Wat is in ’n naam? Dieselfde port, nuwe etiket

  • 0

In 2020 sal dit twee dekades wees sedert die Suid-Afrikaanse portbedryf deur die Europese Unie ingelig is om afstand te doen van die port-benaming. Dis vanjaar ’n dekade sedert die landbouhandelsooreenkoms tussen Suid-Afrika en die Europese Unie onderteken is, en van 1 Januarie 2012 af dra alle portwyne wat in Suid-Afrika gemaak word, ’n naam wat bestaan uit “Cape” gevolg deur naam van die betrokke styl, skryf Maryke Roberts.

Ná die naamsverandering produseer die plaaslike wynbedryf Cape White, Cape Pink, Cape Ruby, Cape Tawny, Cape Late Bottled Vintage (LBV), Cape Vintage en Cape Vintage Reserve.

Die term “port” word deur die Europese Unie beskerm en verwys net na wyne van die Douro-vallei in Portugal. Port is ’n gefortifiseerde wyn – soos jerepiko, sjerrie en muskadel – wat gemaak word deur ’n gedeelte druifspiritus of brandewyn by die wyn se produksieproses te voeg. Die spiritus word bygevoeg voor die fermentasieproses voltooi is, wat die wyn die natuurlike soetheid van die druif laat behou en dit ryk, volrond en sag op die tong maak.

Hoewel port al sedert die 1800’s op sommige Suid-Afrikaanse wynplase gemaak word, word Boplaas Familiewingerde, De Krans Wyne, KWV en Allesverloren as die land se top-portprodusente gereken. Boplaas het meer Veritas Dubbelgoud-toekennings in die afgelope 15 jaar opgelewer as enige ander kelder en De Krans onder meer 11 Platter 5-ster-toekennings oor die afgelope 13 jaar.

Carel Nel, eienaar van Boplaas, was in 2000 die voorsitter van The Cape Port Producers’ Association (CAPPA) toe die kennisgewing van die Europese Unie opdaag. Hy vertel die lede het verskeie vergaderings en dinkskrumme gehou en toe besluit op die benaminge Cape Ruby, Cape Tawny en so meer. “Die Ruby-, Tawny-style was reeds aan die verbruiker bekend en die woord Cape is eie aan Suid-Afrikaanse wyne,” vertel hy.

Carel Nel, eienaar van Boplaas Familiewingerde buite Calitzdorp.

Boets Nel, mede-eienaar van De Krans Landgoed op Calitzdorp, is nog een van die portbedryf se kampioene. Die plaas het 11 agtereenvolgende 5-ster Platter-toekennings en twee SA Kampioen Port-trofees in 2012 en 2014 by die SA Jongwynskou behaal.

Die naamsverandering het De Krans ook nie regtig geraak nie, omdat verbruikers reeds vertroud was met die style en die naam Cape lank voor die woord “port” verdwyn het.

Boets Nel is die mede-eienaar van De Krans-landgoed op Calitzdorp.

Boets vertel: “Ons het die naamregulasies reeds sedert die laat negentigs sien kom. Ons is reeds sedert 1970 verbied om die ‘P-woord’ in Europa te gebruik. Daarom het ons al sedert die vroeë 1990’s die naam Cape voor die styl begin gebruik – om seker te maak ons porte word nie verwar met die porte uit die Douro nie.

“Die ooreengekome datum van 1 Januarie 2012 – alle port wat voor dit gebottel en gesertifiseer is, kon nog as ‘port’ verkoop word tot voorrade uitgeput is – het ons laat besluit om sommer baie 2010 The Last Cape Vintage Reserve Port-magnums net voor Kersfees 2011 te bottel. Dis tydens die laaste Wyn- en Spiritusraad se proe voor Kersfees (van daar die naam) goedgekeur, so ons sal hulle nog ’n hele paar jaar hiermee irriteer,” vertel hy met ’n vonkel in sy oog.

Boets vertel: “Ons kon darem ook met die EU onderhandel dat ons die stylbenamings soos Cape Ruby en Cape Vintage ook in Europa mag gebruik (wat nuwe markte vir ons geopen het) nadat ons bewys gelewer het aan die EU se spesiale komitee, met fakture en etikette, dat ons hierdie benamings reeds sedert die vroeë 1990’s gebruik het.”

Sedert die EU se verbod het produsente nie net met die nuwe name slim gedink nie, maar ook met gebruike.

Boets sê: “Ons moet die verbruiker altyd herinner dat port nie net in die winter voor kaggel gedrink word nie, maar afhangende van die styl, enige tyd van die jaar geniet kan word.”

Hy sê hy geniet hul port saam met ’n verskeidenheid kase, maar ook ’n Tawny saam met bruin uiesop of speseryagtige geregte. “Probeer gerus ’n jong Cape Vintage (Reserve) saam met ’n halfgaar volstruisfillet of ’n mooi Cape Tawny-port, wat jy yskoud kan bedien in die somer. Ek het altyd ’n bottel in my yskas.”

Portstyl-wyne is jonger, sexy en ideaal vir lang somerkuiers.

Louis van der Riet, die wynmaker op De Krans, het sy eie De Krans Berrylicious- skemerkelkie ontwerp wat onder meer pienk portwyn, aarbeie en mentblare kry. Dit bestaan uit 75 ml De Krans Cape Pink, 50 ml aarbeisap en 75 ml sodawater. Garneer met mentblare, twee groot aarbeie en fyn ys.

Dié heerlike somerdrankie is deur Louis van der Riet, wynmaker by De Krans-landgoed, ontwikkel.

Hy sê ook: “Ek geniet ’n glasie Vintage-port saam met ’n koedoefillet, maar geniet dit nog meer om port te gebruik wanneer ek kook. Een en ’n halwe bottel Cape Ruby saam met ’n heel springbokboud, het al twee keer die gesogte Calitzdorp Appelkoosfees potjiekoskompetisie-trofee gewen.”

Louis van der Riet, die wynmaker by De Krans-landgoed, het sy eie skemerkelkie ontwikkel.

Francois Ferreira, sjef en hoof van die Francois Ferreira Academy op George, was vir etlike jare die glanssjef by die Port-feeste op Calitzdorp. Hy het ook verlede jaar vir De Krans ’n port-en-biscotti-proe saamgestel. Hierdie kombinasie is baie gewild in Italië en die idee om dit na Suid-Afrika te bring het van die kos-en-wyn-liefhebber Denise Lindley gekom nadat sy De Krans se Moscato tydens ’n middagete geniet het. Francois het saam met Boets Nel en die voormalige bistrosjef Retief van der Walt ’n reeks biscotti “geskep” om saam met sommige van De Krans se tafel- en portwyne te geniet.

Francois Ferreira, sjef en hoof van die Francois Ferreira Academy op George, was vir etlike jare die glanssjef by die jaarlikse Portfeeste op Calitzdorp.

De Krans se Pinotage Rosé word gepaar met ’n biscotti van gemengde kruie, terwyl die Moscato die ideale smaakmaat vind in ’n tradisionele biscotti. Die landgoed se Touriga Nacional bring weer ’n lied na mens se lippe wanneer dit met ’n biscotti van biltong gekombineer word. Aangesien die meeste mense van koffie hou, sal die Original Espresso van De Krans en biscotti van koffie, vanielje en kasjoeneute die tonge behoorlik aan die gons sit. En die pièce de résistance? Wel, wat dan anders as De Krans se Cape Vintage wat saam met ’n allspice-choc-chip-biscotti geniet word.

Francois vertel port is in sy DNS, omdat hy Portugese bloed in sy voorgeslagte het. Hy vertel dat hy nooit regtig van Portugese port gehou het nie, maar toe hy Klein Karoo toe trek, hom natuurlik in die hartland van die Suid-Afrikaanse portwynwêreld bevind het. “Ek het toe besef nie alle portwyne hoef soet Ruby te wees nie; daar is verskillende style en so mettertyd het ek al die style begin ontdek.

“Oor die jare het ek verskeie portwyn-en-kos-pasmaats by die Portfeeste gedemonstreer en verlede jaar selfs saam met Boplaas die ‘Some like it hot’-demonstrasie met brandrissies gedoen. Ek het portwyne en tafelwyne van Portugese kultivars gebruik en die meeste mense het die portwyne bo die tafelwyne verkies,” vertel hy.

Francois sê hy geniet portwyne nie net in die winter nie. “Ek hou van portwyn in kos, saam met kos, en alleen. Die wit en pienk portwyne met suurlemoen en baie ys is heerlik verfrissend in die somer. Ek maak ook graag vir gaste my portini – pienk of wit port met jenewer of vodka en fyn ys.”

Dis ook lekker om port eerder as wyn saam met ’n ryk dis te bedien. Francois sê mense moet ook vergeet van die idee dat portwyne net by kaas en beskuitjies en wildsvleis pas. “Ek het al selfs vis in pienk portwyn geposjeer en dit was heerlik!” vertel hy.

En vir nagereg maak hy heerlike strope uit portwyn. Hy kook dit oor lae hitte en voeg steranys en suiker by en maak soet strope wat heerlik oor roomys is, of ’n portglansel wat hy oor varklies of boudvleis smeer.

Sjef Frans Groenewald van Gabriëlskloof Restaurant buite Botrivier sê hy word heeltemal nostalgies as hy aan portstylwyn dink. “Ek dink sommer terug aan my toerdae deur Portugal en sommer hier hy die huis met ’n lekker kaasbord.

“Port werk vir my mooi saam met wild, omdat ek daarvan hou om spek, jenewerbessies en pruime saam met wild te bedien en die rookkarakters werk dan lekker met iets soets in die glas. Dis ook heerlik met sterk kase en ’n gemmerkoekie om die volronde smaak te gee.”

Sjef Frans Groenewald van Gabriëlskloof Restaurant buite Botrivier.

Hy voeg by dat hy in die somer ’n portjellie saam met die hoenderlewerterrien bedien of ’n portgranita as ’n verfrissende alternatief geniet.

Portwyn word ook nie net uit die tradisionele portkultivars – Tinta Roriz, Touriga Nacional, Touriga Franca, Tinta Barocca, Tinto Cão en Tinta Amarela – gemaak nie.

Gerhard Swart, hoofwynmaker by Flagstone Wynkelder in die Strand, sê Flagstone The Last Word word sedert 2005 gemaak en dié eerste oesjaar is deur Bruce Jack, die stigter van Flagstone, gemaak. “Die 2005- en 2006-oesjaar is gemaak van shiraz uit die Tulbagh-streek, 2009 van Touriga Nacional uit die Overberg en die 2013 van Pinotage uit die Breedekloof.”

Anneke du Plessis, KWV se wynmaker wat na die gefortifiseerdewyn-portefeulje omsien, sê die druiwe vir hul porte bestaan uit komponente wat strek van twee jaar tot 40 jaar oud. Haar mond water as sy sê hul Cape Ruby is die ideale pasmaat vir springbokskenkel met ’n tamatieblatjang, en hul Cape Tawny met gerookte ham en pynappel.

Rijk Melck van Muratie Landgoed buite Stellenbosch sê daar word al vir 90 jaar portwyn op Muratie gemaak. “Portdrinkers bly maar ’n spesifieke groep. Daar mag dalk nou met die nuwe generasie skemerkelkiedrinkers ’n nuwe mark begin. Ek het self ’n skemerkelkie, die Muratie Chuck Norris, ontwerp en dit is erg gewild by ons musiek-en- parsfees!” Die drankie is ’n dubbelsopie Cape Ruby port met tonikum en ’n spatsel Rose’s Passion Fruit cordial.

Kim en Rijk Melck is die eienaars van Muratie Wynlandgoed buite Stellenbosch.

Dys Grundling, ’n wynmaker op Grundheim buite Oudtshoorn, geniet tarentaalpotjie as die beste pasmaat vir sy portwyne. Dys vertel dat die grootste uitdaging wat hom jaarliks in die gesig staar om goeie port te maak, hoofsaaklik gesonde druiwe en oop sementkuipe is. Hy maak port in die Ou Wêreldstyl waar die druiwe nog met drukstokke deurgedruk word. Gelukkig is die Oudtshoorn-klimaat aan sy kant: die droë, warm somers is ideaal vir die Portugese kultivars.

Sjef Archie Maclean van Catharina’s Restaurant op Steenberg Wynlandgoed, pasmaat sy Langbaken Karoo Sunset – ’n Karoo-gewaste kaas met baba ghanoesj, pynappel en druiweblatjang, met appelliefiejellie en suurdeeg-melba-toast – met Allesverloren-port. Die geure komplementeer mekaar uitstekend en dis ’n heerlike plaasvervanger vir nagereg as jy lus is vir iets soet ná ete, maar nie regtig plek het vir baie kos nie.

Sjef Archie Maclean van Catharina’s Restaurant op Steenberg Wynlandgoed

Sjef Archie Maclean van Catharina’s Restaurant op Steenberg Wynlandgoed pasmaat sy Langbaken Karoo Sunset-kaasbord met Allesverloren Port.

La Petite Ferme op Franschhoek se senior sous-sjef, Blaine Coetzer, sê: “In die somer kan jy jou Tawny effe verkoel en saam met nagereg bedien. Dink onder meer aan vars perskes in ’n dik room, of geroosterde pynappel met ’n skeutjie kerriespeserye, wat heerlik op die portwyn sal reageer, of vars bessies met crème fraiche – vra vir ’n lekker glasie verkoelde port-wyn.”

Meer oor CAPPA

CAPPA en SA Wynbedryf-Inligting & -Stelsels MSW (SAWIS) het streng regulasies waaraan Kaapse portwyne moet voldoen. Mike Neebe, eienaar van Axe Hill buite Calitzdorp en huidige voorsitter van CAPPA, vertel dat CAPPA, voorheen bekend as SAPPA, op 29 Julie 1993 by die Calitzdorp Portfees deur wyle Theo Rudman en 12 portprodusente gestig is. Die doel destyds was – en is vandag steeds – om die profiel en gehalte van outentieke Kaapse portwyne van Portugese kultivars volgens die tradisionele metodes en in ooreenstemming met die voorgestelde style te produseer.

CAPPA het 21 lede: Axe Hill, Badsberg, Boplaas, Calitzdorp, De Krans, Delair Graff, Distell – Monis, Groot Constantia, Grundheim, Landskroon, Louisenhof, Muratie, Namaqua Wines, Oranjerivier, Overgaauw, Peter Bayly Wines, Riebeeck, Rooiberg, Slanghoek, TTT Cellars en Vergenoegd, maar Mike sê daar is beslis baie meer produsente wat uitstaande portwyne maak en dit sal goed wees om hulle as lede te kan inlyf.

Calitzdorp se portstylwynprodusente soos Boplaas, De Krans, Axe Hill, Peter Bayly Wines en TTT Cellars wen gereeld pryse in die CAPPA-Uitdaging en ander wynskoue.

Foto's: verskaf

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top