Wat’s nuus?
Skrywer: Riaan Cruywagen
Uitgewer: Naledi
ISBN: 9781920518158
Bladsye: 222
Prys: R199
Koop Wat's nuus by Kalahari.com.
Hoekom sou jy oor Riaan Cruywagen wou lees? vra ’n jong man nou die dag op Facebook. Dit was pas nadat die befaamde nuusleser se debuut, Wat’s nuus?, verskyn het.
Die optekening van ’n stuk Suid-Afrikaanse geskiedenis – meer bepaald “die goue era van radio” en die ontstaan van televisie in Suid-Afrika – sou ’n belangrike rede kon wees. Hoe anders sal ons kinders en kleinkinders weet hoe dit was?
Tweedens is daar Cruywagen se besondere skryf- en vertelvermoëns. Sy gebruik van Afrikaans is keurig, foutloos, maar tog onopgesmuk. Dis ’n bewys dat loslit-Afrikaans nie Engelse woorde nodig het nie. Dié nuusleser redigeer immers al vir jare sy eie nuusberigte, vertel hy self.
Cruywagen het beslis die vermoë om die leser met geur en kleur in te trek in ’n storie, jou te boei, te laat lag … Daarby het hy wat alle skrywers behoort te hê: ’n fyn waarnemingsvermoë. Hy kry dit ook reg om humoristiese beelde op te tower: sy “bakkies vol grimering” vir televisie laat hom glo “meermale na ’n kruising tussen Boy George en ’n oorlogsugtige Indiaan” lyk, lees jy. Twee manne word beskryf as “so glibberig soos ’n vetgesmeerde paling in ’n emmer seepsop”. En jy lees dat sy broer se kennis van die Franse taal “beperk is tot Chevrolet Coupé”!
Die derde rede waarom Riaan Cruywagen wel ’n boek moes skryf, is sy legende-status. Ons kén hom, voel dit vir ons. Dié nuusleser kuier immers al meer as 7 000 aande in ons sitkamers. Mens wil half saamstem met die tannie wat gesê het: “As Riaan die nuus lees, het dit regtig gebeur.”
Vierdens verteenwoordig Cruywagen nostalgie. In hierdie veranderende wêreld is hy een van die min standvastighede. Iemand van wie ons hou en wat met dié bekende frase: “Dit is die Nuus om Sewe op SABC2 – goeienaand” op ’n manier roetine aan ons lewens gee. Selfs sy haarstyl het deur die jare dieselfde gebly.
As jy soms na ’n vroeëre tyd hunker, trek gerus Wat’s Nuus? nader. Dis so lekker om weer ou bekendes se “stemme” te “hoor”. Dié van die geliefde rugbykommentator Gerhard Viviers en dié van omroepers soos Cobus Robinson, Daniël Kirstein, Pierre Marais en Esmé Euvrard. Cruywagen skryf dat Euvrard, wat later ’n “hegte vriendin” geword het, hom dadelik op sy gemak gestel het toe sy op ’n hoë omroeperstoel geklouter het om voor die mikrofoon stelling in te neem. Sy het haar borste in haar hande geneem en gesê-vra: “Ai tog, ek weet nooit of ek die goed op die lessenaar of op my skoot moet laat rus nie!”
Deur die jare was die-man-met-die-meer-as-300-dasse die een wat ons oor groot nuusgebeure ingelig het. Mens dink aan daardie eerste toetsuitsending in 1975. Cruywagen hou steeds dié bulletin. Die belangrikste nuusgebeure op 26 November 1975 was ’n besoek van PW Botha, destyds die minister van verdediging, en die hoof van die weermag, adm Bierman, aan die operasionele gebied in die noorde van Suidwes-Afrika (Namibië); die vonnis van nege jaar tronkstraf wat Breyten Breytenbach ingevolge die Wet op Terrorisme opgelê is, asook die gespanne toestand in Portugal ná ’n mislukte staatsgreep.
Dit was die dae van die 16 mm-film, vóór videokassette, skryf Cruywagen. Toe moes films met Kaapse nuus op Johannesburg toe gevlieg word. ’n Bode het dit by die lughawe opgelaai en by die SAUK se laboratorium ingegee waar dit ontwikkel is. Later is die film met behulp van ’n letterlike geknip en geplak geredigeer. Dit was nog lank voor satelliet- en mikrogolfverbindings. Die nuus was so vars soos gister se koerant …
Swaar en tragiese nuus moes Cruywagen dikwels lees. Soos oor moord en verkragting; terreur soos die viervoudige aanslag op die VSA deur Al-Kaïda (11 September 2001) waarin byna 3 000 mense omgekom het; natuurrampe soos die tsoenami in die Indiese Oseaan (26 Desember 2004) wat die lewens van meer as 230 000 mense in 14 lande geëis het; asook die hartseer getuienis tydens die sittings van die Waarheid-en-Versoeningskommissie. Sonder sy sin vir humor sou hy seker ondergegaan het, het Cruywagen in ’n onderhoud gesê.
Hoewel Wat’s nuus? ’n outobiografie genoem word, verkies dié nuusleser om daarna te verwys as “vertellings oor my lewe en loopbaan”. Hy wil klaarblyklik nie aanmatigend klink nie. Maar watter vertellinge is dit nie! Só ’n skerp geheue is nie almal beskore nie – die skrywer onthou in besonderhede, en dít chronologies. Dit sit ook nie in elkeen se broek om so humoristies te kan skryf nie.
Jy lees oor Cruywagen se grootwordjare in Ferndale, die voorloperdorp van die groter Randburg, toe daar nie elektrisiteit, munisipale water of riolering was nie. Oor hoe die gesin ’n verskalf in ’n motor vervoer en daarom deur die verkeerspolisie aangekeer is. Jy lees oor die nuusman se Florence Nightingale van ’n ma wat hom laat besef het dat die werk van ’n huisvrou een van dié veeleisendste take is; oor sy pa wat vinnig ’n sleutel vir hul 1937-Oldsmobile gesny het nadat syne in ’n dam beland het. Ook oor hoe dié pa, vanweë sy fotografiese geheue, vir sy seun lang passasies uit sy kop kon voordra uit die werk van Keats, Shelley en Wordsworth.
Wat’s nuus? lig jou in oor vele minder bekende feite aangaande Cruywagen: hy het ’n babakompetisie gewen; hy wou aanvanklik vlieënier word; en hy is ’n orrelis van formaat. Die nuusman vertel ook dat hy “’n kosbare kleinood” het: ’n knipmes met die reliëfafbeeldings van Paul Kruger en Christiaan de Wet op die een kant en die Transvaalse Vierkleur en republiekwapen op die ander kant.
Deurentyd besef die leser dat Cruywagen ’n bok vir sports is. Hy hét immers in ’n Jan Blohm-video opgetree en vir ’n advertensie in ’n bad met skamelgeklede meisies gesit. Weliswaar met ’n pak klere aan, “want my ma het my geleer om ordentlik aan te trek”!
Wat ’n vreugde om uit die perd se bek te hoor wat daardie aand gebeur het toe hy in die oog van die kamera so onbedaarlik aan die lag geraak het. Ja, die insetsel waarna hy moes kyk, was snaaks. So snaaks dat sy mede-aanbieder, Engela Veitch, gedink het dis beter as sy uit Cruywagen se gesigsveld verdwyn. Sy seil toe van haar stoel af tot onder die nuuslessenaar in. Dít het hom histeries gehad, vertel Cruywagen in sy boek.
Wie sal ook ooit vir Haas Das kan vergeet? Mens het altyd gewonder hoe die nuusleser die stem van die haas in ’n kinderprogram geword het. Tog seker nie net omdat hy weet hoe om nuus te lees nie … In Wat’s nuus? vertel Cruywagen hoe hy “per ongeluk” dié “rol” losgeslaan het. Hy het ’n grap in ’n snaakse stemmetjie aan sy programkollegas vertel. Louise Smit, wat al radeloos gesoek was na die perfekte stem, skree toe: “Dis my haas! Dis my haas!” Cruywagen dog sy het al haar varkies verloor.
Insiggewend was die “stryd” wat vroue gestry het om as nuuslesers erken te word. Anna Neethling-Pohl, toe nog van die Afrikaanse Radiodiens, het glo op ’n keer vir haar baas geskree: “Dink jy ek kan nie nuus lees nie net omdat ek twee borste het?”
Die reis deur Cruywagen se lewe sluit selfs ’n draai in Nederland in. Daar het hy tydens die hoogtepunt van apartheid (in die sewentigerjare) by die Afrikaanse afdeling van Radio Nederland Wêreldomroep gaan werk. Die leser “besoek” ook Amerika, waar Riaan in 1981 die SAUK se verteenwoordiger in die Verenigde Nasies (VN), die VSA en Kanada geword het - kort ná Ronald Reagan se inhuldiging.
In Amerika het Cruywagen onderhoude gevoer met gerekendes soos die Pulitzer-pryswenner James A Michener en senator Jeremiah A Denton, ’n Republikein van die staat Alabama. Tydens die Viëtnam-oorlog was Denton een van die mees senior Amerikaanse offisiere wat krygsgevange geneem is. Hy het veral bekendheid verwerf vir ’n onderhoud wat die kommunistiese Noord-Viëtnamese in 1966 met hom gevoer en uitgesaai het. Dit was veronderstel om weer te gee dat Denton en sy medegevangenes goed behandel word. Tydens ondervraging het admiraal Denton egter deurentyd die woord torture in morsekode met sy oë geknip – die eerste duidelike en eerstehandse boodskap wat die Amerikaanse intelligensiedienste bereik het oor die omstandighede waarin krygsgevangenes hulle bevind het. Voorwaar fassinerende leesstof.
Alles in Cruywagen se lewe was nie altyd maklik nie. Hy en sy broer, Chrisjan, het immers hul suster, Christien, net voor haar troue in ’n motorongeluk verloor. Die effek van dié tragedie word feitelik, sonder sentimentaliteit, maar met deernis weergegee. Dit ruk aan die hart wanneer jy lees dat Cruywagen se vrou, Riana, sy suster se nagedagtenis wou eer deur die trourok wat sy nooit beskore was om te dra nie, op háár troue met Cruywagen te dra. Daar was ook die hartseer tyd toe van sy kollegas hul werk verloor het.
Daarteenoor lees die komiese insidente lig en lekker. Soms wou nuus-insetsels nie speel nie. Of het ’n regisseur in Cruywagen se oor gefluister dat hy dadelik (en onverwags) vir ’n ander kamera moes kyk. ’n Ander keer het ’n papegaailens (waarop die teks staan) skielik onklaar geraak ...
’n Ander resensent het Cruywagen se boek liggies gekritiseer oor hy nie uitbrei op sy ervaringe van gebeure soos die Soweto-opstande, die grensoorlog en die oorgang na ’n demokratiese Suid-Afrika nie. Maar daar is ’n grondige rede. Wanneer hy so dikwels gevra word hoe hy dit reggekry het om te midde van al die woelinge en veranderinge by die SAUK aan te bly, sê hy: “Ek dra geen politieke bagasie nie.” Meer pertinent gestel: hy het hom doelbewus nooit by ’n politieke party geskaar nie.
Hoe lank sal ons nog ons gunsteling-nuusleser in aksie kan sien? Cruywagen antwoord ten slotte: "Ek oefen nou al sedert 1975 om die nuus aan te bied. Die dag as ek dit regkry, sal ek uittree!"
Steek die kaggel aan, skink ’n glas wyn en skop jou skoene uit. Dis hoe jy Wat’s nuus? behoort te lees. Dié resensent beloof jou ’n pretrit wat die lente in jou wintergees sal terugsit.
* Riette Rust is ’n joernalis en skrywer. Haar omstrede kortverhaaldebuut, ’n Lyf onthou, is onlangs deur Protea Boekhuis uitgegee.


