Weeklange kunsuitstalling skop af in Hangklip

  • 1


 
’n Week lange omvattende groeps-kunsuitstalling word geopen op Saterdag 17 Maart om 11vm by die Harold Porter Nasionale Botaniese Tuine in Bettysbaai. Dit sal duur tot Sondag 25 Maart.

Die Hangklip Kuns Week (of te wel, Hangklip Art Week, HAWK), is georganiseer deur die kunstenaar en plaaslike inwoner, Lien Botha, en is ’n ensemble uitstalling met diverse plaaslike kunstenaars (uit Rooi-Els, Pringlebaai en Bettysbaai), asook kunstenaars vanuit Kaapstad, elk met hul eie spesifieke kunsstyl.

“Die motivering vir HAWK is om ’n geleentheid te skep vir kunstenaars om van hulle nuwe (en huidige) werke parallel met kommersiële galerye aan die publiek bekend te stel,” sê Botha.

Dit sal ook ’n gulde geleentheid wees om nuwe besoekers na die Hangklip streek te lok en dit sal bydra tot ’n essensiële ekonomiese inspuiting vir toerisme in die area.

Die uiteenlopende deelnemers bestaan uit 12 kunstenaars uit die Kaap en 12 kunstenaars uit die Hangklip-gebied; wat ’n gesonde balans en kontrasterende spanning sal meebring tussen stad en platteland.

In die geheel is daar 25 deelnemers, met die kunstenaar Liza Grobler wat as kardinale skakel tussen die twee grondruimtes dien. Haar innoverende projek is ’n informatiewe kunsroete genaamd Van mooi uitsig tot Mooiuitsig.

Die hoof deel van die uitstalling sal ten toon gestel word in die konferensiesaal van die wêreldbekende Harold Porter Nasionale Botaniese Tuine, asook in die tuin self, wat in ’n ruim en welige ope-lug ateljee omskep word vir beeldhouwerke en installasies.

Verskeie kunstenaars se ateljees sal ook vir die publiek geopen wees gedurende hierdie tydperk en daar sal leersame en prikkelende werkswinkels en besprekings gehou word.

Die Hangklip-streek is net oor die een-uur se ry vanaf Kaapstad en is binne ’n UNESCO geregistreerde biosfeer geleë. Dit is onder andere die tuiste van die mees komplekse biodiversiteit op ons planeet. Daar is ook ’n kaart vir die uitstalling beskikbaar wat as versamelstuk en memorabilia kan dien.

Soortgelyke suksesvolle internasionale uitstallings het al plaasgevind in ruimtes soos die gesogte Rauma Museum in Finland, Ateliers in België, Ridderkerk in Nederland en plaaslik by die Baardskeerdersbos kunsroete naby Gansbaai.

Sommige van die kunstenaars wat deelneem, sluit in: Helmut Starcke, Brendhan Dickerson, Petra Keinhorst, Lien Botha, Anton Karstel, Evette Weyers, Peter Clarke, Liza Grobler, Colbert Mashile, Cobus van Bosch, Willie Bester, John Kramer, Clementina van der Walt, en die Qubeka kralewerk studio. Die wye verskeidenheid van kuns sluit in beeldhouwerk, installasies, skilderye, fotografie, keramiek, en illustrasies.

Ander hoogtepunte is ’n pop-up restourant (of rukkierestourant) wat deur die bekroonde tydskrif redakteur Sumien Brink, redakteur van Taste Magazine, en haar dogter, Cara, ’n sjef en spysenier, aangebied sal word.

“Daar gaan ’n duisend kerse (asook lanterns) wees en die kos sal op ’n eko-vriendelike manier voorberei word met net vuur en gas,” sê Brink.

“Ons beplan lam van Heidelberg (agt uur lank gekook), mossels van Bettysbaai en polentakoek met roosgeurige pelargonium blare, met nog baie bydisse en klein slaaitjies en souse.

“Daar sal happies en vonkelwyn wees as mense arriveer en al die kos sal soos ’n regte fees op die tafel gepak word – met ’n dekadente nageregte na die maal.”

Die skrywer, joernalis, kritikus, koskenner, en plaaslike inwoner, Kerneels Breytenbach, sal die uitstalling open. Breytenbach is ook die skrywer van die onlangs gepubliseerde roman, Piekniek by Hangklip.

  • 1

Kommentaar

  • Hoekom is die plakkaat Engels?

    Moet dit nie "Hangklipkunsweek" in plaas van "Hangklip Kuns Week" wees nie?  "Kunsweek", ten minste, moet een woord wees.

    Moet dit nie "Hangklipstreek" in plaas van "Hangklip streek" wees nie?

    Moet dit nie "bekroonde tydskrifredaktrise" in plaas van "bekroonde tydskrif redakteur" wees nie; Sumien is tog immers vroulik?  "Tydskrifredakteur" is in elk geval een woord.

    Is Lien Botha nie 'n kunstenares nie?

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top