Wat beteken inklusiwiteit?

  • 1

Die ATKV het onlangs hul nuwe veldtog, Afrikaans Plus, aangekondig en daarmee saam wil hulle poog om meer inklusief te wees. Dié nuus het nie by alle Afrikaanssprekendes, van wie party ATKV-lede is, byval gevind nie. Daar is nog ander organisasies wat staan vir inklusiwiteit, en selfs die Universiteit Stellenbosch se visie vir 2030 is inklusiwiteit, vernuwing en toekomsgerigtheid.

Die ATKV se aankondiging het my laat wonder wat inklusiwiteit regtig beteken, want as ’n millennial wil ek graag, hoe idealisties dit ook al mag klink, in kringe beweeg wat verteenwoordigend is van alle mense in ’n spesifieke gemeenskap. Dit is mos hoe ’n mens groei. Maar dit het my ook laat wonder waarom inklusiwiteit vir sommige mense soos ’n bedreiging voel. ’n Bedreiging vir hul kultuur, taal, erfenis en dit wat hulle voel hulle toekom.

Ek het eers ’n paar ander millennials gevra wat inklusiwiteit vir hulle beteken:

André van der Hoven

André (21): “Inklusiwiteit vir my beteken wanneer almal voel hulle behoort êrens en hulle word behoorlik verteenwoordig.”

Hendrik Nieuwoudt

Hendrik (20): “Inklusiwiteit kry mens wanneer niemand in ’n sekere omgewing uitgesluit voel nie. En dat hulle nie voel dat hulle nie daar hoort nie – velkleur, gebrek, seksualiteit, of kultuurgewys. Hoekom praat ons nog van inklusiwiteit? Dis logies. Hoekom sal iemand ander wil uitsluit? Hoekom moet ons veg vir inklusiwiteit? Ek dink dis die instansies waar ons is en dis vooropgestelde idees wat mense gereeld wil onderdruk en uitsluit”

Tertia Mack

Tertia (21): “Inclusivity means that one is intentional about taking into consideration the needs and existence of others. It is not something passive but rather an act which should be embedded into our thoughts and speech. Being inclusive is not a destination or a goal, nor is it something to reserve for a ‘Mandela Day’. Inclusivity should not be taught or enforced; it needs to be seen in the genuine actions of humankind.”

Bernie Madell

Bernie (21): “Inklusiwiteit ... wanneer almal voel hulle behoort en dis nie net een groep van die samelewing wat voordeel trek en bevoorreg word nie.”

Zian (27): “Inklusiwiteit beteken dat mense nie onderdruk en gemarginaliseer word nie en dat mense kan vry wees in watter ook al omstandighede. ’n Inklusiewe spasie is ’n vry spasie.”

Inklusiwiteit gaan daaroor dat ons nie in isolasie kan leef nie en dit is as gevolg van ons verdeelde verlede dat soveel mense en organisasies inklusiwiteit as deel van hul visie en missie moet aanneem. Alhoewel ons al vir 23 jaar ’n demokrasie is, is verdeeldheid en verskille op talle plekke nog sigbaar, maar hoe maak ’n mens wanneer daar burgers is wat inklusiwiteit as ’n bedreiging sien? Die wil om die verlede reg te stel is nie veronderstel om vir enigiemand ’n bedreiging te wees nie.

Ons moet leer van die verlede, sodat ons dieselfde ongeregtigheid nie herhaal nie, want onder apartheid het mense in isolasie geleef en ek besef daar is mense wat die woord “apartheid” nie meer wil hoor nie, maar hoe gaan ons die toekoms verander as ons wegskram van die realiteit? En die realiteit is dat daar talle mense is wat nog ’n laeklasbestaan moet voer en dan ook mense wat gebuk gaan onder rassistiese voorvalle en aanvalle.

Om terug te kom by die punt van die ATKV en hul nuwe Afrikaans Plus-beleid: die nuwe uitvoerende hoof van die ATKV, Deidre Le Hanie, sê in ’n video-onderhoud met Netwerk24: “In ons land het ons vir baie jare net Afrikaans en Engels afgeforseer. Wat sal dit nie vir ons ander Afrikasprekers beteken as ons ten minste net een ander taal magtig raak nie? Is dit nie nasiebou nie? Is dit nie respek demonstreer nie? Is dit nie inklusief wees nie?”

Le Hanie maak dit duidelik dat die doel is om mense van verskillende agtergronde by mekaar uit te bring, want sodra jy vir iemand wys jy stel belang en loop daardie ekstra myl, kan versoening ’n werklikheid word. Sy sê ook verder vir Netwerk24: “Jy’s nie divers as jy net twee tale kan praat nie. Jy’s divers wanneer jy daai ekstra myl loop.” Le Hanie het baie sterk kritiek ontvang, veral omdat sy haar eerste perskonferensie vir die Engelse media gedoen het, en daarvoor het sy gevoel moes sy om verskoning vra. Die ATKV het ’n baie sterk ondersteuningsbasis en talle lede het gedreig om hul lidmaatskap stop te sit toe Le Hanie oor meertaligheid begin praat.

Skakel na die video wat op 18 Jule 2017 geplaas is

Meertaligheid blyk deesdae die oplossing te wees vir universiteite se taalkwessies en al wat dit beteken, is dat alle tale verteenwoordig moet word. Dit is met ander woorde nie Afrikaans ten koste van ’n ander taal nie, maar eerder Afrikaans en ander tale. Ons leef in so ’n diverse samelewing, dit maak mos nie sin dat slegs een taal of twee tale bevorderd word nie, want net soos ek wil hê Afrikaans moet behoue bly, is daar ’n ander persoon wat dieselde wil hê vir Zoeloe of Xhosa. En wat maak dit my as ek iets vir myself wil hê, maar nie kan insien waarom iemand anders presies dieselfde vir húlleself wil hê nie?

Aan die ander kant is daar ook mense wat vra hoekom moet Afrikaans altyd aan die kortste ent van die draad trek, want dit lyk net asof die Afrikaanssprekendes gereeld moet ruimte maak vir ander sprekers. Die antwoord is eenvoudig: Afrikaans word nou al vir jare gepraat en is al opgebou tot ’n akademiese taal terwyl die res van ons ampstale nog nie almal akademiese tale is nie. Dit beteken nie dat ons enigsins moet gaan en ophou Afrikaans praat nie; al wat dit beteken, is dat ons almal kan saamwerk om meertaligheid te laat realiseer en sodoende is ons meer inklusief en kan ons saam met mekaar gesels en nie oor mekaar of verby mekaar nie.

So wat beteken inklusiwiteit? Inklusiwiteit bestaan wanneer niemand uitgesluit voel nie en almal voel hulle behoort. Inklusiwiteit is nie veronderstel om ’n bedreiging vir iemand se taal, kultuur of erfenis te wees nie, en ons pogings om inklusief te wees moet goed saamwerk sodat die beste oplossing vir elke landsburger gevind kan word.

  • 1

Kommentaar

  • Avatar
    Hanno Visagie

    Maties is duidelik geïndoktrineer deur Slim Wim en dergelike "elite" se kultuurmarxisme.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top