"Weggooikind" deur Jaco Prinsloo

  • 1

Weggooikind

Kry jy koud vanaand?
Is jou beker vol of gaan slaap jy dors?
Blink jou maan beter as gisteraand?
Het die wêreld jou verniel?
Is jy kop omhoog in elke spieël?
Het die liefde al met jou kom mors?

REFREIN:
Weggooikind
My geskeurde lint deur die branders verslind
My deur staan oop, my hart ontbloot
'n Wieg op die kerk se trap
Soveel trane, een misstap
Weggooikind
Wolweseun in die asynreën, alleen
Kom bevry my van aardse dinge
van onbesonne beginne
En die kyke van die skinder-koninginne

Kry jy koud vanaand
so sonder papiere, sonder naam?
Blink jou maan beter as gisteraand?
Waar het jy huis gekry, hoe lyk jy nou?
Kom jy soek na my, sal jy my lank vashou?
'n Ma se blaam, vasgevang in 'n leë fotoraam

Weet jy waarvandaan jy kom?
Sou jy wou kies as jy kon vergewe?
Trek jy na hom? Ek was so jonk, bang
Nou staan die waarheid ewig, altyd verlam

Kry jy koud vanaand? Is jou beker vol of gaan slaap jy dors?
Blink jou maan beter as gisteraand?

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter.

  • 1

Kommentaar

  • Hulpkreet
    ek soek na myself ...
    wie is ek.
    wat is my identiteit.
    wie is my pa
    en wie is my ma?
    wat is hulle name,
    wat is my naam?
    ek is uit ’n
    hospitaal aangeneem;
    maar,
    waarom is ek
    as pasgebore meisie
    in Junie 1964
    tussen struike
    langs ’n gruispad versteek?
    (Moses...
    was ten minste versorg);
    wie doen so iets?
    ek was poedelnaak
    en bebloed
    pasgebore
    in ’n bitterlike koue nag ...
    so blou van die koue,
    die wie my vind
    dog ek is ’n bruin kind;
    het jy al na jouself gesoek?
    ek soek na myself
    ek weet nie
    wie ek is nie ...
    ek vergewe my ouers
    want ek is nou gekleed
    maar hulle is steeds naak
    voor God en die mens;
    hoekom soek hulle my nie?
    ek is so alleen
    alleen
    alleen ...
    Here,
    wie is ek ...?

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top