Wat is kompleksiteit?

  • 0

Die idee van ’n ontluikende globale “megakrisis” wat ons in die gesig staar, word in toenemende mate gewilder (Ramos 2011). In beide akademiese en populêre diskoerse word al hoe meer na die onafwendbaarheid van krisisse en hul implikasies vir die samelewing verwys. In ’n era van ongekende onsekerheid oor die stabiliteit van die wêreldekonomie, verreikende klimaatsveranderinge en sosiopolitieke omwentelinge is krisis nie meer die term wat gebruik word om ’n eenmalige gebeurtenis te beskryf nie, maar eerder karakteriserend van ’n soort permanente toestand van globale krisis waarin die wêreld hom tans bevind (Morin en Kern 1999).

Na aanleiding van hierdie tendens is dit geen wonder nie dat daar tans net so baie van die woord kompleksiteit gebruik gemaak word om hierdie toestand van krisis te verduidelik. In die soeke na oplossings vir die sogenaamde megakrisis word die woord kompleksiteit byna mantra-agtig ingespan ten einde sin te probeer maak van wat deesdae as gepaardgaande “wicked problems” (Conklin 2006) beskryf word. “Wicked problems” word gekenmerk deur die feit dat enige oplossing vir die probleem nuwe, onverwagte probleme na vore bring. Die probleme is sistemies vervleg en word gekenmerk deur die aanwesigheid van ’n reeks diverse sosiale waardes en ’n eksistensiële onsekerheid oor hoe om die probleme in die hede te identifiseer en aan te spreek. Voorbeelde van “wicked problems” is ekologiese en politiese kwessies soos klimaatsverandering, die MIV-epidemie, sekuriteit, die probleme van armoede en hongersnood. Dit is in hierdie lig dat baie wetenskaplikes deesdae na die term kompleksiteit gryp asof dit die laaste uitkoms is om ’n weg deur die moerasland van krisisse en “wicked problems” te vind.

Artikels in wetenskaplike vaktydskrifte sowel as in die populêre media wat die idee van kompleksiteit aanspreek, is deesdae volop. Net so algemeen is die opkoms van onder andere kompleksiteit-institute, gespesialiseerde kompleksiteit-joernale, kompleksiteit-kuns, kompleksiteit-bestuurswese – die lys kan ad nauseam aangevul word. Dit is asof die woord kompleks gebruik word om enige verskynsel te etiketteer wat moeilik verklaarbaar is.

Dit wil voorkom asof ’n mens van ’n sogenaamde “complexity turn” (Urry 2005) kan praat en aanneem dat daar onomwonde eenstemmigheid is oor wát presies bedoel word wanneer die woord kompleksiteit gebruik word. Wanneer ’n mens egter die literatuur wat oor kompleksiteit handel, van nader beskou, is dit opmerklik dat daar geen bindende definisie van kompleksiteit bestaan nie en, meer nog, dat daar verskillende interpretasies is van wat bedoel word wanneer die woord gebruik word. Die neiging om die studie van kompleksiteit as “kompleksiteitsteorie” of “kompleksiteitswetenskap” te etiketteer is dus misleidend.

Dit blyk sinvoller te wees om eerder van kompleksiteitsteorieë (meervoud dus) te praat, aangesien daar geen standaard-stand van kennis is nie. Die Britse wetenskaplike Nigel Thrift (1999) stel voor dat ons met ’n wetenskaplike amalgaam te doen het wanneer ons met die studie van kompleksiteit te doen het. Dit dui daarop dat kennis oor komplekse verskynsels suggereer dat ons met ’n aanwas van idees te doen het wat ’n retoriese hibried daarstel. Kennis oor kompleksiteit het nie vanaf een sentrale punt of vakgebied ontstaan nie, maar het gelyktydig uit ’n reeks wetenskaplike gebiede ontwikkel. Navorsing na die Tweede Wêreldoorlog op die gebiede van onder andere kibernetika, algemene sisteemteorie en kunsmatige intelligensie blyk die invloedrykste te wees.

Daar is dus talryke beginpunte wat in verskeie vakgebiede ontstaan het om uiteindelik ’n kollektiewe diskoers oor kompleksiteit daar te stel. Hierdie diskoers word gekenmerk deur ’n sekere panoptikum van konsepte wat ons kan help om kompleksiteit raak te sien of te karakteriseer. Die onlangs ontslape filosoof en kundige in die studie van kompleksiteit, Paul Cilliers, se werk oor kompleksiteit (sien veral sy boek Complexity and Postmodernism, 1998) is ’n belangrike baken in dié studiegebied, aangesien hy die belangrikste eienskappe van komplekse sisteme geïdentifiseer het waarmee ’n mens kompleksiteit kan herken en beskryf. Hierdie eienskappe word vervolgens kortliks bespreek.

Kompleksiteit moet as ’n sistemiese eienskap verstaan word. Dit beteken dat kompleksiteit nie na die geïsoleerde komponente van ’n sisteem herlei kan word nie, maar eers te voorskyn kom as gevolg van die dinamiese interaksie tussen alle komponente van ’n sisteem. Daar is dus geen sentrale lokus vir kompleksiteit nie; dit is versprei in die organisasie van die komponente.

Die komponente van ’n komplekse sisteem is so georganiseer dat daar nie ’n liniêre verhouding tussen oorsake en gevolge waargeneem kan word nie. Dit beteken dat daar nie ’n proporsionele verwantskap tussen ’n inset en uitset bestaan nie: klein oorsake kan groot gevolge hê, en omgekeerd kan groot oorsake klein gevolge hê. Om sake nog ingewikkelder te maak, beteken dit ook dat komplekse verskynsels tegelykertyd oorsaak en gevolg van hulself kan wees. Dit is dus moeilik om die gedrag of uitkomste van komplekse verskynsels te voorspel of te bereken.

Die nieliniêre verhoudings tussen komponente in die sisteem bemiddel verder positiewe en negatiewe terugvoerlusse (“feedback loops”) van energie, inligting of materiaal wat die komplekse sisteem op veelvoudige vlakke beïnvloed en reguleer. Verder vertoon komplekse sisteme ontluikende (“emergent”) eienskappe. Dié eienskappe is te wyte aan die aard van die interaksies en organisasie van die komponente in die sisteem en die wisselwerking tussen die sisteem en die omgewing. Tradisioneel word dit verklaar deur die idee dat die somtotaal van die komponente groter of kleiner is as die dele. Met ander woorde, die ontluikende eienskap is die gevolg van die organisasie van die sisteem en kan nie herlei word na enige van die geïsoleerde komponente nie. Die vloeibaarheid van water is ’n mooi voorbeeld van ’n ontluikende eienskap: dit kan nie na die eienskappe van geïsoleerde suurstof- of waterstofatome herlei word nie, maar ontstaan uit die wisselwerking van hierdie atome in die watermolekuul. Die voorbeeld van water is dalk eenvoudig, maar tog treffend. Verskynsels soos die bewussyn, identiteit of selfs die kenmerk van lewe kan ook as ontluikende verskynsels beskryf word.

Komplekse sisteme is per definisie oop sisteme. Daar is dus dinamiese interaksies tussen die sisteem en die omgewing waarin die sisteem voorkom, wat dit dikwels onmoontlik maak om ’n duidelike onderskeid te tref tussen watter komponente tot die sisteem en watter tot die omgewing behoort. Die afbakening tussen sisteem en omgewing word gekenmerk deur ’n soort poreusheid waardeur inligting, energie of materie uitgeruil kan word en wat veroorsaak dat die sisteem nie onafhanklik van die omgewing kan bestaan nie. (Dink byvoorbeeld hier aan hoe die immuunsisteem gekonstitueer is. Dit is nie iets wat ons kan uitsny en isoleer nie, maar dit is moontlik om dit as sodanig te herken.) Hieruit volg dit dus dat kompleksiteit konteksgebonde is. Dit beteken enersyds dat die kompleksiteit gedeeltelik verdwyn wanneer die sisteem van die omgewing losgemaak word en andersyds dat die sisteem verander (en nie meer dieselfde sisteem is nie) wanneer die konteks verander. Hierdie kenmerk het belangrike implikasies vir hoe ’n mens kompleksiteit bestudeer en verstaan.

Laastens word komplekse sisteme deur die eienskap van selforganisasie gekenmerk. Cilliers (1998) beskryf selforganisasie as die eienskap van komplekse sisteme wat hulle in staat stel om te ontwikkel en verander om by ’n veranderende omgewing te kan aanpas. Die klem op organisasie is weer deurslaggewend en het hier te doen met die feit dat die komponente hulself kan vervaardig, vervang en regenereer sonder die hulp van ’n organiseerder buite die sisteem (soos ’n masjinis of deus ex machina). Hierdie generatiewe soort selforganisasie sorg daarvoor dat ’n komplekse sisteem as geheel in stand gehou word en voortbestaan, ten spyte daarvan dat die komponente gedurig degenereer en vervang moet word. Neem ook in ag dat daar geen sentrale beheerpunt is van waar die organisasie georkestreer word nie; organisasie is die gevolg van die dinamiese interaksies tussen die komponente van die sisteem en tussen die sisteem en omgewing. Dit beteken dat kompleksiteit nie net een bron van oorsprong het nie, maar dat dit ontstaan uit veelvuldige en gelyktydige oorsake wat op mekaar inwerk.

Bogenoemde eienskappe van kompleksiteit het belangrike implikasies vir hoe kompleksiteit bestudeer kan word. Die klassieke onderskeid tussen objektiwiteit en subjektiwiteit word deur die erkenning van kompleksiteit geproblematiseer vanweë die verweefdheid van die sisteem met die omgewing en die feit dat kompleksiteit sonder die dinamiese interaksie tussen komponente van die sisteem en die omgewing nie moontlik is nie. Die eienskappe van komplekse sisteme word as ‘t ware vernietig deur reduksionistiese metodes van analise en ekstraksie. Kompleksiteit forseer dus verskuiwing van fokus vanaf die studie van objekte (of komponente) na die studie van prosesse en organisasie, en daag wetenskaplikes uit om nuwe metodes te vind vir die bestudering van komplekse sisteme. Die teenwoordigheid van kompleksiteit problematiseer positivistiese wetenskaplike wêreldbeskouings wat streng reduksionisties van aard is. Kompleksiteit ontbloot die tekortkomings van reduksionistiese metodes en vra van wetenskaplikes om hul dikwels arrogante, selfversekerde teorieë te bevraagteken en om hul aannames krities te bekyk. Hierdie aspek van kompleksiteit is veral ter sprake wanneer ons modelle van komplekse verskynsels probeer maak.

Cilliers (1998) was veral bedag op die implikasies van kompleksiteit vir die manier waarop ons die wêreld probeer verstaan. Hy argumenteer dat ’n “perfekte” model van ’n komplekse sisteem impliseer dat die model net so groot of ingewikkeld soos die komplekse sisteem self moet wees. Dit op sigself is ’n onmoontlike taak. Ten einde kompleksiteit te bestudeer moet ons modelle altyd reduksies van die werklikheid daarstel. Die feit dat ons nie weet watter aspekte van die interne of eksterne interaksies ons uitlaat nie, en watter effekte dit mag hê nie, beteken nie dat ons dit as onbelangrik mag ag nie. Hierdie onberekenbare risikofaktore en die tekortkomings van ons modelle van kompleksiteit moet eksplisiet uitgelig en nie verberg word nie. Om te veronderstel dat hierdie noodwendige reduksies nie belangrik is nie, of om die implikasies daarvan as onbenullig te beskou, is nie net ’n tegniese vergissing nie, maar ’n oordeelsfout met etiese gevolge.

Bowenal beteken dit onder meer dat daar geen meesterplan of reëlboek met gewaarmerkte strategieë bestaan wat vir ons kan voorskryf hoe om kompleksiteit te modelleer en te bestuur nie. Oplossings vir komplekse probleme is nooit permanente oplossings nie. Inteendeel, soos in die geval van “wicked problems”, skep die soeke na oplossings dikwels net meer kompleksiteit. Die oplossings is gewoonlik ook minder universeel aanwendbaar en objektief, maar eerder beskeie van aard en konteksgebonde. Afgesien daarvan veroorsaak ’n sensitiwiteit vir kompleksiteit ’n kritiese instelling jeens ’n oordrewe vertroue op grandiose “one theory fits all”-strategieë en die vermoë van die wetenskap om kompleksiteit te kwantifiseer, te meet en te voorspel. Ons kennis van komplekse verskynsels is dus altyd net gedeeltelik en voorlopig. In die afwesigheid van ’n beste-praktyk-handleiding wat reëls en formules voorskryf vir hoe daar met kompleksiteit te werk gegaan moet word, skep die ontmoeting met kompleksiteit vir ons ’n ruimte waar ons deur die moeras van onsekerheid, kontekstualiteit en kontradiksies moet navigeer met nuut-gekalibreerde instrumente en perspektiewe.

Die implikasies van “wicked problems” en kompleksiteit kan vir sommige rede tot verontrusting wees. Vir ander is dit die begin van ’n groot uitdaging en, in die woorde van die bekende sisteemdenker Donella Meadows (2008), geen rede tot apatie nie. Sy meen dat net omdat ons nie seker kan voortbeur in ’n toekoms sonder verrassings in nie, dit nie beteken dat ons nie kan leer om bedag te wees op verrassings met ’n ingesteldheid om van hulle te leer en by hulle te baat nie. Net omdat ons nie komplekse sisteme kan beheer nie, beteken dit nie dat ons nie op nuwe maniere sin daarvan kan maak nie. In plaas daarvan om kompleksiteit te wil beheer moet ons leer om daarmee te dans. Dit is ’n proses van gee en neem, van aktief deel wees, van kreatief met nuwe en ou idees om te gaan ten einde nuwe en vernuwende oplossings te vind. Kompleksiteit daag ons uit om dieper na te dink oor wat dit beteken om mens te wees in ’n wêreld wat deur krisse gekenmerk word en weer te leer hoe om verantwoordelik en met respek daarmee om te gaan.

 

Bronne
Cilliers, P. 1998. Complexity and Postmodernism: Understanding Complex Systems. Londen: Routledge.
Conklin, J. 2006. Dialogue Mapping. Chichester, West Sussex: John Wiley & Sons.
Meadows, D. 2008. Thinking in Systems: a primer. White River Junction, Vt: Chelsea Green.
Morin, E. 2008. On Complexity. Cresskill, NJ: Hampton Press.
Morin, E en B Kern. 1999. Homeland earth: A manifesto for the new millennium. (Vertaal deur E Hulot.) Cresskill, NJ: Hampton Press.
Ramos, J. 2011. Introduction to the Symposium on the Global Megacrisis. Journal of Futures Studies, 16(2):95–104.
Thrift, N. 1999. The Place of Complexity. Theory, Culture and Society, 16(3):31–69.
Urry, J. 2005. The Complexity Turn. Theory, Culture and Society, 22(5):1–14.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top