Web van leuens deur Marion Erskine: ’n resensie

  • 0

Titel: Web van leuens
Skrywer: Marion Erskine
ISBN: 9780798185240
Uitgewer: Human & Rousseau

........
In die klein myndorpie Goudfontein weet almal iets van mekaar … maar niemand ken die volle waarheid nie.
........

In die klein myndorpie Goudfontein weet almal iets van mekaar … maar niemand ken die volle waarheid nie.

Wanneer drie matrikulante – die ambisieuse hoofmeisie Lerato, die skool se rugbykaptein Marno, en die loskop rebel Clayton – gelyktydig anonieme dreigboodskappe ontvang, begin ʼn gevaarlike speletjie van manipulasie en leuens. Maar wie is so desperaat om hul geheim te beskerm dat moord die enigste opsie word?

“In Goudfontein bly niks ’n geheim nie” (bl 197).

“Klein dorpies het groot geheime,” beloof die voorblad van Marion Erskine se jongste boek, Web van leuens. En dit maak daardie belofte waar.

Dis ’n moderne hoërskool-whodunit met ’n Suid-Afrikaanse geur, vol draai-en-keer en meer as een skok. Lerato, Marno en Clayton gaan na die dieselfde skool, maar leef in verskillende wêrelde. Wanneer iemand hulle blackmail is die eerste vrae: Wie? Hoekom?

Wanneer die identiteit van die “Wie?” bekend word, daag hy as ’n lyk op. Ja, dis hartseer dat ’n jong lewe so vroeg die bloudak gaan besoek, maar jy kan jouself vergewe as jy nie van Lohann hou nie.

Die spanning in die verhaal bou vinnig, maar nie te vinnig nie. Ek het my telkens betrap dat ek dink ek weet wat gaan gebeur, net om weer uitgevang te word. Die boek beweeg van “lekker ligte” intrige na oomblikke van werklike diepte.

Die Dri3hoek

Marno, die gewilde rugbykaptein, dra ’n groot geheim en swaar aan skuld. Lerato is die perfekte hoofmeisie, maar haar beeld van foutloosheid word vinnig getoets. Clayton is die tipiese “mess-up” – die een wat deur almal afgeskryf word – en tog sit daar ’n onverwags sagte kant aan hom. Ek hou van hoe die boek wys dat selfs “tipes” in ’n klein dorp nooit net een ding is nie.

Ek hou van hoe die skrywer met “666” gespeel en die satanistiese paniek van die 1980’s en 1990’s gespeel het. Veral aan die einde was dit ’n lekker oomblik – veral met dié dat Strangers things weer binnekort beskikbaar is.

Die afperser

Ek was mal oor die verwysing na die TV-reeks Onder draai die duiwel rond. Ek was mal oor hoe twee generasies saamgekom het met die benaming, maar ook die gebruik van catfishing. Ek stem saam met Clayton dat Nogel ‘n bietjie meer op datum moet wees – hy is ’n speurder in die supertegnologiese tyd.

Waar ek vasgesteek het

Ek het die boek verslind, maar daar is ’n paar goed wat my laat stilhou het:

– Lerato se betasting

Lerato vertrou die Tinder Swindler en hy maak ’n video van haar. Hy neem ’n video van haar, op hoog op dwelms, waar vier mans haar betas. Lerato kan dit nie onthou nie, maar later is dit duidelik dat sy nie verkrag is nie.

Omdat sy nie verkrag is nie, voel dit nie “so erg” nie. Dis ’n eerlike ervaring – een wat ek al baie keer self uitgedruk het – “Dit kon soveel erger gewees het” – maar dit is ‘n gevaarlike idee. Veral in Suid-Afrika, waar seksuele oortredings ernstig en wydverspreid is.

Daardie vae “gee maar in”

My tweede haakplek is van ’n soortgelyke aard: Daar’s ’n toneel waar Karli terugdink aan haar eerste seksuele ervaring met haar kêrel van twee jaar. Sy dink hoe sy “ingegee” het vir haar kêrel.

Dis nie die eerste keer dat ek die frase sien nie – ek mag dit al self gebruik het. Hoe meer ek daardie frase sien, hoe meer pla dit my. “Gee in” klink nie soos opregte toestemming nie. Dit klink soos “Ek wil nie regtig nie, maar ek doen dit, want die alternatief is erger.”

Dit mag dalk realisties wees, maar in literatuur – veral vir jong lesers – moet ons óf wys hoe goeie, wedersydse toestemming lyk, óf wys dat “gee maar in” nie reg is nie.

Waar is die vroulike woede?

Marion wys vroulike woede aan die einde van die boek en ek was soos: Ja, uiteindelik. Ek is ’n voorstander van vroue se rights en wrongs – en ek wens daardie onkeerbare woede moet meer uitgebeeld word in jong meisies.

........
Marion wys vroulike woede aan die einde van die boek en ek was soos: Ja, uiteindelik. Ek is ’n voorstander van vroue se rights en wrongs – en ek wens daardie onkeerbare woede moet meer uitgebeeld word in jong meisies.
........

Ek glo daardie rou vroulike woede – die tipe wat jou regop laat sit – behoort meer plek op papier te kry.

En tog …

Die res was ’n fees: 258 bladsye van toeganklike, lekker lees. Die einde was ’n “chef’s kiss” – daardie tikkie ironie wat wys dat, selfs al het die karakters baie geleer, selfs al groei hulle, bly die nuuskierigheid oor ander mense se geheime hardnekkig aan die lewe.

Ek het dit baie geniet. Soos die titel sê: In ’n klein dorp bly niks lank ’n geheim nie. Maar dit maak dit ’n lekker storie om te lees.  

Lees ook:

Cliff-hanger: Geheim in die riete deur Constant van Graan: ’n resensie

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top