts, gr 8, Hoërskool DF Malan, Bellville
Eervol vermeld: Mila de Villiers, gr 8, Hoërskool DF Malan, Bellville
SENIOR AFDELING (gr 10 – 12)
1ste (R1 500) en trofee: Louiza Combrinck, gr 12, C+N Sekondêre Meisieskool Oranje, Bloemfontein
2de (R800): Mieke Botes, gr 12, Hoërskool DF Malan, Bellville
3de (R500): Almé Engelbrecht gr 11, Hugenote Hoërskool, Wellington
Eervol vermeld: Christine Viviers, gr 12, Hoërskool De Kuilen, Kuilsrivier
ALGEHELE SKOLE-PROSAWENNER: Lisa van Niekerk, gr 9, Hoërskool DF Malan, Bellville.
OPE AFDELING DS (Poësie Skole):
1ste (R1 500) en trofee: Ayden Kruger, Hoër Meisieskool Paarl, Paarl
2de (R800): Mieka Loubser, gr 12, Hoërskool DF Malan, Bellville
3de (R500): Ayden Kruger, Hoër Meisieskool Paarl, Paarl
OPE AFDELING B (Nog nie voorheen gepubliseer teen vergoeding nie):
1ste (R1500) en trofee: Brechje Visagie, Christiana
2 de (R900): Catharina Müller, Kaapstad
3 de (R500): Wikkie Burger, Port Elizabeth
Eervol vermeld: Hannes Visser, Oudtshoorn
OPE AFDELING C (Voorheen gepubliseer teen vergoeding):
1ste (R1 500) en trofee: Louis Nell, Bloemfontein
2de (R900): Leunis van Rooyen, Brixton
Eervol vermeld: Leunis van Rooyen, Brixton
OPE AFDELING D (Poësie):
1ste (R1 500) en trofee: Ruan Fourie, Potchefstroom
2de (R800): Marthé McLoud, Strand
3de (R500): Nikita van den Heever, Muldersdrift
AANMOEDIGINGSPRYS: NIEMOEDERTAALSPREKERS:
R500: Thandolwethu Gulwa (Xhosasprekend), Phelandaba
TROFEË:
HAUM-Literêr-trofee vir skool van wenner in Junior Afdeling: Hoërskool DF Malan, Bellville
Olivier-wisseltrofee vir skool van wenner in Senior Afdeling: C+N Sekondêr Meisieskool Oranje, Bloemfontein
Gerhard Beukes-wisseltrofee vir skool van algehele skolewenner: Hoërskool DF Malan, Bellville
Vrystaat-wisseltrofee vir skool met meeste inskrywings (plus R1 000): Hoërskool DF Malan, Bellville
Poësie Skoletrofee vir skool van wenner in poësie: Hoër Meisieskool Paarl, Paarl
Wisseltrofeë vir die drie Ope-afdelings word ook aan individuele eerstepryswenners toegeken.


Kommentaar
Kyk, Afrikaans is só in aanvraag en presteer uitsonderlik - waar kom die Universiteite se sratistiek vandaan dat Engels die hoofkeuse is ... nie onder talentvolle mense nie ...