Wat blues vir die Bones beteken

  • 0

In ’n toegerookte kantoortjie sit drie langhaarouens. Een met ’n Al Capone hoed, een met ’n baard wat vir Gandalf sal laat blóós, en een met sy gesig diep in sy skootrekenaar begrawe.

Hierdie drie karakters is ’n driekwart van die metal-blues-country-rock-band The Black Cat Bones. Die ander een drink êrens Jägermeister.

Dié Johannesburgse groep se derde album, Beatipiller, is Vrydag 10 Mei by The Quarry op Hillcrest Wynplaas in Durbanville bekendgestel.

Die beligting is ’n heerlike konkoksie van rooi, blou en pers. Die plafon is verlaag deur uitgestrekte linne, gepeper met ronde kandelare.

Sowat 120 mense het die koue aangedurf om dié geleentheid by te woon. Die Bones het ’n string aanhangers in die Kaap – elkeen met ’n mafia-hoed.

De Wallen, ’n soft rock-groep met ’n Van Coke look-alike, warm die verhoog op. Maar daar is nog net ’n eensame ou wat heel voor op die koue dansvloer sit en sy afro ritmies skud.

Totdat die vier langhaarouens hulle verskyning maak. Die gehoor is dadelik op hul voete; die vinnigstes is héél voor.

Hulle skop af met ’n nommer van Beatipiller, toepaslik genoem “Black Cat Bone”. Dié country-nommer herinner sterk aan Ram Jam se “Black Betty” – ’n liedjie waarop mens net by die naaste persoon wil inhaak en line-dance.

Hulle betower met nog rondspringliedjies van die nuwe album, gevolg deur ou bekendes, soos “Mojo”, wat deur Mike Crawford, eienaar van The Quarry, en sy bekfluitjie vergesel word.

Voorman Kobus de Kock jr se unieke growwe, beerstem is geweef vir blues en tref “When I speak it’s strange” se lae note met moeitelose vernuf.

Kitaarman André Kriel hoef nie eers sy mond oop te maak nie – sy instrument praat vír hom. Sy vingers gly oor die komplekse riwwe soos dié van “No place like home” asof hulle dié pad álte goed ken.

Jason Hinch herinner my aan Neil Peart van Rush: ietwat teruggetrokke, maar agter die dromme kán hy nie misgekyk word nie.

En blues sonder bass is soos Barbie sonder boobs: plat en pointless. Chris Danger het die gehoor vermaak met onverbloemde stuitigheid (breakdancing op sy kop, so reg uit die ’80’s, maar wanneer die diep note kom, soos dié van “That look on her face”, is hy en sy baskitaar doodernstig.

“Daar is nie ’n rif wat Chrissie nie kan speel nie!” spog Kobus.

? ? ?

 “Die blues–puriste gaan in hul broeke k*k,” mompel sanger Kobus terug in die kantoortjie, onderdeur sy indrukwekkende baard. Ek wonder of hy ooit iets daarin wegsteek, miskien sy gunsteling-LP of dalk Tolkien se The Hobbit

“Ons eerste twee albums, Silverton Swamp Songs [2009] en A Long Drive [2011],was baie meer blues-georiënteerd. Hierdie een, alhoewel hoofsaaklik blues, het meer up-tempo, harde rock ’n roll-liedjies.”

My oog vang iets blink op die swaar houtlessenaar: ’n goue beer spog met ses pote teen ’n maroen agtergrond op die albumkassie.

“Dit is Luke Strydom se kuns,” sê Chris baskitaarspeler Danger ThunderVolt.

“Dit kom vanuit ’n versameling gemorfte diere wat hy geteken het,” sê Kobus. “Ons het van “Beatipiller” gehou want dit bestaan nie, dis aggressief, hou verband met musiek ...”

“... en dis ’n beer met ses pote,” onderbreek Chris. “Net soos dié dier bestaan ons nuwe sound ook uit verskillende elemente – al die blues wat ons al geluister het, die tricks wat ons geleer het, covers wat ons gesing het ...”

“Blues is the roots of what we know as rock ’n roll today,” onderskep De Kock weer. “Ons luister alles van Metallica tot The Rolling Stones tot Rihanna en Barbara Streisand, neem elemente wat vir ons mooi is en kombineer dit met ons daaglikse ervarings. It’s all about artistic integrity.”

(Ek het later uitgevind dié “kunstenaar”, Luke, is elf. Elf!)

“Ons het ’n nuwe klank gesoek,” gaan Kobus voort, “maar dit is nog steeds gebou op die blues-rock foundation ...”

 “Jy wil nie goed skryf wat té kommersieel is nie, maar ook nie só kunstig dat niemand daarvan gaan hou nie.”

Kobus skerts na Chris. “Hei! Sjjjt! Ek kan nie praat as jy so aanhou interrupt nie!”

“Die album het ’n tema van ballingskap en onderdrukking,” herstel Kobus.

Ek giggel so bietjie oor die ironie van dié skouspel.

Dít was die eerste aand wat die album in die Kaap verskyn het, en slegs 31 CD’s is dié aand verkoop. “Ons het baie uitgegee,” sê André. “Looks like we’re just spreading the art.”

  • Beatipiller word deur Chris se broer, Lanie Van der Walt, van Wolmer Records uitgebring.
  • Klank by The Quarry is gedoen deur Arrie Terblanche van ACLA Pro Audio.

Hierdie bydrae vorm deel van samewerking tussen LitNet en Universiteit Stellenbosch se Departement Joernalistiek gedurende 2013.

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top