|
Die week in woorde |
Een van die eerste regte groot woorde wat ek op hoërskool geleer het was jukstaposisie – ek weet nie meer of dit in die kunsklas of in die Afrikaans-klas was nie. Jukstaposisie is 'n heerlike woord wat wonderlike kreatiewe moontlikhede inhou – of dit nou visueel of in woorde is. Jukstaposisie is ook die enigste verklaring/verskoning wat mens sou kon gebruik wanneer jy snorre en skryfkuns by mekaar wil uitbring.
November, agter die volksnor en in die volksmond bekend as Movember, is bloeityd vir snorre. Die verskoning is om mans wêreldwyd bewus te maak van hul gesondheid, en om veral aandag te vestig op prostaatkanker en ander kankers wat mans affekteer. Die movember-webwerf het meer inligting.
Die outomatiese jukstaposisie gebeur wanneer 'n mens in die maand Movember 'n rubriek moet skryf oor die digkuns. Die twee uiteenlopende temas het my op 'n soektog geneem na gedigte oor snorre. Soek en jy sal vind, sê hulle, en sowaar, nie net 'n gedig oor snorre nie, 'n hele bundel toegewy aan een man se snor: Peter Davis, 'n Amerikaanse digter, van wie die debuutbundel Hitler’s Mustache in 2006 verskyn. Hier onder is een van die gedigte uit die bundel:
|
Hitler’s Mustache: The Confession |
|
I feel like a bad mustache a lot of the time. With no friends, and for good reason, greedy and mean and not worth the time. I recognize this sensation often as the symptom of mental mustache but more often as the truth. Who knows about masks? Not me. I’m moving at the speed of light and the occurrence of seeing light gets mustache, etc. I want to tell something about myself, but, mustache. |
Lees nog gedigte uit die bundel hier of besoek Davis se blog hier.
Hitler se tandeborselsnor kan nie kers vashou by Salvador Dali se surrealistiese bloeiselsnor nie. Die snor was seker nie die direkte inspirasie agter David Gascoyne se gedig oor Dali nie, maar dit mag dalk wel 'n rol gespeel het. Dus die onderstaande jukstaposisie van snorbeeld en digterlike verbeelding.
|
Salvador Dali |
![]() |
|
The face of the precipice is black with lovers; The smooth plain with its mirrors listens to the cliff A flock of banners fight their way through the telescoped forest Mirrors write Goliath’ns name upon my forehead, |
Hoewel ons die snor hier ter lande nie tot sulke blomryke uiterstes voer nie, is ons nie skaam vir 'n snor of wat nie, ook nie in die letterkunde nie. Kyk byvoorbeeld hierdie stylvolle stel skrywerssnorre wat 'n vinnige soektog op Google opgelewer het.
![]() |
|
Peter Blum, Daniel Hugo, Breyten Breytenbach en CJ Langenhoven verteenwoordig die snor in verskillende eras. |
Dit bring my by die dames in die digkuns ... Geen rede waarom ons terug moet sit en die pret op 'n afstand bewonder nie. Gryp die geleentheid om te emansipeer, te jukstaponeer of om sommer net die gek te skeer!
Hier is drie van my gunsteling digtende dames met snorre (deur my aangebring).
![]() |
![]() |
|
Antjie Krog |
Anne Carson |
![]() |
|
| Anne Sexton | |
En net om te wys dat ek self nie skrik vir 'n harige bolip nie, 'n selfportret met snor.

As jy jou wil verkneukel met heerlike snor-jukstaposisies, knock yourself out met hierdie DIY-snor. 
Sonja Loots se roman Sirkusboere, met sy welige blink snor op die voorblad, soek 'n huis. Laat weet my watter Suid-Afrikaanse gedig volgens jou kan doen met 'n snor in die titel. 'n Paar voorbeelde, ter inspirasie en illustrasie:
Wat die hart van vol is loop die snor van oor – Breyten Breytenbach
Vroegsnor – NP Van Wyk Louw
Ballade van die snorland – DJ Opperman
Emily Dickinson (se snor) – Elisabeth Eybers
Stuur jou voorstel aan wen@litnet.co.za, met SNOR in die onderwerp-veld.
In die gees van die toevalligheid wat ek verlede week besing het, is die wenner van Die voëltjies se ABC Ilna Stander. Die gegewe wat haar laat uitstyg het bo die ander deelnemers, is nie soseer haar gekose voël nie (maraboe), maar die feit dat sy in Kraaifontein woon. Ilna, jou boek is op pad, per posduif.
![]() |
Jaco Barnard-Naudé het ’n voëlgedig ingestuur na aanleiding van verlede week se voëlrelaas: Hier is ’n haikoe wat weggehol het met Waldemar Gouws: |
Tot volgende week.
Bibi







