Wat’s in ’n naam?

  • 2

Prent: 165106 from Pixabay. "A rose by any other name ..." (William Shakespeare, Romeo & Juliet)

Riette Hugo deel ’n komiese brief met LitNet se lesers. Die inhoud hiervan is fiktief.

Eintlik is my ma en pa die oorsaak van die geboelie wat ek op skool ervaar het. Dit het alles by hulle begin. My oupa aan vaderskant was Oupa Egbertus. Oupa Eggie. Aan moederskant was daar Oupa Petrus Ignatius. Oupa Iggie. En ek was die enigste seun tussen ’n klomp meisies wat name gekry het soos Jolene en Joanne en Josephine en JoMarie en Joslin. My ma het net een keer geskree JO... dan was daar vyf wat geantwoord het. 

Toe word ek na albei my oupas vernoem: Petrus Ignatius Egbertus Liebenberg – dit klink nogal na ’n kroonprins wat gedoop word, maar daar was geen geldige rede waarom ek daardie name gekry het nie. Daardie oupas het albei sonder ’n sent op hulle name gesterf. My ma was sommer vies dat sy nog vir Oupa Iggie ’n ordentlike kis uit haar eie sak moes betaal. 

Nou kyk, as jy dit hardop uitsê, klink dit nogal belangrik. Petrus Ignatius Egbertus. My ma het dit dikwels gebruik as sy kwaad was vir my. As sy dit met ’n harde stem gesê het, het ek en my vriende sommer dadelik geluister. Maar skryf dit neer en dit gaan sommer vir twee lyne in die skryfboek aan. En skryf die afkorting op die mooi skoon voorblad van jou pas-oorgetrekte wiskundeboek of jou stelwerkboek met ’n prentjie op, dan is daar pêre. Pêre wat proeslag. 

PIE Liebenberg. 

Sommer in graad 1 is ek al Pielie genoem. My ma het dit die eerste keer gehoor toe iemand my op die speelgrond van die skool so genoem het. “Pielie, jou ma wag daar by die hek vir jou!” Sy het daar en dan na die hoof se kantoor gehol en gaan aanmeld dat daar op die speelgrond ernstige vloekwoorde teenoor my gebruik word. By die huis was ek Boeta of Ouboet of Petrus. 

Sy was so ontsteld sy kon nie eers die woord wat hulle my noem, voor die hoof hardop sê nie. Dit het nie gehelp ek vertel haar ek is gewoond daaraan nie. 

Gelukkig was ek nie Koekoe soos my vriend Karel Okkert Ewald Koekemoer nie. Dit was vir my veel erger. Ek moet erken dat ek nie destyds geweet het wat pielie beteken nie. As ek dalk Petrus Ignatius Theunis was, was ek dalk Pit. Of Petrus Arnoldus Liebenberg, dan was ek Pallie. 

Maar ek was nie, ek was PIELIE. Maar toe begin die tekeninge saam met my naam op my bank verskyn. Sulke klein slurpies wat regop staan met olifantoortjies langsaan. Ek was dan net ’n klein Pielie, het die ander vir my gesê. 

 ȸ 

Dit het nog erger geword toe ons rymwoorde in Juffrou Pieterse se klas begin leer het. Kielie en Pielie. En toe begin die rympies. Wie wil Pielie kielie? Pielie willie kielie nie. Kinders wat lag dat hulle kleintongetjies wys. Toe ek uitvind waar my pielie regtig sit, het ek maar net saamgelag. Iewers het ek gehoor dat mens maar liewer moet saamlag, dan weet die boelies nie hoe seergemaak jy regtig is nie. 

By die huis moes my ma dit egter ontgeld. “Ma! Hoe kon julle my so genoem het? Was Ma gerook? Waaraan het Ma gedink? Nee, ek dink nie Ma het gedink nie! Hoekom kon Ma dit nie net omgeruil het nie? Niemand sou my ooit Pielie genoem het as ek Egbertus Petrus Ignatius was nie!” My ma het getroos en gepraat en gedreig maar ek wou nie hê sy moes met onderwysers en hoofde praat nie. Wat sou dit tog help? Wat kon hulle sê wat dit vir my beter sou maak? Sonder om self te begin giggel.

“Klas, ons moet almal onthou dat die name wat ons mekaar onnadenkend noem, soms baie seer kan maak. Vat nou maar vir Pie... Petrus Ignatius Egbertus Liebenberg. Sy name is eerbare name wat sy oupas vereer (mens kon hoor wat my ma vir hulle gesê het). Klas! Bedaar. Dis ’n ernstige saak.” 

Later het dit al hoe erger geword. In die koshuis waar seuns dikwels saamstort – en mekaar goed uitkyk – dis waar ek toe met my eie persoonlike, vergrotende trap begroet is. 

Laat een mens in hierdie gehoor net lag. Ek wil net sê, my naam is nou nie meer Pielie nie. 

Ek is trots om te sê ek is nou BERG. 

BERG LIEBENBERG. (Musiek in die agtergrond – Dozi wat sing: “Tussen jou en my lê daar ’n berg...”)

  • 2

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top