weer-lig
Fransi Nieuwoudt
Naledi, 2018
ISBN: 9781928426110
Fransi Nieuwoudt se tweede digbundel, weer-lig, verskyn in 2018 by Naledi. Dit volg op ’n Vlerkslag van kleur wat in 2016 deur Cordis Trust uitgegee is. Op die agterplat van die nuutste bundel word die digter beskryf as ‘n “meta-moderne kunstenaar”. Dit is ongewoon dat ’n uitgewer of digter (of skrywer) hulself op so ’n wyse etiketteer. So ’n daad impliseer tog ’n ingesteldheid jeens die betrokke kunsvorm wat byna voorskriftelik aandoen. Word die leser dan prontuit in kennis gestel dat die gedigte net teen die agtergrond van ’n metamodernistiese raamwerk begryp kan word? En is dit nie ’n bietjie aanmatigend nie? Dit kan naamlik maklik ook geïnterpreteer word as die soort opmerking uit die ivoortoring wat lesers maklik van die poësie kan afsit.
Die bundel sluit ’n aantal visuele kunswerke deur die digter in. In hierdie resensies gaan ek slegs op die gedigte fokus.
Tematies handel die gedigte in weer-lig oor aspekte van die kuns en die natuur. Ek voel nie dat hierdie temas “nog selde in die Afrikaanse digkuns ontgin is”, soos op die agterplat aangevoer word nie, maar hulle bly ryke grond vir verdere bewerking. Jammer genoeg is daar nie veel blyke van so ’n ontginning in hierdie bundel nie.
Die openingsgedig, getiteld “leweroep” (1) is reeds tekenend van die frustrasie waarmee ‘n leser deur die loop van die bundel gekonfronteer mag word:
leweroep
Vredefortkoepel
volgens oorlewering
het T.T. Cloete gepraat van die mooie
gloor by Kopjeskraal
’n meteoriet het hier
in beeldverhaal
klippe papierdun verpulp
drifkoppe gepenetreer met ruimtesaad en so
die moes van aardse moer
buitentoe gesmyt
as geelklei
kwartsietsye basterrooibos
die skielike skuinste
van ’n denkbeeldige as.
Benewens die digter se geneigdheid om gebruik te maak van opeengehoopte selfstandige naamwoorde, is die verwysing na ’n “beeldverhaal” (r 5) onnodig. Die gedig is tog self ’n soort verbeelding van iets – ’n “beeldverhaal” van wat hier beskryf word. Dit is nie duidelik waarom die digter juis vir die leser moet aankondig dat ’n “beeldverhaal” volg nie. Dit is tog maklik genoeg om self hierdie verhaal in beelde in die gedagtes te sien. Hierdie proses word wel bemoeilik deur die onlogiese aard van die beskrywing in die daaropvolgende reël. Met die aard van klippe in gedagte is dit moeilik om te dink hoe “klippe papierdun verpulp” (r 6). Die idee van papier wat verpulp word en klippe strook bloot nie met mekaar nie en doen dus afbreuk aan die gedig – en dit verwen boonop weens hierdie steurnis die leeservaring.
Hierdie soort betekenislose frases word ongelukkig in baie van die gedigte aangetref. Sien byvoorbeeld “godgegewe lettergrepe” (r 1) en “immer heuwelse bergredes” (r 15) in “chirologie” (29):
chirologie
volgens ’n boek oor godgegewe lettergrepe
is dit die skepperwind wat aanraak
sandpatrone agterlaat
as lyflike glifografie
asof afgeklank op elke hand
’n ander boek vertel van ’n Joodse man
wat sommer met sy vinger
eenvoudige gelykenisse
in die stof trek
deesdae
verbeel ek ’n effens vuilerige
handdruk tussen grootse self
donker materie –
’n onsigbare suising van strome wat seë voed
en tot immer heuwelse bergredes roep.
Eerstens weet ek nie eintlik wat “bergredes” is nie, terwyl dit ook onduidelik is waarom hulle “immer” – dus ewig – “heuwels” is. Hoe effektief is dit eintlik dan om iets van ’n berg as “ewig soos heuwels” te beskryf? Dit is ongelukkig blote mooiskrywery, en gou het ek as leser besef dit is onnodig om te veel oor sulke leë frases na te dink.
Die plesier van die poësie lê dikwels in die moeilike ontdekking en ontginning van betekenislae wat opgesluit lê in bondige taalgebruik. In die digkuns van Marlene van Niekerk kan die leser byvoorbeeld keer op keer terugkeer na ’n gedig om telkens nuwe betekenis daaruit te put – dikwels nie sonder besondere inspanning nie. Met ander woorde, ’n gedig kan kompleks wees en daarom inspanning van die leser vereis. Ek het Nieuwoudt se gedigte gelees en herlees om te probeer bepaal of daar iets is wat nog opgesluit lê en wat nog te ontdek is. Ek het mettertyd agtergekom dat daar by heelwat van die gedigte van meet af bloot ’n gebrek aan betekenis is. So is dit die geval in “interferensie” (45).
interferensie
ek beweeg aaneen in die water
’n ligdragtige kleurdraer
verkenner van hierdie golfwydte
wat in die oordek van ontmoeting
s p r o e i
tot weer
die alombrander.
Daar is bloot nie genoeg in hierdie gedig vir die leser om enige wesenlike betekenis te vind om enigiets te verstaan nie. Hoewel ’n mens seker kan sê die gedig handel oor water, of miskien die see, en dus tematies die natuur, is die gedig in sy geheel niksseggend. Ook weer is daar die ondeurdagte woordgroepering in “ligdragtige kleurdraer” (r 2) en “alombrander” (r 7). Om ongewone samestellings te gebruik en selfs neologismes te skep is nie op sigself ’n probleem nie. Máár sou die digter dit dan doen, moet dit tog verhelderend inwerk op die inhoud van die gedig en nie die leser laat vassteek om vir etlike minute te wonder wat dit beteken as iets (iemand?) ’n “ligdragtige kleurdraer” is nie. En wat is ’n “alombrander”?
Sommige van die gedigte handel oor organismes, soos skoenlappers en visse, in welke opsig ek nie anders kon as om te dink aan die werk van Johann Lodewyk Marais nie. Anders as in Marais se werk is talle van Nieuwoudt se gedigte in hierdie styl egter bloot vervelige beskrywings van organismes in die vorm van verwarrende verse.
fotosintese
Costasiella kuroshimae
weerlig fertiliseer die see
trefseker
– nes die oorlamse seeslakke
drentel sy blaarlangs
vreet kiestevol alge
herkou dit tot brandende netels en spreilig dendriete
agter haar skeer wolvinne die water –
klank volg kortom.
Die digter se gebruik van die woord “fertiliseer” verdien kritiek. Aangesien die gedig nie in vaste vorm geskryf is nie, is dit moeilik om aan te voer dat die gebruik van “fertiliseer” ter wille van die ritme in die gedig is. My argument hier het niks te doen met sogenaamde anglisistiese taalgebruik nie. Eerder het dit te make met die taalregister. Dit is byna asof “fertiliseer” gebruik is alleen maar omdat dit meer verhewe klink as “bevrug” – en wanneer woorde in gedigte so ingespan word, dui dit nie op iets goeds nie. In dié verband kan ook die titel van die gedig “interferensie” bevraagteken word, en natuurlik is daar ook die reeds besproke “bergredes” in “chirologie”, wat ek raai staatmaak op die argaïese betekenis van “rede” (’n verhaal).
Die hoogs steurende hebbelikhede van bogenoemde aard word oral in die bundel aangetref. Verder is daar ook die oordadige en onnodige gebruik van enjambement, afgesaagde tipografiese toertjies, byvoorbeeld in “breekbaar” (3) en “’n mandala” (8), en mislukte pogings tot ’n betrokke tematiek (“hoe om skilderye en staatsgeboue te brand” (5)). In laasgenoemde gedig is my wil en geduld om verder te lees tot die uiterste beproef met die verwysing na fossielbrandstof as “eeue-oue piepie” (r 11).
As daar iets belowends is wat in die bundel uitstaan, is dit juis die temas waaroor die digter wil skryf. Daar is elemente wat aanspraak maak op ’n ekopoëtiese aanslag, maar dit word ongelukkig voortdurend bederf deur ’n onbeheerste digtershand, met vanselfsprekende verswakkende uitwerking op die gedigte. Ek hoop dat die digter hierop sal ag slaan en met enige toekomstige digwerk ’n ander aanslag sal volg.
Die taak van die boekresensent is nie net om vir lesers ’n ingeligte mening oor ’n teks te gee nie. Saam met die kritiek moet daar ook soms ’n uitspraak gelewer word oor die boek as produk. Hiermee verwys ek vir ’n slag nie na die produksiegehalte van die boek nie, maar na die boek as ’n verbruiksartikel wat die geld werd is. Ek kan nie met ’n geruste gewete weer-lig aan ’n leser aanbeveel nie.