Wedervaringe van ’n boeregesin deur Victor Pohl: ’n resensie

  • 0

Wedervaringe van ’n boeregesin
Victor Pohl
SKU: 9780639989297

Pas het ’n verkwiklike Afrikaanse vertaling van Victor Pohl (1883–1979) se eens legendariese Adventures of a Boer Family, wat in 1944 by Faber and Faber verskyn het, die lig gesien. Die uiters bedrewe vertaalwerk is dié van Marietjie Delport. Dit voel asof die oorsetting, in onopdringerige, helder Afrikaans, inderwaarheid die ware Jakob is, wat die toetssteen is van uitmuntendheid in ’n vertaling.

Pohl, ’n vioolonderwyser wat later in sy lewe wêreldwyd bekendheid verwerf het vir sy Engelstalige fiksie én nie-fiksie hoofsaaklik op jong volwassenes gerig, is ’n interessante figuur wat vandag egter weinig bekend is.

Daar is derhalwe ’n sekere ironie daarin geleë dat Adventures, wat ’n persoonlike binneblik werp op ’n groot Vrystaatse boeregesin se lief en leed tydens die Anglo-Boere- oftewel die Suid-Afrikaanse Oorlog (1899–1902), vir baie dekades lank slegs in Engels gelees kon word. En boonop dat dit in 2022 deur The House of Emslie, die uitgewery van die Engelstalige Kaapse advokaat, Trevor Emslie, aan Afrikaanse lesers gebied word.

Die Pohl-gesin – hul stamvader Karl Friedrich se aankoms in die land in 1810 is in Pohl se boek Land of Distant Horizons (1946) opgeteken – se plaas is teenaan die indertydse Basoetoelandse grens – met Menschvretersberg in die suide, die Korannabergreeks in die ooste, en digby die “steil bult” Beesneus (bl. 61). Die gesin bestaan uit vader Karl Friedrich, moeder Dorothea en ’n skynbare ontelbare veelheid kinders.

Dis ’n middeljarige Victor aan die woord wat met behulp van “die dagboeke of aantekeninge” (Voorwoord) van sy een suster en twee van sy broers ’n wye blik op die oorlog se impak op sy gesin werp. Drie van sy ouer broers, Stefans, Frederick en Willie, het flink ná die uitbreek van die oorlog by die kommando’s aangesluit. Stefans en Frederick sou later onder genl De Wet dien.

Victor bly saam met onder meer sy suster Sophia en twee effens jonger boeties Dudley en Eric agter. En, soos die skrywer ook in die voorwoord noem, was hy “daardie tyd op ’n ouderdom waar [hy] baie duidelik geweet het wat plaasvind …” sodat “die gebeure ’n diep indruk op [hom] gemaak [het]”.

Derhalwe steun groot dele van die vertelling – juis dié waarin die loep direk op die net-net tienerjarige seun val – op sy eie geheue. Op bladsy 4 vertel hy: “Dié van ons wat tuis gebly het, het gou by ons nuwe lewe aangepas, en die werk op die plaas het voortgegaan asof daar geen oorlog is nie. Ons het selfs weer ons boeke nadergetrek en het onder leiding van ons ouers ons musiek geoefen – ek die viool en Sophia die klavier – net so ywerig soos voorheen.”

Oorlog is natuurlik nie kinderspeletjies nie en wanneer dit swaarder met die jong Victor gaan, is sy geheue dekades later nie altyd ’n volledige rekord nie. Wanneer hy gevange geneem word omdat sy aflewer van ’n liefdesbrief namens sus Sophia vir spioenasiewerk aangesien word, vou ’n lang en by tye uitmergelende tyd as krygsgevangene oop, wat begin met ’n tog Thaba ‘Nchu toe, by Beesneus verby (bl 61): “Dit is die enigste plek op die reis wat ek kan onthou – die res is heeltemal weg.”

Die trek suidwaarts wat volg lê skerper in sy geheue ingeprent. Victor staan op die drempel van volwassenheid en hierdie deel – kompleet met ’n Engelse wag wat, nogal dubbelsinnig, sy vriendskap opsoek – vorm, as bildungsverhaal-in-die-kleine, die kern van die boek. Die skerp persoonlike blik is altyd die aangrypendste.

Tog wil ek nie sê dat die verhaalgrepe wat op die ervaringe van Stefans, Frederick en Willie steun, nie eweneens boeiend is nie. Die beskrywing, byvoorbeeld, van die bloedige onderspit wat die Highlanders by Magersfontein delf, is pragtig opgeteken en roerend. Uiteraard is daar in die buitelugtonele baie netjies getekende en lewendige aksie wat die erns en onmiddellikheid van die oorlog dringend oproep.

Ook kom die breër politieke opset van Suid-Afrika in die jare 1899–1902 aan die orde. Sonder om dit te wil doen, maak die skrywer by implikasie ’n saak daarvoor dat dit nooit ’n oorlog net tussen Boer en Brit was nie – dit was voorwaar ’n Suid-Afrikaanse oorlog (sien byvoorbeeld die episode op ble 100–101). Ook is die verhouding tussen Boer en Brit allermins een van onverdrote vyandskap: Victor se beste maat was die Engelse buurmannetjie George.

Maar seker die mees verbasende en bevredigende aspek van Wedervaringe is die humor, wat Delport in die vertaling fyn bewaar.

...........
Maar seker die mees verbasende en bevredigende aspek van Wedervaringe is die humor, wat Delport in die vertaling fyn bewaar.
..........

Dat daar ’n sterk lyn ligtheid deur die vertelling loop, word reeds in die eerste sin in hoofstuk 2 deurgesein: “Van die drie broers wat by die Boeremagte aangesluit het, was dit Willie wat die skerpste humorsin gehad het, en hoewel hy eintlik baie ernstig was, het dit hom nooit verhoed om die snaakse kant van ’n situasie te sien nie.”

Die skrywerstem is ’n lig-ironiese ene – dalk vergemaklik daardeur dat die Pohl-gesin, buiten vir die noodwendige trauma, ongeskonde die oorlog oorleef. Hoe ook al, die opgetekende wedervaringe kom allermins swaar of droef oor. Dalk is dit juis so dat ’n oorlog die pynlike absurditeit onderstreep wat die menslike toestand so dikwels kenmerk.

Dink maar aan Buys wat sy boude vir wie ook al wil kyk, skou (ble 18–19); ook aan Jan “Tweefontein” van der Merwe wie se eskapade selfs vir genl De Wet uit sy maag laat bulderlag het (ble 102–105). Ook onvergeetlik is die onderonsie rondom ’n kring eiers op haar eetkamertafel tussen genl De Wet se vrou en ’n Britse offisier: ’n vinjet waarop ’n voorste draaiboekskrywer trots sou wees.

..........
Ewe onvergeetlik, maar in ’n gans ander toon – deurweek van piëteit – is die laaste twee hoofstukke, waarin onder meer die toespraak beskryf word wat genl De Wet by oorgawe aan sy manskappe lewer. ’n Stuk spontane veldpoësie.
............

Ewe onvergeetlik, maar in ’n gans ander toon – deurweek van piëteit – is die laaste twee hoofstukke, waarin onder meer die toespraak beskryf word wat genl De Wet by oorgawe aan sy manskappe lewer. ’n Stuk spontane veldpoësie.

Wanneer jy die boek se laaste sin lees, wil dit voorkom of Victor, ten spyte van als, tog uiteindelik aanvaar dat daar ’n tikkie waarheid in president Brand se kredo “Alles zal recht komen” steek (bl 153): “’n Rukkie daarna het die lig in die ooste deurgebreek en die oggend het aangebreek, met nuwe hoop en moed om ’n nuwe dag en ’n nuwe lewe te begin.”

Of dít, gesien wat vandag in die wêreld aan ’t gebeur is, ’n billike slotsom is, is dalk te betwyfel. Oor die waardering wat Afrikaanse lesers vir Emslie en Delport se liefdesaak sal hê, kan daar egter geen twyfel wees nie. 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top