
Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer van die lesersindruk na LitNet gestuur.
Titel: Verdagte 504
Skrywer: Elsabé Welman
Uitgewer: Naledi
ISBN: 978-1-997476-43-6
Verdagte 504, Elsabé Welman se dertiende boek, roep ’n dag uit my laerskooljare op. In die geskiedenisklas voel ek skielik ’n skop teen my stoel. Ek kyk om en die meisie agter my beduie met haar oë na links, weg van die paadjie tussen die banke. Ek kyk af en sy hou die gevoude briefie na my uit. Meneer Du Plessis sien die briefie, konfiskeer dit en lees dit hardop: “143.”
Hy frons. Ek frons. Wat beteken 143? Later, tydens pouse, vertel my vriendin Maggie wat dit beteken: I (1) love (4) you (3). Tot vandag toe weet ek nie wie daardie briefie gestuur het nie, maar ek is altyd nuuskierig wanneer ’n getal in enige ander konteks as rand en sent gebruik word. Byvoorbeeld: Waarom N1 of R335 – of ’n verdagte met die nommer 504?
Die titel Verdagte 504 prikkel dadelik dié ou nuuskierigheid. Boonop ontvang ek saam met die boek ’n boekmerk en ’n lasergesnyde MDF-sleutel met die woorde: “Die sleutel tot die storie is joune.”
Met dié sleutel in die hand begin ek in numeriese kodes, getalsimboliek en numerologie delf. Of Welman die nommer 504 doelbewus met al hierdie betekenisse belaai het, weet ek nie. Tog bied die drie syfers ’n interessante sleutel tot die hoofkarakter, Ben Kirsten, se verhaal: verandering, potensiaal en die soeke na ’n nuwe vaste grondslag.
In numerologie word die syfer 5 onder meer met verandering, vryheid, beweging en nuwe ervarings verbind.
Ben, ’n Suid-Afrikaner wat in Israel woon, se lewe stort in duie wanneer sy Moslemvrou sterf nadat ’n missiel ’n winkelsentrum tref. Kort daarna verdwyn ’n belangrike prototipe wat hy help ontwikkel het om ’n landsgrens met laserstrale te beveilig. Ben word afgedank, as die hoofverdagte beskou en deur Mossad gesoek. Hy weet hy is onskuldig, maar om dit te bewys, sal hy eers in Suid-Afrika moet uitkom.
Die syfer 5 word die ritme van sy bestaan: Alles verander, sy vryheid verdwyn en hy moet voortdurend aan die beweeg bly. Welman gebruik hierdie vlug nie net om die verhaal geografies vorentoe te dryf nie, maar ook om Ben van sy bekende identiteit te stroop. Die ingenieur word ’n voortvlugtige; die man met ’n gevestigde lewe word iemand wat van ander se genade afhanklik is.
Die syfer 0 word weer met potensiaal, die onbekende en die geestelike verbind. Ben verkeer dikwels in situasies waarin daar, menslik gesproke, geen uitkoms is nie. Hy praat met homself – en met God. Telkens “gaan die Rooisee oop” en daag hulp op wanneer hy dit die minste verwag.
Só beland hy in ’n dorpie wat deur oorlog aan flarde geskiet is. Die oorblywende inwoners oorleef ternouernood. Daar ontmoet hy vir Elna, ’n Suid-Afrikaanse dokter wat na ’n groep oorlogswesies omsien. Sy sien in die verslete, vuil vreemdeling iets wat ander nie meer raaksien nie: moontlikheid. Ben kan haar help om orde in die chaotiese huishouding te skep, maar sy gee terselfdertyd aan hom die kans om weer mens, versorger en deel van ’n gemeenskap te word.
Die geloofselement word dus nie net deur Ben se gebede gedra nie. Dit lê ook in die roman se terugkerende moontlikheid dat ’n mens, selfs nadat oorlog en verlies jou lewe uitgewis het, weer kan begin.
En dan is daar die getal 11. Elna versorg aanvanklik 10 oorlogswesies. Ben ontdek egter op sy eerste aand in die dorpie ’n dogtertjie, Adi, onder ’n stuk beton en neem haar hospitaal toe. Sy word die elfde kind.
12 word tradisioneel met volledigheid verbind: 12 maande voltooi ’n jaar en Israel het 12 stamme gehad. 11 staan net duskant volledigheid – iets ontbreek nog. Dit maak die 11 kinders ’n treffende beeld van die gemeenskap wat rondom Elna en Ben begin vorm: Hulle het mekaar gevind, maar hul toekoms is nog onseker. Hulle is nog nie veilig of volledig nie.
Of dié simboliek bewustelik deur Welman ingeskryf is, kan ’n mens nie met sekerheid sê nie. Binne die verhaal resoneer dit egter sterk met mense wat deur oorlog van hul families, tuistes en sekerhede beroof is.
Die syfer 4 word met stabiliteit, struktuur en ’n vaste grondslag verbind – presies dit wat Ben, Elna en die kinders nie het nie. Elna se kontrak sal verstryk en sy moet na Suid-Afrika terugkeer. Ben bly ’n voortvlugtige. Die kinders se toekoms is onseker.
Hieruit ontstaan die roman se sterkste spanning: nie net of Ben Mossad sal ontduik en in Suid-Afrika sal uitkom nie, maar ook of hierdie tydelike, onwaarskynlike gesin ooit ’n vaste grondslag sal vind. Welman laat die eksterne bedreiging en die karakters se emosionele onsekerheid dus saamwerk. Die leser wil weet waarheen hulle gaan, maar ook of hulle êrens sal kan behóórt.
Welman is ’n bedrewe storieverteller. Die kort hoofstukke en wisselende perspektiewe laat verskillende spanningsdrade tegelyk ontwikkel. Net wanneer een karakter se situasie ’n breekpunt bereik, verskuif die vertelling na ’n ander. Dit vertraag die antwoord waarop die leser wag en maak dit moeilik om die boek neer te sit.
Die roman se aantrekkingskrag lê egter nie net in agtervolgings, dwelmbase, rewolusievegters en lewensgevaar nie. Ben se worsteling met God, sy groeiende betrokkenheid by Elna en die kinders en sy kommer oor wat van hulle gaan word, gee emosionele gewig aan wat andersins bloot ’n vinnige avontuurverhaal kon wees.
Die opeenhoping van gevare en Ben se herhaalde reddings sal soms vir sommige lesers nét te toevallig voel. Binne die roman se uitgesproke geloofsraamwerk kry dié oomblikke egter ’n doel: Ben moet leer dat beheer en sekerheid nie dieselfde as geloof is nie.
Lesers sal veral aanklank vind by Verdagte 504 wat van ’n vinnige spanningsverhaal met avontuur, ’n liefdeselement en ’n sterk Christelike onderbou hou. Die roman vra terselfdertyd wat van ’n mens oorbly wanneer verlies jou identiteit, sekerheid en toekoms wegneem – en of geloof nog moontlik is wanneer God oënskynlik stilbly.
As kind het ek geleer dat drie eenvoudige syfers ’n hele boodskap kan bevat. Verdagte 504 herinner my daaraan dat getalle soms meer as ’n mens se plek in ’n ry of ’n dossier aandui. Agter 504 skuil ’n man wie se lewe verander het, wie se moontlikhede nog nie uitgeput is nie en wat weer na vaste grond soek.
Die sleutel tot hierdie verhaal lê uiteindelik nie net in die nommer nie, maar in die vraag of gebroke mense vir mekaar ’n tuiste kan word. Dit is dáár waar Welman se spanningsverhaal sy hart vind.



Kommentaar
Baie dankie aan LitNet vir die plasing, ook aan Ronnie, vir die resensie!