
Mikhail Gorbatsjof (Kuns deur Victoria Borodinova | Pixabay)
...
Sy doel was om die kommunisme te moderniseer en enigsins te demokratiseer, en om die Sowjetunie sodanig op te knap dat hy sy status as supermoondheid onbetwis sou kon behou.
...
Die oorlye van die laaste president van die ou Sowjetunie, Mikhail Gorbatsjof, vestig weer die aandag op die vraag in welke mate hooggeplaaste individue ’n deurslaggewende rol in die verloop van die geskiedenis kan speel.
Almal weet immers dat Gorbatsjof met hervormings van die kommunistiese stelsel begin het, en dat dit op die uiteenval van die Sowjetunie en die einde van die Koue Oorlog en die kommunistiese ideologie uitgeloop het. Teen dié agtergrond sou mens kon sê dat Gorbatsjof se inisiatiewe ’n duidelike en deurslaggewende rol in die wêreldgeskiedenis gespeel het.
Maar dis nie só eenvoudig nie. Toe Gorbatsjof in 1985 by sy voorganger, die seniele Konstantin Tsjernenko, as baas van die Sowjetplaas oorneem, was dit wat sou gebeur, die laaste wat hy wou láát gebeur.
Sy doel was om die kommunisme te moderniseer en enigsins te demokratiseer, en om die Sowjetunie sodanig op te knap dat hy sy status as supermoondheid onbetwis sou kon behou. Met die tong enigsins in die kies sou jy kon sê sy doel was: “Make the Soviet Union Great Again (MASUGA)” – min of meer die leuse wat Donald Trump later vir Amerika sou kies.
Feit is dat die Sowjetunie teen 1985 ’n duidelik mislukte staat was. Die ekonomie was, mede deur die verkwisting en drastiese ondoeltreffendheid van die kommunisme, in ’n gemors. ’n Mens sou selfs kon sê dat die Sowjet-politici en -burokrasie in groot mate self nie meer in die stelsel of ideologie geglo het nie, maar dat die mag van gewoonte hulle maar doelloos laat voortgaan het.
’n Grappie wat in dié tyd in die land vertel is, was: “Ons gee voor om te werk, en hulle (die staat) gee voor dat hulle ons betaal.”
...
Die land was in die praktyk ’n bodemlose put waarin menselewens, toerusting en geld op groot skaal weggegooi is.
...
Dit het groot invloed op die weermag gehad. Getallegewys was die militêre krag van die Sowjetunie ongeëwenaard. Maar die soldate was sleg opgelei en gemotiveerd, hul toerusting was sleg onderhou, en hul generaals het dikwels meer in hul eie voorregte en mooi uniforms belang gestel as in die professionele doeltreffendheid van die troepe onder hul bevel.
Dit is die rede waarom Gorbatsjof vroeg in 1989 die besluit geneem het om sy oorlogspoging in Afganistan te staak. Dit het op ’n militêre nederlaag neergekom, maar die land was in die praktyk ’n bodemlose put waarin menselewens, toerusting en geld op groot skaal weggegooi is.
Dit alles het ook die Sowjetunie se internasionale politieke rol negatief geaffekteer. Teen 1989 was daar slegs een enkele rede waarom sy stem op die internasionale toneel nog getel het: sy besit van kernwapens.
In teenstelling met sy voorgangers het Gorbatsjof dit alles ingesien. Sy oorkoepelende doel was om die agteruitgang te stuit en die Sowjetunie weer belangrik te maak.
Dit is waarom hy toenadering tot president Ronald Reagan van Amerika en dié se opvolger, George Bush senior, gesoek het. Maar hy kon die agteruitgang nie werklik toesmeer nie – die internasionale media het destyds lang analises geplaas waarin die Sowjetunie se werklike toestand uitvoerig belig is.

Profetiese visie? (Foto: Andre Drechsel | Pixabay)
Gevolglik het Gorbatsjof met twee begrippe gekom wat die essensie van sy hervormingsbeleid moes saamvat: glasnost (openheid) en perestroika (herstrukturering). Dit klink lofwaardig, maar dit was hopeloos onvoldoende.
Die Sowjetunie se enigste werklike hoop was die totale afskaffing van die kommunisme in álle opsigte – maatskaplik, ekonomies, polities, ideologies. Die harde waarheid was dat die kommunisme in alle denkbare opsigte bankrot was.
Gorbatsjof se doel was in dié stadium nie die afskaffing van die stelsel nie. Hy wou nie ’n stelsel invoer wat op die einde van die Kommunistiese Party se permanente magsmonopolie kon uitloop nie. Hy wou bloot die stelsel moderniseer en meer doeltreffend maak.
Die harde waarheid was egter dat die stelsel intrinsiek soveel foute bevat het dat dit nie werklik op ’n beduidende skaal gemoderniseer en doeltreffender gemaak kón word nie. Die enigste manier om die Sowjetunie in die 20ste eeu in te sleep, was in werklikheid die totale afskaffing van die kommunisme – en daartoe was nóg Gorbatsjof nóg sy ondersteuners bereid.
’n Antieke Griekse leuse lui: “As die gode jou wil breek, maak hulle jou eers gek.” Dít is wat basies in die Sowjetunie gebeur het.
Eers het die Berlynse Muur op 9 November 1989 geval. Dit het ’n paar maande later op die Duitse hereniging, die Sentraal-Europese state se afwerp van die Sowjet-juk en die einde van die Koue Oorlog uitgeloop.
Dit het die Sowjetunie se internasionale magspolitieke posisie dramaties verswak. Dus het ’n groep verkrampte kommuniste in Augustus 1991 die gang van die geskiedenis probeer omkeer deur ’n staatsgreep te probeer uitvoer.
Dit het misluk, maar dit het ’n kettingreaksie aan die gang gesit wat op 31 Desember van daardie jaar daartoe gelei het dat die Sowjetunie in sy 15 deelrepublieke uiteengeval het. Gorbatsjof se rol was uitgespeel en hy het in die vergetelheid verdwyn.
Rusland – wat 76% van die Sowjetunie se grondgebied beslaan – was die grootste en het homself in talle opsigte as die Sowjetunie se erfgenaam beskou. Die man wat uiteindelik die mag hier gekry het, die huidige president Wladimir Poetin, het die dryfkrag geword agter Rusland se poging om die Sowjetunie se internasionale politieke posisie oor te neem.
Dit is waarom Rusland nou in ’n bloedige oorlog gewikkel is om Oekraïne te onderwerp en by hom in te lyf. Maar dit net terloops.
...
Sy rol is eerder daarin geleë dat hy sy naam aan ’n veelbewoë periode in die geskiedenis kon laat heg; nie soseer weens wat hy gedoen of nie gedoen het nie.
...
Wat is Mikhail Gorbatsjof se uiteindelike bydrae tot die geskiedenis?
Wel, ’n mens sou op die uiteenval van die Sowjetunie en die einde van die Koue Oorlog kon wys. Dis immers albei sake wat die wêreldgeskiedenis ingrypend beïnvloed het.
Maar jy kan terselfdertyd ’n goeie saak daarvoor uitmaak dat dit óndanks Gorbatsjof gebeur het en nie wééns hom nie. Dít, of iéts soortgelyks, sou heel waarskynlik in elk geval gebeur het, ongeag Gorbatsjof se rol of afwesigheid daarvan.
Uiteindelik was Gorbatsjof se rol in die geskiedenis dus taamlik beperk. Sy rol is eerder daarin geleë dat hy sy naam aan ’n veelbewoë periode in die geskiedenis kon laat heg; nie soseer weens wat hy gedoen of nie gedoen het nie.
Dikwels is die geskiedenis soos ’n yslike skip met ’n momentum wat hom nie laat keer nie. Gorbatsjof was wat dit betref, slegs ’n roeibootjie in die pad van die skip.


Kommentaar
Ek verstaan nie die rede waarom skrywers en joernaliste veral uit die Naspers-stal altyd name en vanne wil verafrikaans nie. Dit is vir my 'n effens sinnelose gewoonte.
Andries, jy verwar transliterasie met verafrikaans. Google dit.