Danie Strauss reageer op die artikel “Onderweg na goeie wetenskap 2: Die funksie van strategie, visie en beleid” in LitNet Akademies se Geesteswetenskappe-afdeling, geskryf deur Fanie de Beer en Braam Roux.
Ek het met belangstelling en met globale instemming die uitvoerige artikel van twee van my jare lange goeie filosofievriende, Fanie de Beer en Braam Roux, gelees. Ter wille van die voortgesette gesprek wat hierdie artikel behoort te genereer wil ek slegs by enkele gesigspunte wat geopper is, aansluit en veral verder voer ten opsigte van die aard van (kollektiewe) akademiese vryheid.
Tereg word daarop gewys dat die unieke bydraes van figure soos Archimedes, Galileo, Simmel, Pasteur “en talle ander” sonder “die hulp van beleidsvoorskrifte of strategiese oorwegings” tot stand gekom het. Waarskynlik is een van die belangrikste verdienstes van die skrywers se gesamentlike artikel dat hulle skerp krities stelling inneem teen eensydige oriëntasies. Hulle wys onder meer daarop dat dit ’n misvatting is om die mens te reduseer tot ’n homo economicus, soos blyk uit die beperking van “menslike belang” tot “ekonomiese belang” – soos onder meer te vinde in die klem op die kennis-ekonomie en die gedagte dat kennis en navorsing van ekonomiese waarde moet wees.
Hulle plaas ook die aard van kennis binne die breër konteks van ’n wêreldoriëntasie en bring dit dan onmiddellik in verband met “die ontologiese projek van kennis”. Hulle waarsku dat hoewel wat “beoog word”, beplanning vir goeie wetenskapsbeoefening is, dit wat in werklikheid voorgestel word, juis ’n bedreiging vir goeie wetenskap kan inhou. Tereg maak hulle hier ook melding van wat hulle as ’n “reduktiewe wetenskapsiening” tipeer.
Ek sou hierdie twee gesigspunte wou verbind deur van ’n niereduksionistiese ontologie te praat. Die eerste implikasie hiervan is dat die vermeende “eenheid” van die wetenskapsbedryf in werklikheid nie so eenvormig is as wat die dominante wetenskapsfilosofie van die eerste helfte van die 20ste eeu, die positivisme, gemeen het nie.
Fanie en Braam staan tereg skerp afwysend teenoor hierdie positivistiese tradisie. Hulle merk trouens ’n nalewing daarvan op in die dokumente wat hulle geraadpleeg het. Daarin word die sogenaamde natuur- of eksakte wetenskappe immers “as dié model van wetenskaplikheid (goeie wetenskap)” gewaardeer. Daarom is dit goed dat hulle juis ’n aanhaling van Bohm en Peat verskaf wat na die onversoenbare verskil in standpunt tussen Einstein en Bohr verwys: “[E]ach felt that a different notion of truth and reality was involved, which was not negotiable in any way at all, a real dialogue could never take place.”
Die verskil in oortuiging wat hier na vore tree, handel oor die teenstelling tussen die determinisme en die indeterminisme in die fisika. Voorstanders van eersgenoemde was van mening dat die kousaliteitswet impliseer dat die toekoms volledig deur die teenwoordige toestand van ’n sisteem vasgelê is. Heisenberg tipeer die deterministiese siening soos volg: “Wanneer ’n mens die woord kousaliteit so eng interpreteer, praat ’n mens ook van ‘determinisme’ en bedoel daarmee dat daar eksakte natuurwette bestaan wat die toekomstige toestand van ’n sisteem vanuit die teenwoordige toestand eenduidig vaslê.” (“Wenn man das Wort Kausalität so eng interpretiert, spricht man auch von ‘Determinismus’ und meint damit, daß es feste Naturgesetze gibt, die den zukünftigen Zustand eines Systems aus dem gegenwärtigen eindeutig festlegen” – W Heisenberg, Das Naturbild der heutigen Physik, 1956, Hamburg: Rowohlt, p 25.) Bohr en Heisenberg verdedig die indeterminisme en meen dat daarmee die kousaliteitswet in die fisika ontkrag is (dink slegs aan radioaktiewe verval – waar die helfte van die radioaktiewe stof na die halfwaardetyd daarvan tot ’n stabiele eindproduk sal verval sonder dat met sekerheid gesê kan word watter atome sal verval).
Die volgende formulering van die kousaliteitswet akkommodeer die eensydighede in hierdie twee sienings en gaan elkeen afsonderlik genoem te bowe: “Niks geskied sonder ’n oorsaak nie [soos tereg deur die determinisme ingesien en ten onregte deur die indeterminisme verwerp], maar wat die gevolg is, hoef nie vantevore vas te staan nie [soos tereg deur die indeterminisme beklemtoon en ten onregte deur die determinisme verwerp]”.
Fanie en Braam verwys na Snow wat die “twee geïnstitusionaliseerde wetenskapstradisies (natuurwetenskappe teenoor geesteswetenskappe)” as “wedersyds uitsluitend beskryf”. So ’n siening is egter in stryd met die werklike toedrag van sake – soos uitvoerig aangetoon in my onlangse werk, Philosophy: Discipline of the Disciplines, (2009, Grand Rapids: Paideia Press; kyk onder meer pp 3, 34, 36, 76, 83, 195, 209, 233, 244, 281, 283, 320-21, 333, 347, 499, 624-5).
Dit gebeur dikwels dat ’n bepaalde benadering iets raaksien, maar dan uit verband ruk of eensydig beklemtoon. Gevolglik kan ons altyd by enige isme iets leer, want elke isme appelleer op iéts in die werklikheid wat raakgesien is waarvan deur ander denkrigtings in die wetenskap ook rekenskap gegee moet word. Daar bestaan immers geen enkele wetenskaplike dissipline in die moderne wetenskapsbedeling waarin daar nie uiteenlopende en dikwels wederkerig uitsluitende standpunte aangetref word nie. Selfs nie die vermeende mees “eksakte” van alle dissiplines, die wiskunde, ontsnap hieraan nie. In die wiskunde bestaan daar immers radikale verskille tussen die aksiomatiese formalisme en die intuïsionisme. Stegmüller merk op:
The special character of intuitionistic mathematics is expressed in a series of theorems that contradict the classical results. For instance, while in classical mathematics only a small part of the real functions are uniformly continuous, in intuitionistic mathematics the principle holds that any function that is definable at all is uniformly continuous. (W Stegmüller, 1969, Main Currents in Contemporary German, British and American Philosophy, Dordrecht: D Reidel Publishing Company, Holland, p 331)
Kyk ook LEJ Brouwer, “Consciousness, Philosophy, and Mathematics” in P Benacerraf en H Putnam (reds), Philosophy of Mathematics, Selected Readings, Oxford: Basil Blackwell, 1964, pp 78-84).
Beth beklemtoon dieselfde punt:
It is clear that intuitionistic mathematics is not merely that part of classical mathematics which would remain if one removed certain methods not acceptable to the intuitionists. On the contrary, intuitionistic mathematics replaces those methods by other ones that lead to results which find no counterpart in classical mathematics. (EW Beth, 1965, Mathematical Thought, New York: D Reidel Publishing Company, pp 89)
Die implikasie van verskillende (vak-)wetenskaplike standpunte vir die formulering van owerheidsbeleid ten opsigte van “goeie wetenskap” is juis om ruimte te laat vir die proliferasie van oortuigingsverskille in ál die wetenskaplike dissiplines. Juis op hierdie punt word dit noodsaaklik om die vraag na die kompetensiegrense van staat en wetenskapsbeoefening aan die orde te stel.
Natuurlik kan wetenskaplike navorsing (binne universiteite of in ander wetenskaplike organisasies, soms by industrieë gehuisves) probleme ondersoek wat van groot belang vir die staat en die owerheidstaak is. Dit kan egter nooit beteken dat die staat uit hoofde van die inherente eie-aard daarvan wetenskapsbeoefening kan bedryf nie – eenvoudig omdat die staat ’n regsverband is en nie ’n akademiese verband (soos die universiteit) nie.
Ten diepste gaan dit om die akademiese vryheid van akademiese instellings. Selfs wanneer die owerheid sisteme van ewekniebeoordeling tot stand bring of akademiese instellings finansieel ondersteun, kan dit nooit geskied op die basis van ’n materiële maatstaf nie. Dit kan hoogstens met gebruikmaking van ’n formele maatstaf geskied. Byvoorbeeld, ter versekering van gehalte-onderrig kan die owerheid eweknie-akademici gebruik om te beoordeel of die dissiplines wat aangebied word ten spyte van standpuntverskille wat daarin aanwesig mag wees, tog aan die studente ’n “op datum” onderrig verskaf. Dit betref dus bloot die formele vraag: Is die onderrig op standaard? – desnoods in die internasionale sin van die woord. Sodra die owerheid egter daartoe sou oorgaan om inhoudelik (materieel) voorskriftelik te raak ten opsigte van universiteite, en byvoorbeeld vereis dat ’n bepaalde wetenskap vanuit die perspektief van dié of dáárdie standpunt gedoseer moet word, word op die interne vryheid van die universiteit as akademiese instelling inbreuk gemaak.
Dit bring die unieke eie-aard van die universiteitswese in die gedrang, die akademiese vryheid daarvan. Binne die kader van sosiale en politieke denkers sien ons trouens ’n toenemende erkenning van die aard-eie intrinsieke wette (norme/beginsels) van verskillende samelewingsinstellings. In die neofunksionalisme van Alexander vind ons byvoorbeeld die Duitse sosioloog Münch wat die teoretiese debat van die 1980’s sien as “Weber's theory of the rationalization of modern society into spheres that are guided to an increasing extent by their inner laws” (R Münch, “Differentiation, Rationalization, Interpenetration: The Emergence of Modern Society” in JC Alexander en S Seidman (reds), 1990 Culture and Society, Contemporary Debates, New York: Cambridge University Press, pp 441-64; 442).
Selfs Rawls verleen by geleentheid prominensie aan die idee van “distinct principles”:
But it is the distinct purposes and roles of the parts of the social structure, and how they fit together, that explains there being different principles for distinct kinds of subjects. (J Rawls, 1999, A Theory of Justice, Cambridge: Harvard University Press, p 262, hersiene uitgawe)
’n Laaste voorbeeld is in die denke van Habermas te vind. Hy praat van die sogenaamde eiewetlikheid van sosiale sfere (“Eigengesetzlichkeiten einzelner sozialer Sphären” (J Habermas, 1995-2, Theorie des kommunikativen Handelns, Volume 2, Frankfurt am Main: Suhrkamp, vierde hersiene uitgawe, 1987 – “Taschenbuch”-uitgawe, 1995, oorspronklik in 1981 gepubliseer, p 437).
Sonder om hierdie gesigspunt verder te voer, is dit waarskynlik toereikend om te beklemtoon dat strategie, visie en beleid van die owerheid fundamenteel rekening moet hou met die aard-eie lewenswette/beginsels onderliggend aan die bestaan van staat en universiteit – sodat daar nie onregmatige ingrepe plaasvind wat die interne akademiese vryheid van universiteite in gedrang bring nie.

