Mosibudi Mangena. We can fix ourselves. Building a better South Africa through Black Consciousness. Kaapstad: Kwela Boeke, 2021. 232 ble. ISBN: 978-0-7957-0956-2. Prys: R290.
Mosibudi Mangena (geb 1947) is ’n voormalige minister van wetenskap en tegnologie, ’n voormalige adjunkminister van onderwys en ’n voormalige president van Azapo, die Azanian People’s Organisation. As ’n lid van die South African Students’ Organisation (Saso) aan die Universiteit van Zoeloeland raak hy in 1971 by studentepolitiek betrokke en word later ’n lid van die Black People’s Convention, ’n sambreelliggaam vir swartbewustheidsorganisasies. In 1973 word hy gevonnis tot vyf jaar op Robbeneiland en met sy vrylating in 1978 vir ’n verdere vyf jaar na Mahwelereng in Lebowa verban. In 1981 gaan hy in ballingskap na Botswana en later na Zimbabwe. In die buiteland sluit hy by die Black Consciousness Movement of Azania (BCMA) aan. Na sy terugkeer na Suid-Afrika in 1994 word hy die president van Azapo. Hy verwerf die grade BSc en BSc Honneurs tydens sy gevangenskap en verbanning, en voltooi later ’n meestersgraad in toegepaste wiskunde. Al hierdie grade verwerf hy aan die Universiteit van Suid-Afrika (Unisa).
.........
Mangena word allerweë as een van die bekendste leiersfigure en denkers van Black Consciousness beskou. Hy is die skrywer van agt boeke waarin hy die belang van hierdie denkrigting te berde bring, onder meer die outobiografiese Triumphs & heartaches: A courageous journey by South African patriots (2015). Reeds in dié teks kom vrae en bekommernisse oor die stand van Suid-Afrika, die hardnekkige aanwesigheid van armoede en die toename van misdaad aan die orde. Hierdie bekommernisse word nou dwingender belig in We can fix ourselves.
...........
Mangena word allerweë as een van die bekendste leiersfigure en denkers van Black Consciousness beskou. Hy is die skrywer van agt boeke waarin hy die belang van hierdie denkrigting te berde bring, onder meer die outobiografiese Triumphs & heartaches: A courageous journey by South African patriots (2015). Reeds in dié teks kom vrae en bekommernisse oor die stand van Suid-Afrika, die hardnekkige aanwesigheid van armoede en die toename van misdaad aan die orde. Hierdie bekommernisse word nou dwingender belig in We can fix ourselves. Die oplossings wat hy vir die huidige staat van disfunksionaliteit, swart armoede en korrupsie aanbied, loop deur die poorte van "recast Black Consciousness" (bl 200), soos die subtitel aandui: Building a better South Africa through Black Consciousness.
In sy jongste boek sluit hy as aanhangsel een van Steve Biko se referate in wat 50 jaar gelede tydens ’n Saso-leierskapskursus voorgedra is, naamlik "The definition of Black Consciousness". Die breë trekke daarvan sal vir die ingeligte leser bekend wees: Om swart in die sin van Black Consciousness te wees, is nie ’n saak van velkleur nie, maar ’n weerspieëling van ’n geestelike ingesteldheid. Om jou as swart te definieer, beteken dat jy op die pad van bevryding is, omdat jy die juk van onderdanigheid en minderwaardigheid begin afwerp het. Onderliggend aan Black Consciousness is ’n breë solidariteit met alle verdruktes wat met apartheid se verdeel-en-heers-strategieë apart en antagonisties teenoor mekaar gehou word.
Dit is ’n benadering wat die klem plaas op die aankweek van selftrots en eiewaarde. Dit behels ook die erkenning van die waarde van Suid-Afrikaanse inheemse kulture, godsdienste en lewensbeskouings. Selfs tuislandleiers soos Mangosothu Buthelezi, die Matanzimas van die eertydse Ciskei en Transkei, en leiers in die Verteenwoordigende Kleurlingraad soos Allan Hendrickse het Black Consciousness aantreklik gevind. ’n Ontwikkeling wat veral linkse politieke kommentators destyds agterdog teen dié tendens laat uitspreek het.
Vyftig jaar gelede was "wit rassisme" vir Biko en sy makkers die groot mag waarteen in opstand gekom moes word. Die norme van witheid as algemeen-geldend is afgewys, en Black Consciousness-voorstanders wou die verwronge beelde wat van hulself en hul gemeenskappe deur onder meer onderwys en godsdiens tot stand gekom het, teenwerk. "Real black people [are] not appendages to white society," skryf Biko (212).
Black Consciousness het sy hoogtepunt in die laat 1970's bereik. Dit is sedertdien in populariteit vervang deur eers die nierassige United Democratic Front (UDF) en later, teen die middel van die tagtigerjare, na hul gedwonge stilte van die 1960's en 1970's, die African National Congress (ANC). Die pan-Afrikanistiese en Black Consciousness-tendense in die plaaslike politiek het sedert die aanbreek van politieke bevryding min aanhang in die land geniet. Gesamentlik het hulle nooit meer as ses parlementêre setels verower nie. Dit is eers met die Economic Freedom Fighters (EFF) met hul pan-Afrikanisme-versnit dat die stroming noemenswaardige aftrek kry, hoofsaaklik vanweë die kultusfiguur van Julius Malema. Azapo self het nooit meer as een setel verower nie en is sedert 2014 glad nie in die parlement teenwoordig nie.
Mangena, wat rondom die eeuwending Azapo se enigste parlementêre verteenwoordiger was, se sentrale aanname is dat die oorgrote meerderheid mense in na-apartheid Suid-Afrika nie met Black Consciousness bekend is nie. (Terloops, die naam Azanië, Azapo en die pan-Afrikanistiese tendens se herbenoeming vir Suid-Afrika, kom nie in die teks voor nie.) Nou (is sy verdere argument) is egter ook die tydvak in die land se geskiedenis dat veral swart Suid-Afrikaners Black Consciousness nodiger as ooit voorheen het. Suid-Afrika ná 1994 is ’n land waar die beloftes van vroeër nie volvoer is nie en waar swart mense aan ’n koloniale mentaliteit en ’n gebrek aan selftrots ly. Die lesse van selftrots en eiewaarde van die 1970’s en 1980’s is nie geleer nie. ’n Etos van minderwaardigheid met die verlammende waardes van onder andere selfhaat en afhanklikheid het onder swart Suid-Afrikaners posgevat. Sy jongste boek, skryf Mangena, "concerns itself with the debilitating role of colonial mentality among the black majority that stymies efforts towards the showing of the more human face" (xiii, oorspronklike klem).
........
Dit is die belewing van minderwaardigheid wat geïnternaliseer en van geslag tot geslag oorgedra is: dat jy minder is en nie ewewaarde het nie; dat jy minder in die lewe verdien; dat jou plek in die samelewing altyd ’n trappie laer is; dat hoe jy lyk, minder aantreklik as die norm is; dat jou lyf, jou voorkoms altyd te kort sal skiet.
..........
Koloniale mentaliteit is nie bloot ’n teoretiese begrip nie. Dis die geskiedenis van mense wat bakhand moes staan, hul oë neergeslaan, hul rûe geboë, hul voete skuifelend, hul hande in onderdanigheid vasgeklem. Die geslag wat gejy en gejou is en sonder aansiens des persoons by die voornaam genoem is. Hulle wat moes stilbly-en-bekhou; ’n tree agter moes stap en agter op die bakkie moes sit. Dit is die belewing van minderwaardigheid wat geïnternaliseer en van geslag tot geslag oorgedra is: dat jy minder is en nie ewewaarde het nie; dat jy minder in die lewe verdien; dat jou plek in die samelewing altyd ’n trappie laer is; dat hoe jy lyk, minder aantreklik as die norm is; dat jou lyf, jou voorkoms altyd te kort sal skiet. Dít is die reële aanwesigheid van die slawe- en koloniale mentaliteit wat Mangena in gedagte het, maar nou in nuwe vorme in die voorkoms van nuwe verskynsels in ’n staat waar swart mense polities in beheer is.
In sy nuwe gedaantes sien hy oorblyfsels van die koloniale mentaliteit in die minagting en verwaarlosing van die Life Esidimeni-pasiënte, die onbeskoftheid van verpleegpersoneel en werkers behorende tot Nehawu wat hulle skuldig maak aan die rommelstrooiery en inmengery in mediese prosedures. Hy sien dieselfde by ’n swart middelklas met ’n gebrek aan selftrots en eiewaarde wanneer dit kom by die onderrig van hulle kinders: "It is simply a very eloquent demonstration of inferiority complexes. While other communities insist on teaching their own children and, most importantly, in their own language, blacks in South Africa go cap in hand to beg them to teach their children" (13).
Hierdie slawe- en koloniale mentaliteit is dwarsdeur die samelewing te bespeur. Hy sien dit in die gebrek aan ondersteuning van die besighede van swart mense: "Blacks […] do not support each other’s economic endeavours or professional services as much as they should […] There is no white person instructing us not to support one another, we have colonial mentality to thank for that" (78). Net so sien hy die koloniale mentaliteit manifesteer in grondhervorming: "[W]e have a lot. Unfortunately, due to colonial mentality and lack of self-belief, we have an ingrained tendency to look elsewhere for almost all our development needs. But most fundamentally, we do not believe in the power of our own people to change their cicumstances" (116).
Koloniale mentaliteit en ’n minderwaardigheidskompleks manifesteer ook as ’n gebrek aan etiese en morele verantwoordelikheid, ’n gebrek aan patriotisme en die voorkoms van geweld teen weerloses. Dit is ook aanwesig in die najaag van eiebelang deur korrupsie en onbevoegdheid. Hy bespeur dit in die gebrek aan dienslewering en in die plundering van staatshulpbronne en instellings soos VBS Bank, ’n bank vir die armes van Limpopo. Die instellings soos die polisie en die vervolgingsgesag wat moet toesien dat wet en orde gehandhaaf en die reg toegepas word, ly aan dieselfde kwaal: "Because they are often preoccupied with finding ways to steal from the public purse, they are unable to concentrate on their real jobs. Due to their colonial mentality, they also have deadened hearts with regards to serving their people, for whom they have no love" (149).
.......
Syns insiens kry swart kinders ’n stewig dosis minderwaardigheid in wanneer die enigste swart mense wat hulle op die skoolterrein sien, die tuiniers en skoonmakers is, of wanneer wit onderwysers subtiel teen hulle diskrimineer, of wanneer hul tale, kulturele mores en kultuur verdag gemaak word.
.........
Mangena is oortuig dat ’n oop, normale en antirassistiese samelewing nie gebou kan word terwyl meerderwaardigheid- en minderwaardigheidskomplekse aanwesig bly nie (14, 31, 198). Syns insiens kry swart kinders ’n stewig dosis minderwaardigheid in wanneer die enigste swart mense wat hulle op die skoolterrein sien, die tuiniers en skoonmakers is, of wanneer wit onderwysers subtiel teen hulle diskrimineer, of wanneer hul tale, kulturele mores en kultuur verdag gemaak word. Hindernisse word in die pad van kinders gewerp deur hulle in ’n vreemde taal te onderrig: "it is the slavish worship of colonial languages and culture that induces us to subject our children to this" (15; kyk ook 27 ev). Deel van ’n doeltreffende dekoloniseringsprojek is vir hom die omarming van moedertaalonderrig: "Instead of us fighting the Afrikaners demanding that they abandon mother-tongue education, or trying to squeeze black children into Afrikaans-medium schools, we (should) actually encourage the practice" (29).
Alhoewel Mangena deurgaans die frase “swart mense” in die oorkoepelende sin gebruik, bedoel hy in klassieke Black Consciousness-taal meestal non-whites. In Biko se woorde: Daardie persoon "(whose) inspiration is whiteness […] that person is a non-white" (208). Die geboë rûe van die moderne koloniale mentaliteit vir swart mense is "that our minds (are) in chains" (42), soos dié wat pruike, haarverlengings en weaves dra eerder as om hul "authentic selves" te wees (48). Dit is hierdie hunkering na witheid ook op ander kultuurgebiede "that robs our society of the richness and diversity of our cultural heritage and reduces us to a plastic people that is trying too hard to be who they are not" (43). Dieselfde geld die voorkoms van kultuurpraktyke en -produkte in populêre media soos drama-aanbiedings en televisie wat middelmatigheid verhef tot vermaak met hul dun storielyne wat die droesem van bendes, geweld en onverkwiklike onderwêrelde bagger.
Die beeld wat Mangena van die huidige swart elite en leidende groeperinge in die land skets, is dié van mense wie se hebsug allesoorheersend is met geen verbintenis tot breë lotsverbetering in die samelewing of solidariteit met die gemarginaliseerde nie: "If the Afrikaners were motivated by nationalism and love for ’their people’, die Volk, we are motivated by nothing" (90). Dit is wanneer mense in iets glo dat hulle iets bereik, maar wanneer jy in niks glo nie, kan daar geen koers of bestemming wees nie: "Our non-existent belief in anything is reducing us to an amorphous people that has no direction, no desire to go anywhere" (95).
In 16 hoofstukke ondersoek Mangena op soortgelyke wyse uiteenlopende sektore van die Suid-Afrikaanse samelewing: koskultuur, vervoer, die plaaslike ekonomieë en owerhede, grondhervorming, migrasie, behuising, polisiëring en misdaadvoorkoming. Die meerderheid van die hoofstukke volg ’n herkenbare struktuur wat ’n diagnose van die probleem aan die hand van onlangse voorbeelde en anekdotes behels, ’n verwysing soms na die situasie onder die apartheidsregime, gevolg deur ’n beskrywing van disfunksie, wanadministrasie en verval onder die ANC-bewind en ’n uitwys van die oorblyfsels van ’n koloniale mentaliteit en die mislukkings wat verhoed dat ’n omstandigheid waar ewewaarde gedy, ontwikkel het.
Telkens toon hy aan hoe die potensiaal vir groei, ontwikkeling en selftrots ondermyn word. In elke hoofstuk kom hy tot die slotsom dat Black Consciousness die oplossing uit die moeras van minderwaardigheid bied. Dit is deur Black Consciousness dat eiewaarde en waardigheid herstel kan word. Net so is dit deur Black Consciousness dat respek vir die self, andere en die omgewing en patriotisme vir die land gekweek kan word. ’n Grootskaalse onderneming om die waardes van Black Consciousness te verkondig en mense te conscientise, dit is in te lig en bewus te maak, is onder meer nodig: "Black Consciousness, preferably in large volumes, is the Wi-Fi we need to enable us to tackle effectively the problems we face in our country" (86).
Dit is dié kenwyse wat ’n perspektief vir ’n toekomstige Suid-Afrika met sy rigtinglose swart elite en predatoriese middelklas en selfbehepte staatsdiens behoort te onderlê: "There is nobody in the world who acts outside a certain worldview, whether or not that individual is conscious of that worldview and can articulate or name it" (86). In sy ideale wêreld voorsien Mangena dat veral staatsamptenare as deel van hul formele opleiding ’n stewige dosis Black Consciousness en Afrika-humanisme sal inkry: "Considering the massive problem we have in colonial mentality, this is more than necessary. [...] [I]it is not through lack of knowledge that we find ourselves in this mess, but lack of consciousness, ethics and a spirt of services to others" (200).
Die impak van Black Consciousness en dié wat die belewing deurgemaak het, kan onteenseglik getuig van die diepgaande uitwerking wat die aanvanklike versetdenkrigting op hulle as individue gehad het. Die afwerp van die kettings van onderwerping en minderwaardigheid en die kweek van selftrots en eiewaarde kan sekerlik blywend wees. Om jou rol in die wêreld te speel met ’n onderliggende etos van diens, selfhandhawing, solidariteit en menswaardigheid is edelmoedig. Dit is ’n lewenshouding soos met talle godsdienste wat van ons beter mense wil (en waarskynlik kan) maak. Tog is Mangena se geloof in Black Consciousness as ’n wonderkuur om mense van ’n koloniale mentaliteit te bevry lofwaardig, maar waarskynlik onrealisties.
Black Consciousness het wesenlike beperkinge. In die sewentiger- en tagtigerjare het dit hoofsaaklik ’n studente- en petite bourgeoisie-beweging gebly. Met al hul idealisme het Black Consciousness-voorstanders nooit daarin geslaag om effektief mense uit alle lae van die samelewing te concientise nie. Dit het nooit tot ander vlakke van die samelewing deurgedring nie. Polities gesproke bly dit ’n randverskynsel in die Suid-Afrikaanse politieke omgewing, soos Azapo se nieparlementêre aanwesigheid getuig. Meer nog: Die Suid-Afrikaanse ekonomie is gevestig op die grondslae van kapitaalakkumulasie waar eiebelang hoogty vier. Beleidsrigtings soos swart ekonomiese bemagtiging soos tans toegepas dien ’n elite eerder as die totale bevolking. Geweld, misdadigheid en korrupsie mag simptome van die oorblyfsels van ’n koloniale mentaliteit wees, maar dit is sekerlik ook ’n simptoom van ’n ekonomiese en politieke bestel wat sulke wanstaltighede moontlik maak. In dié opsig behoort die stelsel eerder as individuele akteurs van nader bekyk te word.
......
Dit is ’n tydige publikasie wat die gebreke van die huidige Suid-Afrika op vele vlakke blootlê. Halfpad deur die boek, met die meedoënlose opstapeling van voorbeelde van disfunksionaliteit en onwaardige optrede, mag ’n magtelose lamheid die leser beetpak. Die kritiek teen die huidige stand van sake en die toekomsvoorstelle is in sigself die moeite werd om te lees.
.........
We can fix ourselves is ’n politieke selfhelpboek wat herinner aan die manifeste van kandidate wat probleemgebiede diagnoseer, beleidsrigtings formuleer en oplossings aanbied. Dit is ’n tydige publikasie wat die gebreke van die huidige Suid-Afrika op vele vlakke blootlê. Halfpad deur die boek, met die meedoënlose opstapeling van voorbeelde van disfunksionaliteit en onwaardige optrede, mag ’n magtelose lamheid die leser beetpak. Die kritiek teen die huidige stand van sake en die toekomsvoorstelle is in sigself die moeite werd om te lees. Mangena toon oortuigend aan dat ons nog nie ’n samelewing ná apartheid tot stand gebring het waar groter menswaardigheid gedy, eiewaarde voorop staan of burgers se volle potensiaal ontwikkel is nie. Sy oortuiging van die helende uitwerking van Black Consciousness is aandoenlik, maar mag plek-plek self idealisties en naïef voorkom.