Wenners van die nasionale skryfwedstryd van Die Bloemfonteinse Skrywersvereniging (BSV) bekend

  • 2

Die Bloemfonteinse Skrywersvereniging (BSV) se jaarlikse nasionale skryfwedstryd is vir die tiende agtereenvolgende jaar met R18 000 geborg deur die hoofborg, die Fakulteit Geesteswetenskappe van die Universiteit van die Vrystaat, vanjaar ook met ’n bydrae deur die Departement Afrikaans en Nederlands, Duits en Frans van die Universiteit van die Vrystaat (UV). Die BSV en die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum (NALN) is al vir dekades vennote en die BSV-skryfwedstryd word jaarliks gedeeltelik geadministreer deur NALN, wat die pos ontvang. Vanjaar was daar weer ’n goeie oes van kort onder 1 000 inskrywings. Dis die grootste skryfwedstryd van sy soort sedert sy ontstaan in 1979 met inskrywings uit alle provinsies van Suid-Afrika, lande in Afrika en oorsee. Volgens Corlietha Swart, voorsitter van die BSV, getuig die uitslae vanjaar van ’n stryd tussen gedugte oud-wenners, met ’n paar splinternuwe “buiteperde” tussenin. Dit is vanjaar ook opvallend dat veral die Junior- en Senior skole-afdeling in Prosa, asook die Skole-Poësie getalsgewys ’n sterk groeikurwe op die grafiek vertoon — ’n bewys dat jongmense graag kreatief skryf in Afrikaans.

Hier ontvang Corlietha Swart (Voorsitter: Bloemfonteinse Skrywersvereniging) ’n dag se wedstrydpos vanaf Annelien Diedericks [Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum (NALN)]. Let op Hoërskool DF Malan se boks vol inskrywings vanjaar!

Die BSV kan met trots terugkyk na ’n hele lys gerekende en bekroonde skrywers, wie se sluimerende skryftalent aanvanklik deur die BSV-skryfwedstryd uitgewys en in baie gevalle daarna met ’n slypskool ontwikkel is — Fanie Viljoen, Jaco Jacobs, Carina Diedericks, Piet Steyn, Japie Bogaards, Sonja Loots, Ruan Fourie en die gereelde BSV-wenner, Hilda Smits (van Nashville, VSA). Hilda Smits het in 2016 as digter by Protea Boekhuis gedebuteer en haar bundel by die BSV in NALN kom bekendstel en is in 2017 daarvoor vereer met die Ingrid Jonkerprys. Ons weet ook van een van ons gereelde wenners wat binnekort debuteer. Alle eer aan die vier onafhanklike en kundige beoordelaars, wat jaarliks met anonieme beoordeling een na die ander skrywer met potensiaal om te debuteer, trefseker uit honderde BSV-inskrywings identifiseer.

Altesaam R18 000 se pryse is vanjaar uitgeloof en vyf BSV-wisseltrofeë vir skole (en drie ope-trofeë) was op die spel. Hoërskool DF Malan het vanjaar twee kategoriewisseltrofeë, die Gerhard Beukes-wisseltrofee vir die skool van die algehele skolewenner, asook die prys vir die skool met die meeste inskrywings, ingepalm. Die Skole Poësie-wisseltrofee is verower deur ’n leerder van Hoërskool Menlopark.

Vanjaar se inskrywings

Al die bekroonde inskrywings en ook die beoordelaarsverslae sal in Inkvars 2018 gebundel word en op 25 Augustus 2018 uitgereik word wanneer die pryse op die BSV se jaarlikse Slypskool vir Ontluikende Skrywers, vanjaar met die nimlike Dana Snyman, by die Noorderbloemsaal in Bloemfontein oorhandig word. Benewens die prysgeld, sertifikate, publikasies en trofeë, kan die skryfwedstrydwenners die daglange Dana Snyman-slypskool as deel van hul prys gratis bywoon. Beskikbare plekke vir die publiek is alreeds besig om vinnig minder te word. Belangstellendes wat die daglange slypskool teen R420 wil bywoon (BSV-lede betaal R270), of Inkvars 2018 teen R100 per eksemplaar wil bestel, kan die BSV by bloemsv@gmail.com kontak, of ’n privaatboodskap op die BSV se Facebookblad laat.

Wenners van die BSV se Skrywers 2018:

Skole-afdeling (A):

Junior afdeling (grade 8 en 9)

1ste (R1 500) en trofee: Ninah Müller, gr 8 Hoërskool DF Malan, Bellville
2de (R800): Suné van der Walt gr 8, Hoërskool DF Malan, Bellville
3de (R500): Solomon van der Westhuizen, gr 8, Hoërskool DF Malan, Bellville
Eervol vermeld: Alexander  Smith, gr 8, Hoërskool DF Malan, Bellville        

Senior afdeling (grade 10 — 12)

1ste (R1 500) en trofee: Luceel Beukes, gr 12, Hoërskool DF Malan, Bellville
2de (R800): Le Roux van der Merwe, gr 12, Hoërskool DF Malan, Bellville
3de (R500): Marli Rautenbach, gr 12, Oranje Meisieskool, Bloemfontein
Eervol vermeld: Anja van Heerden, gr 12, Hoërskool DF Malan, Bellville

Algehele skole-prosawenner: Gerhard Beukes-wisseltrofee

Luceel Beukes, gr 12, Hoërskool DF Malan, Bellville

Ope afdeling DS (Poësie Skole):

1ste (R1 500) en trofee: Karmen Wiid, gr 11, Hoërskool Menlopark, Menlopark
2de (R800): Dyllan Niehaus, gr 11, Hoërskool Menlopark, Menlopark
3de (R500): Carla van Wyk, gr 12, La Rochelle Hoër Meisieskool, Paarl
Eervol vermeld: Zané Steyn, gr 11, Hoërskool Menlopark, Menlopark

Ope afdeling B (Nog nie voorheen gepubliseer teen vergoeding nie):

1ste (R1 500) en trofee: Rina Bester, Rustenburg
2 de (R900): Estelle Nagel, Brackenfell
3 de  (R500): Ben le Roux, Despatch
Eervol vermeld: Vickey de Jager, Ohrigstad

Ope afdeling C (Voorheen gepubliseer teen vergoeding):

1ste (R1 500) en trofee: Evert Louw, Oatlands
2de (R900): Leunis van Rooyen, Brixton
Eervol vermeld: Leunis van Rooyen, Brixton

Ope afdeling D (Poësie):

1ste (R1 500) en trofee: Hannes Visser, Oudtshoorn       
2de (R800): Eleanor Bernard, Bethlehem
3de (R500): Carma Shaw, Brackenfell
Eervol vermeld: Simóne Vorster, Langenhovenpark, Bloemfontein

Nie-moedertaalprys —Xhosasprekend: Thandolwethu Gulwa, Grahamstad

Trofeë:

HAUM-Literêr-trofee vir die skool van die wenner in Junior Afdeling: Hoërskool DF Malan, Bellville;
Olivier-wisseltrofee vir die skool van die wenner in Senior Afdeling: Hoërskool DF Malan, Bellville;
Gerhard Beukes-wisseltrofee vir die skool van die algehele skolewenner: Hoërskool DF Malan, Bellville;
Vrystaat-wisseltrofee vir die skool met die meeste inskrywings (plus R1 000): Hoërskool DF Malan, Bellville;
Poësie-Skoletrofee vir die skool van die wenner in poësie: Hoërskool Menlopark, Menlopark.
Wisseltrofeë vir die drie Ope-afdelings word ook aan die individuele eerstepryswenners van Rustenburg, Oatlands en Oudtshoorn toegeken.

Baie geluk aan al die wenners!

  • 2

Kommentaar

  • Ek is trots Afrikaans. Dit is duidelik dat ons baie talent het. Graag sal ek wil weet wie is die wonderwerker by DF Malan en waar op aarde is die ander skole!

  • Corlietha Swart

    Mnr Gert Visser is die wonderlike dryfkrag agter die goeie deelname van volledige klasgroepe by DFM en die ander skole landwyd neem ook deel, maar baie skole besluit bv self watter een, twee of drie inskrywings die beste kans het wat hul wil stuur en neem, jammer genoeg, nie as skool deel nie. Sommige skole stuur egter soms 'n hele klas se prosa of poësie en daaroor is ek baie opgewonde - ook as niemoedertaalskole inskrywings in Afrikaans stuur. Baie skole neem egter glad nie deel nie. Die inligting is jaarliks vroeg in die jaar op ons webwerf en Facebook reeds beskikbaar en dit word ook op LitNet en ander webwerwe bekendgestel en aan die drie susterskoerante en kleiner koerant gestuur, soms in onderhoude op plaaslike radiostasies gereklameer en nasionale radiostasies kry ook die inligting. Daar word ook baie e-posreklame aan skole en instansies gestuur. Ons bestuur is meestal werkende vrywilligers en die BSV doen reeds sedert 1970 met vrywilligers alles wat hul kan om kreatiewe skryfkuns in Afrikaans te bevorder as nie-winsgewende organisasie en het 'n trotse rekord as een van die grootste en mees gerekende skryfwedstryde en slypskole van sy soort in Afrikaans wat bv met 'n wonderlike span kundige beoordelaars (soms self bekroonde skrywers) al wenners opgelewer het wat die wedstryd as wegspringblok gebruik het, soos die uiters aktiewe kinderboekskrywers, Jaco Jacobs, Fanie Viljoen, Carina Diedericks-Hugo en ook akademikus-skrywer Sonja Loots wat as matriekleerders die kompetisie gewen het en toe begin skryf het. Ook skrywers soos Piet Steyn, Ode Krige, Japie Bogaards, Dirk Winterbach, voorverlede jaar die Ingrid Jonkerpryswenner, Hilda A Smits wat die BSV-kompetisie se poësie-afdeling vir jare gedomineer het, deur ons aangemoedig is om te debuteer en toe die Ingrid Jonkerprys verower het en haar bundel uit Amerika by die BSV in NALN kom bekendstel het. Uit ons geledere is twee wenners ook verlede jaar in Nuwe Stemme 6 opgeneem. Twee van ons gereelde wenners is ook op die punt om te debuteer en een, wat reeds 'n publikasiedatum het, kom sy bundel ook vroeg volgende jaar by die BSV in NALN bekendstel. Stoffel Cilliers was vir 35 jaar lank die langsdienende voorsitter en ek is nou vir die 11de jaar as voorsitter herkies (maar is ook voltydse dosent met vele ander bedrywighede, so tyd is maar 'n kwessie). Die bestuurslede wissel van jaar tot jaar. Ons het ongeveer 190 lede met maar net so 30 lede ter plaatse wat agt byeenkomste (slypgeleenthede tussen skrywersvriende) bywoon, maar duisende Facebookvriende (waar ek gereeld plasings van mooi gedigte, geleenthede vir skrywers, ens doen) en deelnemer- en slypskoolgangervriende oor jare heen. Ek hanteer ook twee publikasies per jaar (een vir die landswye skryfwedstrydwenners en die ander 'n inhuispublikasie vir ons lede). Voorwaar 'n baie interessante opset. Dalk kan u ook daadwerklik betrokke raak by die BSV? Gaan kyk gerus na gereelde BSV-Facebookplasings vir die jongste nuus!
    BSV-groete
    Corlietha Swart

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top