
Foto: Canva
waterkaskenades
jy weet hoe warm word die Bosveld
maar toe sebra se strepe afsmelt
het leeu koninklik besluit
om die groot watergat oop te sluit
elke dier was welkom
elke dier was op pad
van blitsige haas tot stadige skilpad
almal het met ’n baljaardery afgekoel
aap met al sy streke het ’n rek
van gemsbok se horings gemaak
vir akkedis se droom
om te vlieg nes ’n draak
aap het te hard getrek
en sy vriend te vêr geskiet
hy’t oorleef maar so groot geskrik
hy was van toe af sonder stert
meerkat en sy broer
was bekend as die tweeling
een was die stoutste
die ander een stouter
toe almal begin krap en kla
oor jeukpoeier op elke handdoek
en die broers lê soos hulle lag
was dit tyd vir dié twee snuiters
om ’n les te leer
die tweeling was slim
daarom kon net jakkals hulle vang
as straf moes hulle saamswem
ingeval jy gewonder het
net vir water
is meerkatte bang
kleine miertjie was woedendkwaad
hy het elke dier uit die water geroep
en net daar gelaat
eers vir renoster
toe vir krokodil
ook vir seekoei
selfs vir ou buffel
koning leeu het vir miertjie gevra
wat hom so kwaad maak
dat hy almal uit die water roep
en dan net daar laat
miertjie het geantwoord
koning leeu
kan u jou verbeel
iemand het my swembroek
uit my kas uit gesteel!

