Wees mooi sonder om lelik te wees

  • 0

In hierdie rubriek skryf advokaat Gustaf Pienaar oor hofsake wat hierdie betrokke week in die nuus was. Die jaartal maak nie saak nie. Hierdie almanak is ’n tydmasjien wat heen en weer deur die regsgeskiedenis wip.

Die beweging Beauty without Cruelty het in Augustus 1985 by minstens twee spoorwegstasies tussen Kaapstad en Simonstad groot advertensieborde gehuur en daarop ’n baie omstrede maar hoogs effektiewe advertensie geplak. Dit het bestaan uit ’n foto van die onderlyf van ’n dame wat ’n romp aangehad het. Daarby het sy sykouse en hoëhakskoene gedra, asook ’n lang pelsjas wat so agter haar aan gesleep het – alles in swart en wit. Agter die sleep van die jas was daar ’n lang bloedspoor wat in helder, kontrasterende rooi uitgebeeld is.

En dan was daar die opskrif: "It takes up to 40 dumb animals to make a fur coat. But only one to wear it," was die boodskap. Daaronder was daar ’n tweede gedagte: "If you don’t want millions of animals tortured and killed in leg-hold traps, don’t buy a fur coat."

’n Paar dae nadat die advertensies hul verskyning gemaak het, het ’n bekende Kaapse pelshandelaar – ’n sekere mev Neumann – telefoonoproepe ontvang van ’n paar klante wat bekommerd was oor die negatiewe publisiteit wat die advertensies vir haar ingehou het. Enkele klante het ook hul jasse teruggebring om in die winkel geberg te word omdat hul bang was om met dié statussimbole in die openbaar te verskyn.

Mev Neumann het daarna ’n brief aan Beauty without Cruelty laat skryf waarin beweer is dat die advertensies haar belaster het. Sy het aangevoer dat sy tot ’n identifiseerbare groep of klas persone behoort, naamlik pelshandelaars, en dat die redelike leser van die advertensies sou besef het dat sy, as ’n bekende pelshandelaar, tot daardie groep of klas behoort. Haar prokureur het Beauty without Cruelty ’n paar dae kans gegee om die advertensies te verwyder en om verskoning te vra.

Teen die sperdatum het Beauty without Cruelty nog nie op die eisbrief gereageer nie, en het Vervoerdienste, aan wie die advertensieborde behoort het, ná vertoë deur die pelshandelaar die advertensies verwyder. Dit het tot verdere perspublisiteit aanleiding gegee. ’n Woordvoerder van Beauty without Cruelty het gesê dat die plakkate weer opgeplak sou word en het ontken dat dit enigsins lasterlik was.

"Genoeg is genoeg," het die pelshandelaar seker gedink, want kort daarna het sy die Kaapse Hooggeregshof genader met ’n aansoek dat Beauty without Cruelty verbied moet word om die advertensie verder te vertoon.[1]

Regter Pat Tebbutt, die bekende krieketkommentator, het beslis dat die advertensie – en veral die opskrifte daarvan – na die hele pelsbedryf as sodanig verwys het. Selfs indien aanvaar sou word dat die advertensie wel lasterlik was, was dit ’n baie wye groep mense en instansies wat belaster is. Ten einde met haar aansoek te kon slaag moes mev Neumann bewys dat hoewel die advertensie kwansuis na ’n bepaalde klas of groep persone verwys, dit eintlik op háár gemik was. Daar was na die mening van die hof nie naastenby sprake daarvan dat die advertensie enigsins na mev Neumann verwys het nie en haar aansoek om Beauty without Cruelty te verbied om die advertensie verder te versprei is gevolglik met koste van die hand gewys.

Was dit die wyse Shakespeare wat iets gesê het van die dame wat net so ’n bietjie te veel gemor het? "The lady doth protest too much, methinks.”[2]

Of sou ons in mooi idiomatiese Afrikaans sê: "As die jakkals tjank, is die skoot raak."

Naskrif:So van pelse gepraat. Het u al ’n goed-gebreide jakkalspels-karos vasgehou? My skoonsuster het een in Brasilië (meen ek) gekoop. Dis die sagste, strelendste voorwerp wat ek al ooit teen my wang vasgedruk het. Ongelooflik!


[1]     Vgl A Neumann cc v Beauty without Cruelty International 1986(4) 675 (CPD)

[2]     Shakespeare, Hamlet, Bedryf 3, Toneel 2

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top