Wat elke skrywer moet weet: Die reg op privaatheid

  • 1

In hierdie artikel bekyk Bernard Wessels van die Universiteit Stellenbosch se Fakulteit Regsgeleerheid ’n volgende aspek van persoonlikheidsregte: die reg op privaatheid en wat skrywers moet weet oor privaatheidskending.

Hierdie artikel is bloot ’n algemene uiteensetting. Lesers met spesifieke vrae kan die skrywer kontak by abwessels@sun.ac.za.

Inleidend

In die vorige artikel is aangedui dat elke individu oor seker persoonlikheidsregte beskik: corpus, dignitas en fama. Terwyl eersgenoemde verwys na die reg op liggaamlike integriteit het laasgenoemde betrekking op die reg op reputasie of goeie naam. Dignitas is ’n sambreelterm en sluit die reg op die eer, die reg op privaatheid asook die reg op identiteit in. Dit is moontlik dat, met die publikasie van ’n bepaalde boek ’n skrywer inbreuk sou kon maak op ’n individu se persoonlikheidsreg(te). Dit is verder so dat, in die omgewing waarin skrywers en uitgewers hulself bevind, die publikasie van ’n boek meer waarskynlik aanleiding sou kon gee tot aanspreeklikheid vir skendings van dignitas (spesifiek die reg op privaatheid en moontlik die reg op identiteit) en fama as die reg op corpus. In die vorige artikel is die basiese regsbeginsels wat van toepassing is op laster en die skending van ’n persoon se reputasie kortliks en breedweg omskryf. In hierdie artikel word die aandag egter geplaas op privaatheidskending. Wat is privaatheid vir die doeleindes van die siviele (deliktuele) aanspreeklikheid? Hoe vind privaatheidskendings tipies plaas? En kan die skending van die reg op privaatheid geregverdig word sodat aanspreeklikheid nie volg nie?

Wat behels die reg op privaatheid?

Ten einde te slaag met ’n siviele (deliktuele) eis vir privaatheidskending, sou ’n eiser moet kan bewys dat die skrywer op (a) opsetlike, (b) onregmatige wyse (c) die eiser se reg op privaatheid geskend het. Dit gee aanleiding tot die vraag: wat behels die reg op privaatheid binne die konteks van siviele (deliktuele) aanspreeklikheid? Eenvoudig verwoord, behels dit die reg om alleen gelaat te word. Meer spesifiek dit verwys na die mees persoonlike aspekte van ’n persoon se bestaan, wat nie normaalweg met die algemene publiek gedeel word nie. Dit is inligting wat byvoorbeeld verband hou met ’n persoon se gesondheidstatus, seksuele oriëntasie, finansiële posisie, leefstyl, gesinslewe asook inligting wat vertroulik is of verband hou met ’n persoon se jeug, agtergrond of geskiedenis.

Dit is belangrik dat voornemende skrywers moet onthou dat, in beginsel, elke persoon die reg het om te besluit watter aspekte van sy/haar lewe privaat is en wat privaat gehou moet word. Verder het individue ook die reg om te besluit watter inligting geopenbaar mag word en ook onder watter omstandighede sodanige openbaarmakings mag geskied. Dit word daarom aanbeveel dat skrywers moet ooreenkom met relevante individue wat moontlik geraak kan word deur die toekomstige publikasie van ’n boek om sodanige persoon se toestemming te verkry vir die bekendmaking van enige private inligting. 

Hoe word inbreuk gemaak op privaatheid?

Indien iemand ’n skrywer aanspreeklik sou wou hou vir privaatheidskending, sou daardie persoon moet bewys dat die skrywer op opsetlike, onregmatige wyse inbreuk gemaak het op sy/haar reg op privaatheid. Inbreukmaking op die reg op privaatheid kan op twee maniere plaasvind: indringing of openbaarmaking. Indringing het basies te make met ’n direkte inbreukmaking op ’n persoon se privaatheidsreg. Dit sal plaasvind waar ’n skrywer byvoorbeeld ongemagtigde toegang verkry tot private inligting wat gedeel word met ’n ander persoon tydens ’n briefwisseling of e-pos-korrespondensie. Of waar ’n skrywer luister na ’n private gesprek tussen twee of meer persone.

Die openbaarmaking van private inligting vind normaalweg plaas wanneer ’n skrywer private inligting oor die eiser (wat byvoorbeeld deur indringing verkry is) aan ander persone bekend maak. Waar ’n mens met skrywers en uitgewers te make het, word dit tipies bekend gemaak deur middel van die publikasie van ’n boek. ’n Goeie voorbeeld kan gevind word in ’n belangrike uitspraak deur die Konstitusionele Hof oor privaatheidskending – daar het die skrywer die gesondheidstatus van die eisers gepubliseer en bekend gemaak aan ’n groot gehoor.

Privaatheidskendings moet op opsetlike en onregmatige wyse geskied

Indien die eiser geslaag het om te bewys dat die skrywer inbreuk gemaak het op sy/haar reg op privaatheid, beteken dit nie sonder meer dat die skrywer aanspreeklik is nie. Daar is immers nog twee vereistes vir aanspreeklikheid: opset en onregmatigheid.

Soos verduidelik in die vorige artikel wat oor laster gehandel het, bestaan opset uit wilsgerigtheid en onregmatigheidsbewussyn. Eersgenoemde het te make met die vraag of die skrywer subjektief sy/haar wil gerig het op die teweegbringing van ’n spesifieke gevolg of andersins voorsien het dat dit moontlik sou kon intree. Onregmatigheidsbewussyn, aan die ander kant, verwys breedweg na die vraag of die skrywer subjektief geweet het dat wat hy/sy doen onregmatig is. By die vasstelling van opset, fokus die hof dus op die gemoedstoestand van die skrywer. Die skrywer sou dus sekere verwere kon aanvoer ten einde te bewys dat hy/sy nie opsetlik die eiser se reg op privaatheid geskend het nie. Byvoorbeeld, daar kan geargumenteer word dat die skrywer ’n fout gemaak het in sover hy/sy werklik subjektief gedink het dat die publikasie regmatig geskied het. Ander moontlike verwere wat ’n impak op wilsgerigtheid en/of onregmatigheidsbewussyn kan hê sluit in skerts, geestesongesteldheid (emosionele stres), provokasie, jeugdigheid en dronkenskap.

Indien die skrywer se beroep op hierdie verwere egter onsuksesvol was, en dit dus vasstaan dat die publikasie van die private inligting opsetlik geskied het, is dit steeds moontlik om aanspreeklikheid te vermy. Dit kan die skrywer doen deur sekere verwere aan te voer wat daarop gemik is om aan te toon dat die publikasie nie onregmatig was nie. Onregmatigheid het uiteindelik te make met die vraag of, met inagneming van die regsoortuiging van die gemeenskap asook relevante beleidsoorwegings, dit redelik sou wees om die skrywer aanspreeklik te hou vir die inbreukmaking op die eiser se reg op privaatheid. In hierdie konteks sal dit belangrik wees om te onthou dat elke individu se gemeenregtelike reg op privaatheid ook grondwetlike beskerming geniet, terwyl die Grondwet terselfdertyd ook skrywers se reg op vryheid van uitdrukking verskans. Dit mag ook relevant wees of die openbaarmaking van sekere private feite in die openbare belang is.

Die mees relevante erkende verweer in die konteks van die reg op privaatheid is toestemming. Met ander woorde, indien die eiser sy/haar toestemming gegee het daartoe dat die skrywer toegang kan verkry tot sekere private feite en dat dit bekend gemaak (gepubliseer) mag word, sou sodanige publikasie as regmatig beskou word en sal die skrywer dus nie aanspreeklik gehou kan word nie. In hierdie verband moet die skrywer egter onthou dat toestemming ook verkry moet word op die wyse waarop publikasie mag geskied en aan wie die private inligting geopenbaar mag word. Verder is dit ook relevant om daarop te let dat toestemming tot die publikasie van seker private feite nie sonder meer beteken dat die skrywer enige ander feite rakende die eiser sonder sy/haar toestemming mag publiseer nie. 

Lees ook:

Wat elke skrywer moet weet: Laster en die skending van persoonlikheidsregte

Wat elke skrywer moet weet: Publikasie-ooreenkomste met uitgewers

Outeursreg: beloning, balans en ’n bondel regte

Wat elke skrywer moet weet: Testamentêre beskikking van outeursreg in Suid-Afrika

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top