Tydens die US Woordfees 2014 is die suksesvolle Sanlam | LitNet-tydskrifverhaalslypskool aangebied. So groot was die belangstelling in dié geleentheid dat heelwat voornemende deelnemers weggewys moes word.
Daar is nou goeie nuus vir almal wat nie die geleentheid kon meemaak nie. LitNet gaan vir die volgende paar weke ’n tydskrifverhaalslypskool-reeks plaas: aantekeninge van die aanbieders, asook verhale wat deur deelnemers voorgelê is.
LitNet plaas ’n verhaal van een van die deelnemers aan die slypskool: "Wegkruipplek" deur Trix Bester.
“Ma, ek ry nou. Die pad is nog lank en ek kan nie langer wag nie. ’Bye.” Jakkie, wat Jack geword het, piksoen in haar rigting op pad na die yslike motorfiets in die oprit, waar sy vriende reeds wag. Vriende wat haar nie aanstaan nie. Vriende in leerpakke, valhelms en yslike stewels en al die bybehore wat by bikers pas.
’n Klomp bikers vir vriende. Dis die laaste wat sy vir Jakkie gedroom het. Geen vaste werk nie, elke naweek een of ander rede om te vier. Met gepaardgaande oordaad te vier. Gelukkig kan sy nog nie agterkom dat hy ander middels misbruik nie. As Herman net meer tuis was om sy seun vas te vat. ’n Pa vir hom te wees, rigting te gee en nie te maak of hy ’n pel is nie. Hom nie net instop met geld en dinge wat hom verder in die verderf in help nie. Weens ’n skuldgevoel. Omdat hy nie andersins vir hom dáár is nie. Vir niemand van hulle nie.
“Right boys, ons kan maar laat waai. Die oulady is nou happy, ek het haar gegroet. Ons kan nie langer vir die outop wag nie.” Oulady. Outop. Gegroet. Is dit wat daai piksoentjie in haar rigting was? Waar kom die kind se taal vandaan? Hy wat altyd sulke mooi opstelle kon skryf. Wat gaan tog van die kind word?
“Miertjie, waarvoor is jy lus om te eet?” Haar dogter lê lusteloos op die bank en staar na die televisie. Haar oë ekstragroot in die skraal gesiggie.
“Ek’s nie honger nie Ma. En asseblief, my naam is Marié. As Ma dalk nie agtergekom het nie, ek is nou mooi groot al.”
Van waar tog al die aggressie? Haar pragtige, lewenslustige kind het die afgelope paar maande in hierdie vreemdeling voor haar verander. Sy wat Susan is, het haar heeltemal verloor. Nostalgies dink sy aan die tye saam. Fliek, inkopietogte, lekker saam uiteet terwyl hulle lag en gesels. Nou het net hierdie alewig ongedurige, alewig moeë leë dop oorgebly. Met die yslike oë wat mens nie direk kan aankyk nie. Haar altyd uitstekende punte het begin daal. Sy neem aan geen sport meer deel nie. En toe die oproep van die onderwyseres. Hulle is bekommerd oor Marié. Sy’s dikwels afwesig, en selfs al is sy in die klas, let sy nie op nie en kan sy nie konsentreer nie.
Met ’n sug draai Susan om om die telefoon te beantwoord. Herman, natuurlik. Wat wéér laat werk. Moontlik sommer oorslaap in die vertrek langs sy kantoor wat spesiaal daarvoor ingerig is. Hoe lank al glo sy hierdie storie nie meer nie. Maar wat kan sy daaromtrent doen. Die verantwoordelikheid om die gesin bymekaar te hou, berus by haar. Sy kan nie nou toelaat dat haar kinders se wêreld verder uitmekaar val nie. Maar vir haar eie behoud moet sy soms ontvlug. Vinnig neem sy die besluit.
“Marié, ek gaan ’n rukkie uit. Ouma is agter in haar kamer. Hou die deure gesluit.” Waar anders sal ouma tog wees, dink sy suur.
Sy neem haar sleutels en drasak, wat altyd gereed staan, en glip by die deur uit.
Vinnig verklee sy in die kleedkamer. Trek die sykouse glad oor haar bene en glip die hakskoene aan. Besluit om nog oogomlyner aan te sit en maak haar lippe rooi. Kyk na die vrou in die spieël. Eksoties, smeulend. Onaantasbaar.
Katvoet, uitdagend stap sy die vertrek binne. Die musiek lok haar uit. Sy lig haar ken en met ’n arrogante blik stap sy direk na die man toe. Sy swart oë smeul in hare toe hy haar teen sy lyf vas pluk. Sy regterarm omraam haar ferm. Sy linkerhand neem hare koesterend, lig dit op en strek dit stadig sywaarts terwyl hy met sy oë al met haar arm langs die beweging volg.
Stadig begin gly hulle soos een op die maat van die tango oor die vloer. Haar lyf meegevoer in die sensuele ritme van die beweging. Sy word deel van die musiek. Iets breek in haar oop. Beelde van ver plekke flits deur haar brein. Die reuk van eksotiese disse vul haar sinne en die klank van ’n vreemde tongval spoel oor haar onthou. Sy vervloei in die oomblik. En die huis van haar menswees word weer betrek.
Amper weerloos bly sy staan toe die musiek ten einde loop. Dis verby. Haar bors dein op en af. ’n Blos op haar wange. Sy voel of sy stuk vir stuk afgedop is. Soos ’n ui waarvan die lobbe een vir een verwyder is. Tot net die binneste pêrel van haar wese oorgebly het. Blink en mooi. Soos dit vroeër was. Gereed om die lewe weer nuut aan te pak.
Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter

