Week van de Afrikaanse roman

  • 3

Ontwerp van logo: Nathan Trantraal

 

Woon jy in Europa? Kyk watter skrywers trek binnekort saam in die Lae Lande. Ingrid Glorie vertel vir Naomi Meyer van Week van de Afrikaanse roman.

Etienne van Heerden
Irma Joubert
Sonja Loots
Marita van der Vyver
Kirby van der Merwe
Chanette Paul
Bart de Graaff
Riet de Jong-Goossens

Hallo Ingrid! Vertel asseblief vir ons lesers watter skrywers hulle by die Fees van de Afrikaanse roman kan kom ontmoet.

Die skrywers wat hierdie keer aan die Week deelneem, is Etienne van Heerden, Irma Joubert, Sonja Loots, Kirby van der Merwe en Marita van der Vyver. En hopelik kan Chanette Paul, wat in dieselfde periode toevallig in Vlaandere gaan wees, ook enkele van die byeenkomste bywoon. Aanvanklik sou ook Deon Meyer deelgeneem het – hy was geweldig entoesiasties en ondersteunend en sy naam het beslis baie deure vir ons oopgemaak. Dit was ’n groot teleurstelling toe hy weens ander verpligtinge moes kanselleer, maar ons het besef dit kon nie anders nie. Ons het toe elke liewe afspraak van vooraf moes maak – ons was baie bang die boekwinkels sou onttrek sonder hierdie bestseller-skrywer. Maar die boekwinkels was fantasties: almal het onmiddellik gesê dit gaan vir hulle nie daaroor dat hulle ’n massa boeke verkoop nie – die kwaliteit van die program was vir hulle nog steeds die moeite werd. Almal voel dis baie opwindend om ’n slag iets met Afrikaans te doen.

Hoe kies mens boeke vir so 'n veldtog? Is die eerste kriterium dit moet in Nederlands ook beskikbaar wees? Of wat nog?

Ek besef dis ’n vraag waaroor daar sekerlik diskussie moontlik is. Maar inderdaad het jy wel ’n aantal skrywers nodig wie se werk reeds in Nederland beskikbaar is. Jy gaan nie baie mense trek met vyf skrywers wat niemand ken nie. So Etienne, Irma en Marita was logiese keuses. Veral ook omdat die Nederlandse vertaling van Etienne van Heerden se Klimtol in September verskyn. Maar dan wou ons ook ’n paar stemme byvoeg wat nuut is vir die Nederlandse publiek: Sonja Loots en Kirby van der Merwe. Daar was ook skrywers wat ons genader het wat nie beskikbaar was nie. Maar ek is baie gelukkig met die groep wat ons nou het. Ons begin klein, intiem. Dit is vir ons ook ’n eerste, en met so ’n klein organisasie – alles vrywilligerswerk, terwyl ons natuurlik ook gewoon die pot aan die kook moet hou – is dit omtrent al wat ons kan hanteer, vir die oomblik. Dit is ook goed dat daar nog skrywers – ook groot name – oor is vir ’n volgende keer. Want as die reaksies positief is, dan hoop ons om hierdie projek elke twee of drie jaar te kan herhaal.

Ek lees met groot belangstelling oor Week van de Afrikaanse roman – want ek is Suid-Afrikaans en stel belang in die letterkunde. Maar jy woon in Nederland, Ingrid. Waarom organiseer jy hierdie fees?

Gelukkig doen ek dit nie heeltemal alleen nie. Dit het daarmee begin dat die skrywer Louis Krüger, wat al van 1984 af in Nederland bly en wat as ’n dominee werk onder skippers in en rondom Rotterdam, my genader het. Ek dink omdat ek die redakteur van Maandblad Zuid-Afrika is. Louis vertel my toe Irma Joubert het planne om in September Nederland toe te kom. Soos jy dalk weet, is Irma se romans in Nederland geweldig gewild by ’n spesifieke doelgroep: die Christelike nismark. Maar daarbuite is sy heel wat minder bekend, hoewel Irma self, dink ek, glad nie bedoel het om Christelike boeke te skryf nie. Dis maar net dat die tyd en die kultuur waaroor sy skryf, aanklank vind by Christelike lesers in Nederland. Louis wonder toe of ons Irma se koms nie kan aangryp om iets te organiseer rondom Afrikaanse romans, sodat Irma ook aan ’n breër Nederlandse leserspubliek bekendgestel kan word nie. So het die idee vir ‘n “Week van de Afrikaanse roman” ontstaan. Ek het nooit gedroom ek sou eendag so iets organiseer nie, maar toe die vraag kom, het ek besef, met al my kontakte in sowel die Afrikaanse as die Nederlandse literêre wêreld – wat ek altyd as ’n ongelooflike voorreg beskou het – is dit nou my opdrag om dit te laat werk.

Kort na my gesprek met Louis het ek in kontak gekom met Ingrid en Leopold Scholtz, wat onder meer betrokke was by die Afrikaanse Fees hier in Nederland. Ingrid Scholtz het ’n ad hoc-werkgroep op die been gebring, waarin ook Louis Krüger, Corinne Vuijk van die uitgewery Mozaïek, Bert Buiten van Stichting Dibana en Karen Vegt van SASNEV betrokke is. Vanuit Vlaandere het ons baie hulp gekry van Frank Judo, die voorsitter van die Vlaams Zuid-Afrikaanse Cultuurstichting, en Ludo Helsen, ’n oudpolitikus met indrukwekkende kontakte. Ek kon ook heelwat gesprekke voer met Ena Jansen, hoogleraar Zuid-Afrikaanse Letterkunde in Amsterdam. En dan het ons ook in ’n vroeë stadium al geweet dat ons finansiële ondersteuning van ’n aantal borge uit Suid-Afrika sou kry. Dit het ons die moed gegee om die projek aan te pak en deur te druk. Die vertroue dat dit kón werk was ’n geweldige steun in die rug. En dan was daar die entoesiasme van die skrywers, soos Etienne van Heerden en Marita van der Vyver, wat onmiddellik ingestem het om te kom. Wanneer jy sulke fantastiese mense aan jou sy het, dan weet jy die ding sal vlieg.

Ek noem dit 'n fees. Dis inderwaarheid 'n veldtog, 'n meer deurtastende oefening. Is dit 'n doelbewuste keuse om op dié manier daarna te verwys?

Ek dink party keer daaraan as ‘n "road trip" of "Afrikaans writers on tour". Maar dis nou ongelukkig Engelse frases, dus kan mens dit nie eintlik hardop sê as jy die Afrikaanse literatuur in Nederland wil bevorder nie. Maar jy kan maar glo die skrywers het in my oë uitgegroei tot rocksterre.

Daar is natuurlik ’n belangrike rede hoekom ons so rondbeweeg. Wanneer jy ’n fees op een vaste plek organiseer, dan sal net die mense wat reeds in Afrikaanse literatuur belangstel, soontoe kom. Ons wil probeer om ook nuwe lesers te bereik. Dus word die byeenkomste georganiseer deur boekwinkels en feesorganisasies wat oor baie jare bewys het hulle weet hoe om dit te doen. Een van die eerste organisasies wat ingestem het, was Writers Unlimited, wat onder meer die jaarlikse Winternachten Festival in Den Haag organiseer. Ook hulle belangstelling was geweldig bemoedigend. Later het Spui25 in Amsterdam bygekom, en drie van die beste boekwinkels dwarsoor die land. Daar gaan ´n wetenskaplike simposium wees by die Universiteit Leiden; die Rijksuniversiteit Groningen is ook betrokke; en dan hou ons nog ’n ekspat-aand by ’n baie “gezellige” Suid-Afrikaanse restaurant in Amsterdam en, in ’n beslote byeenkoms, ’n debat tussen skrywers en vertalers, waarskynlik in Amsterdam of Utrecht. Ook gaan daar iets soos vier byeenkomste in Vlaandere wees. ’n Week is maar kort. Dit was omtrent al wat ons ingepas kon kry. Maar wat jy sien, is dat ons die lesers gaan soek daar waar hulle is: in hulle vertroude teaters, in hulle eie boekwinkels, by die universiteit …

’n Ander belangrike aspek is dat ons as rookies dit nooit so goed en professioneel sou kon doen as hierdie gevestigde organisasies nie. Alles is al in posisie. En hierdie organisasies weet wat hulle publiek wil hê. Dit is goed dat elke organisasie sy eie stempel op ’n byeenkoms sal afdruk. Dit is nie die bedoeling dat die skrywers elke aand presies dieselfde dinge oor en oor sê nie. Dit is juis die verskil in benadering wat die program so ryk maak en wat die diepte en veelsydigheid van die Afrikaanse literatuur uitwys.

Wat is julle hoofdoelwitte – nou en op lang termyn?

In die jare ’90 was daar in Nederland ’n redelike belangstelling in Afrikaanse literatuur. Apartheid was verby, Nelson Mandela was vry, en daar het ’n nuwe uitwisseling tussen Nederland, Vlaandere en Suid-Afrika op dreef gekom, sowel op literêre as op akademiese vlak. Om romans in die oorspronklike Afrikaans te lees, is nog te moeilik vir die meeste Nederlanders en Vlaminge wat nie vertroud is met Afrikaans nie. Maar van die vroeë 90’s af het Riet de Jong-Goossens en Robert Dorsman die een Afrikaanse boek na die ander vertaal, en het die Nederlandse leser kon kennismaak met romans van skrywers soos EKM Dido, Etienne van Heerden, Marlene van Niekerk, Riana Scheepers, Dan Sleigh, Karel Schoeman, AHM Scholtz, Marita van der Vyver, Eben Venter en Ingrid Winterbach. En met die poësie van Antjie Krog, Ingrid Jonker, Wilma Stockenström en Ronelda Kamfer natuurlik. Dit het ’n hele nuwe wêreld vir hulle blootgelê!

Ongelukkig het hierdie belangstelling oor die laaste jare afgeneem. Dis ’n moeilike tyd vir die Nederlandse boekbedryf en uitgewers en boekverkopers is minder bereid om finansiële risiko’s te neem. Die gevaar bestaan dat wanneer die vraag na vertalings van Afrikaanse boeke minder word, ook die kundigheid wat iemand soos Riet de Jong-Goossens oor nou al 25 jaar opgebou het, sal verdwyn. Ons eerste doelstelling is dan ook dat ons nuwe belangstelling vir Afrikaanse literatuur wil aanwakker – sowel by lesers as by uitgewers, en dat ons die kennis wat nou bestaan, mag behou.

En as ons dink aan belangstelling, dan gaan dit nie net oor boekverkope nie. Ons wil ook hê dat mense weer meer romans van Afrikaanse skrywers by biblioteke gaan uitneem. Want die boeke wat van die ‘90’s af vertaal is – én André P Brink en Breytenbach se boeke uit die ‘70’s en ‘80’s, natuurlik – is nog altyd beskikbaar, en hulle het nog niks van hulle waarde verloor nie. Dis hoekom ons ’n lys saamstel van soveel as moontlik van al die Afrikaanse romans wat oor die jare in Nederlandse vertaling verskyn het en wat dalk nog iewers in ’n depot staan en stof vergaar. Daardie boeke moet ’n nuwe lewe kry!

Vir die lang termyn hoop ons dat ’n nuwe belangstelling vir Afrikaanse skrywers ook daartoe sal lei dat Afrikaans weer ’n plek in die Nederlandse onderwys sal kry, byvoorbeeld by Taalbeschouwing, wat ’n onderdeel is van die vak Nederlands op hoërskool. Ons hoop dan ook om hierdie projek, die Week van de Afrikaanse roman, op te volg met ’n onderwyskonferensie in 2015.

Het julle 'n webwerf waar mense nog inligting kan kry?

Die volledige program sal jy kry op ons webwerf: www.weekvandeafrikaanseroman.nl. Sowel die program as die webwerf is ’n “work in progress”, so kom loer gereeld in om te kyk wat aangaan. Ons het ook ’n Facebook-blad en ’n Twitter-rekening waardeur ons mense op hoogte hou. Hier sal belangstellendes ook meer inligting oor die deelnemende skrywers en hulle boeke kry. En uiteindelik ’n blog, waar ons tydens die Week elke dag verslag sal doen van ons rocksterre se avonture “on the road”.

Foto's: Week van de Afrikaans roman.

  • 3

Kommentaar

  • Bronkhorst, W.L.

    Met veel plezier heb ik de berichten van  de  schrijvers die  deelnemen aan de Week van de Afrikaanse Roman gelezen.Het wordt zeker een zeer geslaagde week. Sterkte met alle voorbereidingen.

  • Ingrid Glorie

    Die volgende Week van de Afrikaanse roman word gehou in September 2019. Nou is dit eers tyd vir die vierde Festival voor het Afrikaans: 22 en 23 September 2018 in De Brakke Grond in Amsterdam. Met onder meer Laurika Rauch, Sandra Prinsloo, Gert Vlok Nel, Zelda la Grange, Antjie Krog en Die Wasgoedlyn. Binnekort meer inligting op http://www.festivalvoorhetafrikaans.nl. Of volg ons op Facebook vir die jongste nuus!

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top