Waterdraers en houthakers?

  • 2

Ek ken die mense al donkiejare. Ken hulle van toe hulle nog Grend was en met dik beursies rondgeloop het. Geld spandeer het asof die ATM binne die huis is (daaroor bespiegel mense dikwels - veral as mens sien watse skroot hulle deesdae skarrel).

Patriarg het nie lank terug nie nog groot mannewerk gedoen oor die waters waar sovele van ons arme nasie deesdae heenkome en antwoorde soek: Dollars, Ponde, Dinars, Dirams en derglikes ... En dit gekry en dit geblaas soos gesê. Op alles wat beweeg, beweeg kan word en soms net beweeg kan word as dit geweeg en te lig bevind is. Mammie loop steeds rond met die liederlike Yorkshire terrier onder die arm: Jy weet daai goetertjies wat hulself uurliks bekak en jy agter hulle moet aanloop en hul gatte afvee voor die stront innie hare koek ...? Die arme hondjies pas tog so mooi onner die kieliebakke van dik en dun vrouens in en dit is tog so in hierdie arme honne wat so smag om net los rond te loop.

Waar hulle alles verloor het weet ek nie. Hulle laat weet daagliks: "Ons het hout, wil oom hê?" En ek ja maar want  die kinners is maande terug weggevat deur die welsyn en dit gaanie baie dik daar nie. Want noudie dag het hy my gevra oor kettingsaag se binnegoed en ek't hom gewaarsku dat jy nie sukkel met 'n Stihl nie want ek dra die merke en toe koop hy die ding en nou loop hy mank want die Stihl het amper sy been weggevat. Letterlik. Hy mank by my deure in en ek vra hom oor die CZ (CZ75, loshande beste handwapen ooit vervaardig) en hy beduie my nee, dis vir slange en die goed wat sy vrou daar bo langs die treinspoor wil lastig val en toe verstaan ek. Ek beduie hom dat daai CZ-meisie groter sorg verdien as wat sy kry en toe beduie 'n man vir my ek moet bietjie op YouTube loop kyk.

Wonderlike ding hierdie nuwe YouTube-goed. Hulle sê jy kan daar selfs leer hoe om 'n atoombom te bou sonder om graad te loop en ek't 'n idee hulle is reg. Die donnerse YouTube is wonderbaarlik en toe kyk ek na Patriarg se vrou: Maer en uitgeteer en gesig vol wat na puisies lyk en hare slierterig en olierig agteroor vasgemaak asof netjies vasgebind. Ek lag my in 'n ander bloedgroep in tot ek besef: Dis nie 'n donnerse grap hierdie nie!

Sy kap nie blokke hout uitmekaar omdat sy snaaks wil wees of wil afshow soos die YouTube-kak mos maar issie. Iemand (en dit was 'n man) het waaragtig gesit en 'n tien-minute-selfoon-video gemaak hoe 'n vrou staan en hout kap. Hout kloof. Dikker blokke as wat my middel tans is (en my middel is besig om nou dik te raak).

En toe verstaan ek waarom ons legendes van vrouens-kaalvoet-oor-die-Drakensberge het. Want dit is waar! Toe verstaan ek waarom ons konsentrasiekampe had waar vrouens in massas vermoor en vermink en uitgehonger is.

En toe besef ek: Hier in Oesterland is een man wat eendag ryk was en sy vrou het 'n jappie hond as bewys. En ek weet: hy sal elke dag van sy lewe volmaag loop slaap solank hy die uitgeteerde en dankbare vroutjie aan sy sy het.

Waarom breek dit my hart so?

oester

  • 2

Kommentaar

  • Ek lees graag jou briewe. Dit is sekerlik nie eienaardig dat hoe meer dinge verander hoe meer bly dit dieselfde nie. Ek het ook al mense soos jy oor geskryf het gesien. Dit was ook die "togwerkers" soos ek hulle noem, met hul nuut gevonde rykdom wat so leef. Jy kan sommer sien dit is "nuwe geld". Ek gun hulle dit. Die man werk ver van die huis, mammie moet die dinge tuis aan die gang hou. Vir mammie word 'n nuwe ryding gekoop, maar sy verkies dit om in pappie se 4x4 rond te ry. Toe ek in Pietoria begin bly het, het ek dit ervaar. Ons het in 'n splinternuwe uitbreiding ingetrek. Dit was nie baie jare daarna nie, toe kom die "juppies/guppies en guavas" daar ingetrek. Ek glo nog steeds, grond kan jy koop, maar agtergrond nie. Soos die Ingelse spreekwoord lui, "easy come, easy go".

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top