
Foto: Canva
Weg
“Het jy gesien die regering het 5 000 gevangenes vrygelaat?” Die aandwindjie blaas koel in my nek. Trane drup vanaf my bierbottel. Ek druk die bottel teen my kop, hou die selfoon vir my vrou om die berig op Netwerk24 te lees. “Mia, al sweer ’n pedofiel op ’n ton Bybels, sou ek hulle steeds nie vrylaat nie.”
Mia trek haar hemp op, tot net onder haar bra. “Verskoon my maag, maar dis vrek warm.”
“Asseblief, trek uit, ek gaan nie omgee nie.”
Sy knik na die drie seuns. “Ek weet.”
Uit die kombuis blêr “Moonlight girl” oor bluetooth speakers. Ek loer vir haar. Dis haar strip-liedjie. Sy verander die liedjie op haar Nokia.
“Moenie eers daaraan dink nie! Nie solank ek nog my mammalyf probeer afskud nie.”
Jandré dans saam met sy bababoetie, Izak. Dit lyk of laasgenoemde sy vingers in ’n muurprop gedruk het en rondruk. “Kyk my!”
Ons klap hande. Het al geleer om nie te lag nie. Al is dit hoe cute.
“Ek moet kos maak voor dit beurtkrag is. Of is jy lus vir pizza?” Mia staan op, hou haar bierbeker vir my uit. “Gaan ons nog een drink?”
Die bure se honde blaf. Ons gemmerkat spring oor die muur, snel verby.
“Dit gaan bitter wees; ek’t al die Sprite vir die tweeling gegee.”
“Gaan koop een en,” sy trek ’n L in die lug, “dan kry jy sommer vir ons twee pizzas. Thick base.”
“Ek’t gesien,” skree Jandré.
“Wat?” koor ons.
“Liquorice Allsorts,” eggo hy en Riaan.
Ons kyk vir mekaar. Die tweeling het grootgeword, mis niks nie.
“Saamry.” Izak skiet sy hande in die lug.
“Bly by Mamma.” Ek voel aan my broeksakke. Waar’s my bakkiesleutels? Kyk vir Jandré. “Ry saam.”
“Wag eers.” Soos ’n doodsvonnis. “Gaan trek eers skoon klere aan, en was jou gesig.”
Terwyl Jandré haar opdragte uitvoer, loop ek deur die agterste deel van die huis, maak seker al die vensters is op knip. Gordyne toe. Alarm in die agterkant van die huis aan. In die voorste deel bly als soos dit is.
“Sluit die deur agter ons.” Ek klem Jandré aan die arm.
Hy ken die goue reël as ons in die publiek beweeg: Nooit aan my regterkant nie, want niks mag my hinder as ek my vuurwapen wil uittrek nie. Ons gaan nie maandeinde dorp toe nie, eet in geen restaurant as dit vol is of ek nie die speelpark kan sien nie. Twee trollies: een waarin ek die kinders stoot en een vir die inkopies. By verkeersligte of ’n vierrigtingstop is alle vensters toe en almal doodstil.
Ek maak seker sy deur is gesluit en sy veiligheidsgordel vas. Ry nie voor die hek heeltemal toe is nie. Ry nooit dieselfde roete nie, monitor die omgewing soos ek op buurtwag geleer het. Parkeer altyd so na moontlik aan die ingang van ’n winkelsentrum.
Die tweeling sê hulle voel soos bandiete in aanhouding.
Ek koop Sprite, Liquorice en ’n Bar One wat ons op pad terug deel. ’n Koerantplakkaat skree in blokletters teen ’n lamppaal: Pastoor geskiet.
***
18 ure later.
“Julle moet versigtig wees,” die ou man se kop hang by die Nissan Pathfinder uit, “hier ry ’n pedofiel in ’n rooi Golf GTI rond.” Hy knik sy kop in die rigting van die fietsrybaan. “Ek dink hy wil daai seuntjie ontvoer.”
In die verte sien ek ’n blou spikkeltjie beweeg.
’n Labrador-welpie veg om gesien te word. Izak woel in my arms, krap die hond se kop. “Woefie byt nie.”
“Is jy okay?” Mia se aanraking anker my. “Wil jy liewers huis toe gaan? Ons kan môre weer kom.”
Vandag bars die tweeling, kyk waar trek hulle al.
Ek druk Izak in Mia se hande, wys na my bakkie. “Sluit.”
“Tweeling baie stout?” ’n Teddiebeer val uit Izak se hande. “Izak mooi. Tweeling stout.”
Sit die tweeling agterna.
“Moenie hulle doodslaan nie,” roep sy agterna.
Vandag nog gee ek hulle fietse by die kinderhuis af.
Die laaste keer wat iemand vooruit gery het, het ek haar nie weer gesien nie.
My bors trek saam. My hartklop versnel.
Die herinnering van 39 jaar gelede gaan my vanaand weer bloots ry. My suster ... Hoekom was ek daardie dag so hardekwas? Omdat sy die laaste melk gebruik het. As ek net nie ...
Blerriewil, sy was ses. Ses!
Trane loop vrylik. Ek onthou alles wat ek oor die jare uitgeknip het. As die swarthond my byt en die skalpel diep kloof, kluisenaar ek myself agter ’n deur toe, delf in die skoendose en lees die berigte. Die geel papiere krummel elke keer meer en meer.
Die tweeling praat met ’n seun in ’n Boerboel-T-hemp, sien my nie, maar die kyk in die seun se oë laat hulle omswaai. Die seun spat soos ’n vuurpyl weg.
Bosduiwe fladder hemelwaarts.
“Mag julle wees waar ek julle nie kan sien nie?” My stem donder soos kanonskote.
Koppe skud.
“Sorry,” piep Riaan.
“I totally forgot.” Jandré se oë is meer wit as pupil.
“Ons sal by die huis sien wat julle ook vergeet het.”
Ek sien ’n rooi Golf GTI nader kruie. Die Pathfinder slakkepas agterna. Die man is te naby, hy gaan die pedofiel afskrik. Laasgenoemde gaan net ’n ander park soek. Idioot.
“Sorg dat julle by Mamma kom. Julle is klaar gery.”
Die seuntjie stoot sy fiets in die pad. Lyk na ’n pap wiel.
Die GTI stop oorkant die pad. Trek nie af nie. Sit nog minder sy waarskuwingsligte aan.
Die deur vlieg oop.
Die kind spring op sy fiets, pap wiel en al, en trap.
Vorder nie ver nie.
Gooi sy fiets neer, hardloop. Roep sy ma.
Ek hoor Mia gil op die seuns.
Honde blaf.
Die dogtertjie wat uit die GTI klim, ruil plekke met haar pa. Hy klim nie in nie. Sy oë is groot. “Wat gaan aan?”
Ek sien die rooi L in die agterste ruit. Memoriseer die nommerplaat net ingeval. Asook die Pathfinder s’n.
***
Stoom dans soos spoke uit die koffiebeker wat Mia langs my skootrekenaar neersit. Swart, geen suiker. Sedert daardie oggend gooi ek ook nie melk in my pap nie. Kyk die seuns skeef aan as hulle te veel ingooi.
Mia: “Moet ek jou berader bel? As jy wil, kan ek fudge maak.”
“Speel my.”
“Pappa is siek, kom Mamma wys vir jou trekkervideo’s op my foon.”
Siek? Sal sy ooit verstaan? As ek net nie ...
“Speel my.”
Ek druk die rekenaar toe sonder om die resensie te save, gaan speel op die teëlvloer plaas-plaas.
Jandré gil.
Ek spring so vinnig op, stamp in die proses vir Izak met die knie teen die kop.
’n Trekker kraak onder my voete.
“Eina my!” huil Izak. “Trekker breek.”
Die kamerdeur klap teen die muur soos ek dit oopgooi. “Wat?”
Jandré staan asof verkluim, oë groot. Wys na die gordyne. “’n Spinnekop.”
Ek slaan die spinnekop met my plakkie dood. Swets binnemonds, draai na Mia wat in die deur staan. “Bel my berader, ek’s nie op ’n goeie plek in my kop nie.”
***
Drie dae later staan ek buite die skool. Hek 10. ’n Mamma knoop geselskap aan, speel met haar hare. Ek luister skaars, hou die hek met valkoë dop.
Die gewig van die tas laat Jandré soos ’n krap loop.
“Waar’s jou broer?”
“Ek weet nie.”
“Hoe weet jy nie; julle is dan in dieselfde klas?” My sussie het nooit die skool bereik nie.
Koppe ruk in my rigting.
Sy lip bewe.
Ons wag. Die kinders word minder. Die opsigter is besig om die hekke van ’n kant af te sluit.
My selfoon ping. Mia se WhatsApp ringtone:
is alles ok
waar bly julle
Ek antwoord haar nie, sleep Jandré aan die arm deur die hek. Bel Riaan se klasjuffrou.
“Waar’s my kind?” skree ek toe sy antwoord.
“Ek’s seker hy’s hier. Ek bel die hoof, dan help ons almal soek.”
Soek. Ek ken daardie woord goed, die uitkoms daarvan.
Here, nie weer nie!
Ek druk Mia se nommer, sy antwoord dadelik.
My asem jaag. Ek skets die buitelyne, sê sy moet vir Jandré kom haal sodat ek kan fokus op die soektog. Hoe kan die verlede homself weer herhaal? Ek’t dan soos ’n ortodokse priester die wette by die tweeling ingeburger.
Waar begin ek soek? Die eerste 24 uur is van kardinale belang. Daarna ...
Die Pathfinder! Die man het ons op ons gemak probeer stel, ’n ander persoon verdag probeer maak.
En die regte verdagte se Labrador lok kinders nader. Sit lekkers by en Riaan is ... weg.
Die buurtwag-WhatsApp-groep!
My stemboodskap gee kort instruksies. Die Pathfinder se registrasienommer. Die man se beskrywing. Riaan se foto.
In ’n paar minute is die strate vol groen ligte. Selfs op Facebook word daar gesoek.
Ek sukkel om tussen die trane deur te bestuur.
’n Halfuur later kry ek ’n oproep: My kind is by Spar. Ongedeerd. Hy het glo vroeër uit die klas geglip om lekkers te gaan koop.
Ek sweer hy kyk vir die volgende week nie TV nie.
***
Ek gooi al die skoendose met my sussie se koerantuitknipsels op die vuur in die braai. Drink ’n glas melk. Staar na die straatligte.
Mia omhels my van agter, lê met haar kop op my rug. “Hoekom brand jy alles?”
“Gister kan my nie meer gevange hou nie.”
’n Donderslag.
Ek laat val die glas, hardloop die huis in. “Die kinders!”
Nog ’n slag.
Ek koes, loer oor die vensterbank na buite.
In die verte is ontploffings in rooi en pers. Dan ’n gele en ’n groene.
Diwali. The Festival of Lights.


Kommentaar
Wonderlik, Stefaans! Ek’s skoon uitasem… 👏
Ek het nou vir 10 minute byna nie asem gehaal nie. Puik.
Baie dankie Elise, ek oefen hard.
Christelle, dit raak al hoe moeiliker om te skryf. Die talent daar buite is groot!
Dit het my enduit geboei. Welgedaan.
Dit was nou lekker om te lees. Uitstekend.