
Wat ek van klippe weet. Gedigte
Jan Wagner (uit Duits vertaal deur Robert Schall)
Naledi
ISBN: 978-1-928530-63-3
Robert Schall, wat onlangs afgetree het as spesialis in die biostatistiek aan die Universiteit van die Vrystaat, trek al die afgelope 20 jaar aandag as literêre vertaler uit veral Afrikaans in Duits.
In 2005 is sy vertaling van ’n keur uit GR von Wielligh se Afrikaanse Boesman-stories deur Kuiseb Verlag in Namibië uitgegee. Sedertdien het Afrikaanse letterkundetydskrifte en -webwerwe, ook die digitale lokatieweliteratuur-projek “Byderhand” van die Noordwes-Universiteit, al talle van sy knap vertalings van werke, oorspronklik uit die penne van ’n verskeidenheid Afrikaanse digters, gepubliseer. Opvallend is dat dit talle gedigte insluit, byvoorbeeld van Van Wyk Louw, Boerneef en Philip de Vos, waarin taalspel en/of streek- of groeptaalbenutting kenmerkend is. Selfs Antjie Krog se omsetting van /Xam-gedigte in die sterre sê tsau het sy literêre avontuurlus geprikkel; hy het die hele bundel in Duits omgesit.
Sowat vyf jaar gelede het hy ook in die teenoorgestelde rigting begin vertaal, en minstens vyf Duitse liedsiklusse vir uitvoering in Afrikaans omskep. Daaruit volg toe dat hy, drie jaar gelede, inskryf vir ’n MA-graad in literêre vertaling aan die universiteit waar hy werksaam was, onder studieleiding van Henning Pieterse en Francois Smith.
Laasgenoemde studieleier gee hom vroeg-vroeg in die kursus ’n paarrymende Duitse sonnet van ene Jan Wagner om in Afrikaans te vertaal. Hy vind nie net aanklank by dié eietydse Duitse digter se ongewone maniere van kyk na die wêreld nie, maar word geboei deur die volgehoue woord-, klank- en versvormspel in sy oeuvre – en, siedaar, ’n 250 bladsye dikke Wat ek van klippe weet. Gedigte, onlangs uitgegee deur Naledi met die Afrikaanse weergawes telkens langs die Duitse oorspronklikes geplaas, is die eindresultaat.
Sowat die helfte van die gedigte wat in die 2016-keur uit Wagner se oeuvre, Selbstporträt mit Bienenschwarm (Selfportret met byeswerm), byeengebring is, is vir hierdie vertaalprojek gekies. In die nawoord tot Wat ek van klippe weet verskaf Schall onder meer enkele biografiese gegewens oor Wagner, terwyl hy ook een en ander meedeel oor die kenmerke van sy opwindende digwerk. Nie net word Wagner, wat pas 50 geword het, se verskuns krities hoog aangeslaan en met die mees prestigeryke literêre pryse en beurse in die Duitse literatuurwêreld bekroon nie; ook verkoopsyfers getuig daarvan dat hy tans die gewildste lewende Duitse digter is. Waarom dit so is, kom ’n mens by die lees van die gedigtekeur en hulle vertalings kort voor lank agter.
.........
Nie net word Wagner, wat pas 50 geword het, se verskuns krities hoog aangeslaan en met die mees prestigeryke literêre pryse en beurse in die Duitse literatuurwêreld bekroon nie; ook verkoopsyfers getuig daarvan dat hy tans die gewildste lewende Duitse digter is. Waarom dit so is, kom ’n mens by die lees van die gedigtekeur en hulle vertalings kort voor lank agter.
...........
Dit wat alte lui of te maklik as die alledaagse betrag en beleef word, word ontsluier as meerkantig van aard, verrassend, dikwels wesenlik wonderbaarlik. Vergelyk die volgende waarneming van ’n kwal in die oseaan:
vraatsugtige oog,
eenvoudigste onder die eenvoudiges –
net een persent skei hom van alles
wat hom omgeef.
stoot jou verder vooruit
die onbekende in: ’n brandglas, geslyp
deur strome en golwe; ’n lens
wat die oseaan vergroot.
Of die volgende tekening van hoe skoolkinders op ’n dag, deur ’n oënskynlik verspotte voorval, iets van ’n wesenlike verlies aan onskuld beleef:
anomalieë
van wie die nota was – nie uit te maak
nie, om van niks te weet nie, eresaak,
maar onbetwis dié brokkie nuus: herr riegel
het drie tepels. dus die dun gegiggel
van die meisies agter ons, soos spelde
wat op ’n houtvloer val. voor die venster
vroeë kersfeessneeu, ’n trein skei velde
wat kortliks akkerwit van wit bo hom afgrens –
toe die skoolklok lui en ons laat ruk:
op die gang se eindelose rakke hurk
in hulle hemels van formaldehied
die kaal klein gode en bekyk ons stom.
asof hulle kon aanvoel, peil, wat diep
onder die vel verborge lê, en aangroei, en waarom.
Die wêreld en die dinge, werklik én verbeeld, word dikwels vanuit ongewone en wisselende hoeke bekyk – soos deur die oë van ’n kind in die volgende gedig:
wipplank
maak jou swaarder, roep hulle, dus knyp ek
albei oë bot-toe, dínk
aan sakke vol sement, die ystertydperk,
olifante, donderweer, ’n tenk,
’n tenkskip op ’n stormsee waar ’n weemoed walvisse
verbygly, dink gou-gou nog aan walrusse
se spek. net ’n wyle
die asem inhou, wag. maar niks wil rys
of daal nie, net die die-die-diederikroep
van ’n diederikkie, asook blare, val – my onwillige
bene te kort om ooit die grond te raak,
my kop so byna in die wolke.
Ráák beelding speel in sodanige onthulling van die werklikheidsgeheimenisse uiteraard ’n kardinale rol – soos uit bostaande gedigaanhalings blyk. “Beeld” vorm nie verniet die stamwoorddeel van “verbeelding” nie. Die beelde in die volgende gedig nooi die leser uit om hom of haar die verwoorde toneel in te prént:
van lake michigan
die hele nag lank tier die storm
om die wit houthuis, bymekaargehou
deur net die dun lamplig
van sy kamers. die bome
se herfstelike krone die volgende oggend –
soos kerkvensters wat uitgegooi is.
die verlate pretpark
met die seeslange van sy tuimeltreine:
in goeie somers teer hulle
op al die versuikerde gille;
nou staan hulle, star voor die winter.
elke aand, vriende, knip
die skemer die omtrekke
van reë uit die woud.
die lang wandelinge langs die strand:
moeilik om te sê in hierdie eensame lig
of dit ’n swartbeer is wat die oewer uitklim,
of ’n stukkie dryfhout
tot ’n swartbeer verbrand.
Vindingryke woord- en klankspel speel ’n ewe belangrike ontdekkingsrol in hierdie opsig. Die volrym- en halfrymverbande tussen woorde soos “vorms”, “vorme” en “uniforms”, en tussen “mat” en “mite” in die gedig “die veteranetuin”, versterk byvoorbeeld die homonimiese betekenismoontlikhede wat in sommige van hulle skuil. Sodoende kry die kennelik verbeeldingryke mymery deur die oudsoldate, in hulle aandadigheid aan “die mite- / deurdrenkte spel van konings” (let op die toespeling op skaak), verdere woordgestalte. Die twee slotstrofes van die gedig lui soos volg:
al die verpleegsters dra wit uniforms
en is tog warm, en rol die mankes terug
die huis in as die aandlug eers blink tande
wys; en ’n hele leërskare mites
volg hulle na hul kamers. waar dit mat
was, platgedruk, herrys die tuin se gras.
die donker vorms dwaal steeds nog oor die gras –
’n mens dink dalk aan tande. of aan mites.
die koning bly terughoudend in sy mat.
Wagner deel kennelik die fassinasie met streek- en groeptaalvariante wat Schall geopenbaar het in sy omsettings van die genoemde digwerk van Boerneef en andere. Trouens, vir sy bundel Die Eulenhasser in den Hallhaüsern. Drei Verborgene (deur Schall in Afrikaans vertaal na Die uilehaters in die ratelhuise. Drie verborgenes) het Wagner selfs drie fiktiewe digters aan die woord gestel, waaronder ene Anton Brant, wie se taalgebruik deurspek is met Duitse streek- en vaktaaluitdrukkings. Die tongval in spesifiek die Brant-gedigte boots Schall dan onderhoudend in Afrikaans na, eweneens voorsien van voetnotas om, aan die hand van ’n fiktiewe Glossarium van Afrikaanse Streektaal, verklarings (uit ’n verskeidenheid bestaande Afrikaanse woordeboeke gehaal) van minder-bekende woorde in sekere gedigte te bied. Ook só word die dinge se aldagsluier van hulle gelig om, as ’t ware, herontdek te word. Vir my, plaasjapie van herkoms, het die landelike sfeer waarbinne hierdie Brant-gedigte geplaas is, besonder aangestaan. “Skaapskeer” open soos volg:
In die lente kom die oubaas verby
met sy twee klitse op sleeptou;
’n knorpiet en raakvatter duisend,
vermom agter baard en hoed,
maar g’n slaaibek nie, en rap met die skêr.
Die Bybelse dier wat bokspring en wriemel,
vasskop teen die kêrels
wat by sy krulhorings inhaak soos filanders,
hom voortstoot, voortsleur,
na hom toe wat vasstaan soos Abraham self.
Soos sowel Henning Pieterse in sy voorwoord en Schall in sy nawoord tot Wat ek van klippe weet benadruk, is dit veral die uitdagings rondom, en die spel met, rym en (meestal vaster) digvorme wat Wagner se digkuns inspireer. Schall skryf onderhoudend oor Wagner se benutting van ook minder-bekende klankherhalingsvorme, soos skuins- en pararym, en van die rymgeïnspireerde “brutale” enjambement. Van laasgenoemde, waar woorddele by wyse van ’n koppelteken van mekaar geskei word om eindrym te bewerkstellig, bevat die reeds vermelde “die veteranetuin” voorbeelde:
[...]
die stryd, sê daardie griek, is alle vorms
se oorsprong, alles lei na hom toe terug.
die veterane klim getrou die mat-
terhorn van hul herinnerings wat mat
in sagte teenlig straal. die winkeltande
is lánk reeds onder in die vlaktes terug-
gehou. [...]
Die (nuutmakende) spel met werklikheidsbeskouing en talige vormgewing, met verwagting en onverwagsmaking, kry ook op hierdie wyse versgestalte.
Stuit gaan die Afrikaanse leser dus soms met bedenking stuit voor bepaalde woordkeuses en stelwyses in Schall se Afrikaanse gedigweergawes. ’n Voorbeeld of twee: Of die gebruik van die Duitse woord “autobahn” in ’n gedig geheet “australië” geregverdig word deur die eindrym met “aan” wat dit bewerkstellig? En of die halfrymwinste in die woordkeuse “ratelhuise” vergoed vir die daardeur onpresiese betekenisbenoeming van die Duitse “Hallenhäuser” (houtraamplaashuise in die Nederduitse gebied wat woonkwartiere, vee en skuur onder een dak kombineer) in Die uilehaters in die ratelhuise – die titel van die bundel waaruit die voorheen vermelde Anton Brant-gedigte gekies is vir vertaling?
Sulke bedenkingsmomente ry egter kwalik die boeikrag en leesbevrediging wat dié vertaalde keur ’n mens besorg, in die wiele. Dis oorspronklike en vertaalde poësie wat nie net verwondering vir die dinge wek nie, maar ook deur middel van taal-, klank- en vormspel onderhoudend wil wees betreffende die digkuns self. Wagner, self ’n vertaler en vertaalde, nooi vertaler én leser daarom uit “to play along” (soos hy iewers in die nawoord deur Schall aangehaal word).
Dat Afrikaans en Duits taalverwante is, maar tog ver genoeg uit mekaar gegroei het om (aanvanklik) wedersyds ontoeganklik te wees, dra tot die spelelement by. Of jy Duits ken of nie, ’n leesavontuur soos min wag as jy ’n Afrikaanse poësieliefhebber is. Moeite word gedoen om hierdie skat aan diggeweefde verse toeganklik te maak. Die vertalings is uiteraard die hoofsleutel hiertoe, maar ook die vermelde voor- en nawoorde, en die voetnotas by sommige gedigte, is nuttig in hierdie verband.
Verrykende kulturele uitwisseling soos min.
Robert Schall dra met hierdie vertaalde keur indrukwekkend by tot die oplewing in Afrikaanse poësievertaling die afgelope dekade of twee – ’n welkome verskynsel waarin sy uitgewer reeds ’n belangrike rol begin speel het.


Kommentaar
Ek sou graag die oorspronlike Duits saam met die vertaling wou sien. Die digter Jan Wagner is vir my onbekend, dalk nie vir ander nie.
In die resensie word genoem dat die Afrikaanse vertalings langs die oorspronklike Duitse weergawes geplaas is in die bundel.