“Wat kan ek doen om my kind lief te maak vir lees?”

  • 1

Marita van der Vyver

“Wat kan ek doen om my kind lief te maak vir lees?”

As ek ’n pak lekkergoed moes eet elke keer as ’n besorgde ma – soms ook ’n pa – dié strikvraag aan my stel, sou ek seker die ongesondste, vetste kinderboekskrywer in die land gewees het. Met die vrotste tande.

Ek strooi aspris lekkergoed rond in my beeldspraak, want kinderboeke kan so stroperig soet en so “ongesond” soos koeksisters wees. Of so saai en so “goed vir jou” soos gekookte kool. En elke ouer weet tog as jy jou kind laat kies wat sy wil eet, gaan sy koeksisters en kitskos kies eerder as kool en ’n bord vervelige huiskos.

Daar is niks verkeerd met soetgoed of kitskos nou en dan nie, maar jy weet ook dis jou ouerlike plig om te sorg dat jou kind gebalanseerd eet en gesond grootword. Nou ja, presies dieselfde reël geld die leesstof wat jy jou kind gee. Boeke is kos vir die gees. Solank jy dit onthou, is jy op die regte pad.

“Ek koop vir hom goeie kinderboeke, maar hy stel nie belang nie!”

Hierdie wanhopige kreet hoor ek amper so gereeld soos die vraag oor hoe om ’n kind lief te maak vir lees. (Dikwels volg die kreet net ná die vraag, voordat ek nog kans gekry het om te antwoord.) En as ek die ma uitvra oor die “goeie” kinderboeke wat sy vir haar kind koop, kom ek gewoonlik agter sy vind self geen vreugde in die boeke nie. Sy koop dit bloot omdat dit veronderstel is om “goed” te wees vir haar kind.

Dis soos om vir jou kind ’n bord gekookte kool te skep waaraan jy self net so langtand soos hy sit en kou. Dis net mooi niks lekker vir enigiemand nie – en dit gaan gewis nie jou kind leer om van gekookte kool te hou nie.

As jy self nie van lees hou nie, het jy nie veel hoop om jou kind lief te maak vir lees nie. Maar as jy graag lees, sal jy waarskynlik genot uit kinderboeke kry – die oues waarmee jy grootgeword het én die nuwes wat jy saam met jou kind kan ontdek.

En hoe groter jou eie genot, hoe groter sal die genot wees wat jy aan jou kind oordra.

Daar is dus niks verkeerd daarmee om vir jou kind boeke te kies waarvan jý hou nie, selfs al is jy nie seker of dit noodwendig “goeie” boeke is nie. As die boek waaroor jy gek is, boonop ’n “goeie” boek is, is dit natuurlik ’n bonus. Dan word dit soos om saam met jou kind aan uitstekende donker sjokolade te smul; moontlik ’n smaak wat jy haar sal moet aanleer, want dis nie so soet en so ongesond soos die meeste lekkergoed vir kinders nie. Maar dis nogtans baie, baie lekkerder as gekookte kool.

As jy self ’n hartstogtelike leser is – en van kinderboeke hou – is dit ongelukkig steeds nie ’n waarborg dat al jou kinders ewe gek gaan wees oor lees nie. Kinders word gebore met persoonlikhede en voorkeure of renonse wat ouers soms kan stomslaan. Van die vier kinders wat onder my eie dak grootgeword het, is daar een wat spanspek haat (waarvan die ander drie nooit genoeg kan kry nie) en een wat al as kleuter versot was op olywe en sampioene (wat vir die ander beslis aangeleerde smake was – en wat minstens een van die broers steeds nie aangeleer het nie).

Dis veral seuns in hulle tienerjare wat ’n lesende ouer moedeloos kan maak. Al drie die seuns in my huis het in hulle tienerjare veel minder gelees as wat ek sou wou gehad het – hoewel één van hulle darem meer as die meeste van sy maats of sy broers gelees het. Ek was dankbaar daarvoor, glo my; dit kos min om ’n ma van ’n tienerseun dankbaar te laat voel. Maar daar wás droewige dae dat ek gewonder het of al die duisende ure van stories voorlees, al die fantastiese prenteboeke wat ons saam geniet het, al die slaaptydstories en wakkerwordstories en middagetestories, of dit alles dan géén vrugte gedra het nie?

Tog het ek nooit ’n enkele oomblik gedog dat dit dalk tydmors was om saam met hulle te lees nie. Dit was dan vir my so lekker soos vir hulle! Van ons kosbaarste gedeelde herinneringe spruit uit die liefderyke ritueel van slaaptydstories wat elke aand voorgelees is. En noudat al drie seuns hulle tienerjare agtergelaat het, nou léés hulle almal weer.

Die goeie nuus, vir lesende ouers van nielesende tienerseuns (óf -dogters) is dat die tienerjare ook verbygaan.

En dan begin jy die vrugte pluk van al die saadjies wat jy kleintyd gesaai het. Die prenteboeke van Maurice Sendak en Tomi Ungerer en Anthony Browne en Babette Cole en honderde ander wonderlike skrywers en illustreerders waaraan jy jou saam met jou kind verkneukel het, die stories oor Alice in haar wonderland en die klein prinsie op sy planeet en Harry Potter in sy towenaarskool, die sprokies en fabels en mites en legendes – hierdie hele magiese heelal van kinderboeke word ’n geheime tuin (nog ’n heerlike storie, daardie ene!) waarin jou kind dwarsdeur sy volwasse lewe kan gaan vrugte pluk.

Dus, om hierdie boekpraatjie vermom as ’n kospraatjie op te som: Dink aan jou kind se boeke soos aan jou kind se kos. Laat haar toe om soms haar eie kos te kies, al laat dit jou gril of al dink jy dis erg ongesond. Maar leer haar deur jou eie voorbeeld om beter te eet. Stel haar bloot aan soveel moontlik smake, aan kosse van verskillende lande, aan Afrikaanse biltong én aan Franse bloukaas, en moenie moed verloor as sy nie dadelik daarvan hou nie. Laat haar net proe – en dan soek julle saam na iets anders waarvan sy wel gaan hou.

En bowenal – die enigste werklike “reël” wanneer jy jou kind leer om goeie kos óf goeie boeke te waardeer: onthou om dit wat jy jou kind aanbied, sáám met haar te geniet.

Fluit-fluit, my storie is uit. Gaan koop, leen of bedel nou dadelik die lekkerste kinderboek waaraan jy kan dink en deel dit met jou kind, jou kleinkind, jou peetkind of jou bure se kind. Ek belowe jou jy sal nie spyt wees nie.

  • 1

Kommentaar

  • vera de Pontes

    Fantastiese vergelyking! Baie waar en as ouers nie vir kleintjies lees nie, moet grootouers inspring.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top