Wat is ’n reis sonder padkos?

  • 0

My nuutgeskepte uitdrukking, “Wat is ’n reis sonder padkos?” klink net so bekoorlik, sagmoedig en barmhartig soos die bekende en gelowige uitdrukking “Wat is ’n huis sonder ’n moeder?”.

Dit behoort op mooi glanspapier geskryf te word. Daarna moet dit in ’n goue raam geraam word en dan moet dit in alle voorportale, sitkamers en eetkamers opgehang word. Dit moet tog asseblief net in Afrikaans gedoen word.

“Pat kos” is een van Afrikaans se heel eerste eie, nuwe woorde wat meer as 200 jaar gelede neergeskryf is: “Ik liet pat kos geeve voor 2 jongens,” skryf Johanna Duminy in 1797 in haar dagboekie, waarvan ’n kosbare fragment behoue gebly het.

Ek, wat gedurig rondrits van die een dorp na die ander, van die een stad na die ander, van die een uitgestrekte vlakte na die ander, verlang nie na die toekoms met vervelige, vinnige en vetterige kos nie. Ek verlang terug na toentertyd toe ’n reis nooit sonder goeie en gesonde padkos aangepak is nie.

Dit was kos – om oom Oubaas van 7de Laan hier by te haal – “wat goed met jou gestel bollemakiesie het”.

Toegegee, tye het verander, veral ons ekonomiese posisie in die heersende globale ekonomie. Alhoewel Suid-Afrika met sy grootste en veerkragtigste ekonomie in Afrika nog sterk staan, moet ons die sente omdraai om vir die toekomstige swaar tye te voorsien. Veral omdat ons eerder op die verbruikerskant van die ekonomie as op die produksiekant fokus.

So te midde van onbestendige finansiële markte, hoë rentekoerse, hoë brandstofpryse, skokkende inflasiesyfers en dramatiese politieke veranderinge is dit onwaarskynlik dat Suid-Afrikaners duur en “dieetkosse” nog kan bekostig.

Goeie kos is egter nie altyd duur nie, en duur kos is nie altyd goeie kos nie.

’n Mandjie padkos moet nog altyd deel uit maak van die ritueel van ’n ver rit, liturgie van die langpad. In baie gevalle was padkos die rede vir die lang vervelige en tog lekker reis. Padkos moet die reis word en die reis moet die padkos word.

My reis na die destydse Khoi-restaurant Namapotjie by Saldanhabaai aan die Weskus in 2002 moet ek in herinnering roep. Die stigting van dié restaurant het ek in ’n koerant raakgelees. Ek bel toe die eienaar, John Bock. ’n Week later bevind ek my op ’n vliegtuig Kaapstad toe om letterlik in die Khoisan-potjie te gaan loer.

Die Sondag terug Kaapstad toe was roosterbrood, skaapnek, soetpatat en stampmielies vir my ingepak. Op pad, nog voordat ons die lughawe bereik het, was die kosblikke leeg.

Nou lek ek my lippe af vir my oorle ouma se kerrie-afval, oondbrood, beesstert, kaneelpampoen en swart moerkoffie.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top