Wayde van Niekerk: ’n Held is vróég vir ons gebore

  • 3

Dit sou ’n Maandagoggend wees soos geen ander tevore nie, en dit begin met die geknal van ’n afsetter se pistool. Minder as ’n minuut later – 43,03 sekondes om meer presies te wees; selfs ’n breukdeel van ’n sekonde geld immers in dié geval – was die hele wêreld wakker.

Die wekker op die bedkassie het nou ’n naam gekry.

***

Oor Wayde van Niekerk se ongelooflike prestasie is die afgelope week reeds baie gesê en getwiet; oor sy uitsonderlike loopbaan tot nou is Facebook-mure en koerantbladsye vol geskryf. Wat dit ’n mens oor laat wonder het, was die betekenis van woorde of konsepte soos "held", "heldhaftigheid", "heldefiguur", "heldestryd", "heldeverering" – en wat ons hieroor by Van Niekerk kan leer.

Die held is gewoonlik iemand wat byna bomenslik presteer of wat iets buitengewoons doen om ander mense te help – ’n heldedaad, noem ons dit.

Jy vind die held in boeke, in poësie, in sepies, in flieks, in radiovervolgverhale, in liefdesliedjies, in vredes- en oorlogstyd, in vernuwende tegnologiese uitvindsels, en in die werklike, alledaagse lewe, in alle ouderdomsgroepe, geslagte, generasies, nasies, rassegroepe – en vir baie mense maak helde hul eerste verskyning in die Bybel.

***

’n Week nadat sy verhaal die wêreld- en sosiale media oorheers het, is dit duidelik dat vier karaktereienskappe deur ons nuwe Suid-Afrikaanse held uitgeleef word:

Veggees

Wat nie almal weet nie – of straks moeilik sal vind om te glo – is dat Wayde van Niekerk vroeggebore is. In ’n insetsel op die joernaalprogram Top Billing vroeër maak sy stiefpa, Steven Swarts, melding van sy veggees wat reeds van kleins af sigbaar was. Dit is sy ma, Odessa, wat die besonderhede oor sy traumatiese geboorte invul: “Ek was 29 weke swanger toe ek aan Wayde geboorte geskenk het,” vertel sy aan News24. "Hy was so klein en so broos. Die professor het gekom en gesê: 'Ek dink u kind het net 24 uur om te lewe ...'"

Dit was op 15 Julie 1992 - nou presies 24 jaar jaar gelede ...

Nederigheid

Jy sien dit omtrent elke keer as hy ’n wedloop wen of ’n media-onderhoud doen – selfs toe Usain Bolt, die superster van wêreldatletiek, hom Maandag ten aanskoue van TV-kameras en die Olimpiese toeskouers gelukwens: ’n vae, onseker kyk op Wayde van Niekerk se gesig, kompleet asof hy nog nie heeltemal tot verhaal gekom het nie; asof sy plofbare talent nog nie behoorlik ingesink het nie.

Of nee wag: dit dui op sy nederigheid. Geen oormatige feesviering vir hom nadat hy ’n wedloop voltooi het nie; wat hy wel doen, is om op sy knieë te gaan, ten spyte van die TV-kameras, te midde van sy uitasem opponente en ondanks die juigende skare, om sy Skepper te bedank.

Jy hoor Wayde van Niekerk ook nooit sleg praat van sy opponente nie of vertoonmakerig optree nie; hy gee veel eerder erkenning aan ander wat voor hom die hoogste piek bereik het.

Oor die geleentheid om in die aanloop tot die Rio-spele in Jamaika saam met Bolt te oefen sê hy in ’n onderhoud: "Ek is lief om te leer, lief om myself te verbeter – [en] wie beter om van te leer as die wêreld se beste?"

O, ja, en dan is daar ook nog die selfies wat twee wêreldsterre saam met Wayde gevat het – een ’n Amerikaanse tenniswonder, die ander ’n Nieu-Seelandse rugbymonster, albei met Williams as van; hulle twitter-name is @serenawilliams en @SonnyBWilliams. Dis Sonny Bill wat oor Wayde se nederigheid getwiet het: "Meet the 400m world champ today such a humble dude, good luck my South African brother."

Christelike waardes

In ’n wêreld waar jy gedurig in die kollig is, omring deur flitsende kameras, en selfs ’n showman soos Usain Bolt wat uit sy pad gaan om jou te kom gelukwens, moet dit moeilik wees om getrou aan jouself te bly. Nie vir Wayde van Niekerk nie: dit is waarom hy nie huiwer om sy Christelike waardes uit te leef nie.

Jy hoor hom die afgelope week, nadat hy die 400m-wêreldrekord verpletter het, sê: "Om eerlik te wees, ek het nie volle vertroue in myself gehad nie. Ek het geglo dat die Here iets vir my beplan." En vroeër, so drie maande vóór die Rio-spele, toe hy gevra word oor sy geloof wat hy ook by die 2015 Wêreldkampioenskap ten toon gestel het: "Dit is wat my geestelik versterk"; en "Ek glo dat God my met hierdie talent geseën het en dat ek dit nie moet opmors nie."

Die belangrikheid van familie in sy lewe is ook duidelik. Waarom anders sou hy sy wengeld vir die 400m by verlede jaar se Wêreldkampioenskap gebruik het om sy ouers, meisie en ander familielede na Rio te laat reis?

Erkenning aan ander

Of dit nou Caster Semenya is of Anaso Jobodwana, een mede-atleet wat sonder huiwering erkenning aan hulle gee is Wayde van Niekerk. Dis vir hom lekker, sê hy, wanneer hulle saam oorsee deelneem en ’n klein Suid-Afrikaanse familie vorm.

Oor Bolt die volgende: "Ek geniet dit om saam met hom te wees en na hom te luister. Hy moes as atleet al baie in sy lewe deurmaak."

Oor sy afrigter, die befaamde 74-jarige tannie Ans: "Ek is verskriklik dankbaar om deel van haar groep te wees. Ek is bly dat sy die shine kry wat sy verdien."

Oor sy "pa", Steven Swarts, wat hy as die persoon wat hom die meeste beïnvloed het – en ’n uitsonderlike rolmodel - beskou: “Hy is dalk nie my geboorte-pa nie, maar ek glo hy is my Godgegewe pa.”

In die gesin se huis in Bloemfontein is hierdie boodskap tussen Wayde se bekers, medaljes, trofeë, foto’s en sertifikate: "The greatest gift I ever had came from God. I call him DAD."

***

Dit is sy ma, Odessa, wat ná sy Olimpiese opskudding gesê het haar stem het omtrent weggeslaan ná die wegspring en dat sy eers weer in die laaste 100m of so ’n klank kon uitkry. Ook tannie Ans se mond het letterlik oopgehang oor wat op die baan aan die gebeur was, wys ’n foto op twitter, ofskoon sý van alle mense geweet het dit is presies waarvoor sy en haar steratleet vooraf geoefen het.

Nóg ’n bietjie later sê ma Odessa in ’n radio-onderhoud: "Dit is asof die kind die wêreld wakker gemaak het – nie net Suid-Afrika nie."

Wat dié wakkermaakatleet se prestasie egter meer betekenisvol vir sy landsgenote behoort te maak, is die feit dat Wayde van Niekerk, boorling van ’n plek waar geweldsmisdaad hoogty vier, nuwe betekenis gegee het aan die klap van ’n pistoolskoot in die ongoddelike ure van ’n Maandagmôre.

  • 3

Kommentaar

  • Gustaf Claassens

    Bevestiging van 'n nederige en uitsonderlike mens en atleet. Sy prestasie op die atletiekbaan is amper iets soos die wêreld se eerste vliegtuig deur die klankgrens. Dit lyk of Suid-Afrika se mense sommer meer vrylik asemhaal; so nodig in 'n land wat bloed stik en roggel en deur politici met korrupsie in die grond regeer word.

    Sport het weer, net soos in 1995 tydens die rugbywêreldbeker, uitkoms en hoop gebring. Nie alleen bou dit brûe nie, dit skep hoop en maak dat mense met ander oë na mekaar kyk. Dis hoogtyd dat meer in sport belê word en beter na ons atlete (veral finansieel) gekyk word. Wenners verander die menslike psige en wanneer dit gebeur, verander alles meesal ten goede. Geluk aan Wayde en al die medaljewenners van span Suid-Afrika maar ook aan hulle wat hul bes gegee het en wonderlike ambassadeurs van ons land was. Van julle se beurt kom nog.

  • Raymond van Diemel

    Pragtig en roerend saamgevat, geluk Heinrich. Ons stem heelhartig saam! Nie elke knal van 'n rewolwer beteken die seermaak of dood van 'n slagoffer nie? Een knal mag die grootste grootheid baar ...

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top