Die WAT het pas Deel XVI tydens ’n aanlyn geleentheid bekendgestel, presies 70 jaar nadat die eerste deel op 7 Mei 1951 verskyn het. Tydens dieselfde geleentheid is die 95ste jaar sedert die stigting van die Woordeboek van die Afrikaanse Taal gevier.
Foto’s: Naomi Bruwer
Kyk die bekendstelling hier:

Willem Botha, hoofredakteur en uitvoerende direkteur van die WAT, het as seremoniemeester by die geleentheid opgetree.
Willem Botha: Ons vier die 95ste verjaarsdag van die Woordeboek van die Afrikaanse Taal, en ons stel Deel XVI van die WAT bekend. Die WAT is ’n maatskappy sonder winsoogmerk met ’n direksie aan die stuur van sake. Die ondervoorsitter van die direksie, Rufus Gouws, gee ons ’n kykie in die geheime van ’n 95-jarige.

Rufus Gouws, ondervoorsitter van die WAT-direksie
Die Woordeboek van die Afrikaanse Taal word 95 – Rufus Gouws
’n Woordeboekprojek is dinamies en word gekenmerk deur ontwikkeling en verandering. Vir so ’n projek om reeds vir 95 jaar lank relevant te bly, is net moontlik indien die dinamiese aard gekoester word en die veranderinge daartoe lei dat die projek homself herhaaldelik herskep. ’n Woordeboekprojek word deur mense bedryf wat daardie projek lewenskragtig moet hou. Lewenskragtigheid is net moontlik as daar ’n gewilligheid is om te verander, geesdrif, geloof in jou saak en verbeelding. Oor so ’n lewenskragtigheid beskik die Redaksie van die WAT en daarom seëvier die WAT as ’n dinamiese projek.
Na meer as ses dekades het die WAT as leksikografiese senior burger ’n kuur nodig gehad. Die eerste herskepping van die WAT het gevolg op hewige kritiek oor veral die ensiklopediese aard van die woordeboek en die stadige alfabetiese vordering. In 1989 het die woordeboek vir ses maande tot stilstand gekom terwyl die hele projek herbeplan is. Teoretici is betrek ten einde versoening te bewerkstellig tussen teorie en praktyk. Die woordeboek en die redaksionele werkswyse is herontwerp volgens die jongste leksikografieteorieë. Die negatiewe kritiek wat in resensies van die WAT uitgespreek is, is deeglik in ag geneem by die herontwerp en die volgende dele van die WAT is oorwegend positief deur die resensente ontvang. Arrogant raak ons egter nie, want ons hou altyd die woorde van die Engelse leksikograaf Samuel Johnson in gedagte: “Every other author may aspire to praise; the lexicographer can only hope to escape reproach.”
Die WAT is na die herskeppingsproses as ’n wetenskaplike woordeboek erken wat die huidige stand van die leksikografie weerspieël. Woordeboeke weerspieël die kultuur en werklikheidsiening van sy gebruikers. Om sekere probleme wat raakgesien is op te los, het die WAT hierna ’n Internasionale gespreksgeleentheid aangebied oor die hantering van sensitiewe leksikografiese items soos rassismes en seksismes. Dit het gelei tot ’n vernuwende en leksikografies bevredigende hanteringswyse van rassistiese woorde en uitdrukkings in die WAT.
In 1991 word die WAT die uitgewer van Lexikos, ’n geakkrediteerde internasionale vaktydskrif wat bydraes in Afrikaans, Engels, Duits, Frans en Nederlands publiseer. Lexikos dien ook as amptelike mondstuk van Afrilex, die leksikografiese vereniging vir Afrika. Hiermee is een van die doelwitte van die herskepping van die WAT verwesenlik, naamlik om ’n sentrum vir leksikografiese denke te wees.
Vanaf 1994 bied die WAT opleidingskursusse in die leksikografie aan. Al nege woordeboekeenhede van die ander inheemse Suid-Afrikaanse tale sou mettertyd kursusse in die leksikografie by die WAT deurloop. Woordeboekmakers en studente van so ver as Gaboen, Malawi, Tanzanië, Zimbabwe en Namibië het die WAT vir opleiding besoek. Studente en leerders besoek die WAT vir lesings. Werkwinkels oor die gebruik van die Elektroniese WAT in die onderrig van Afrikaans op skool word aan opvoedkundestudente gebied.
Saam met ’n Sweedse maatskappy is ’n woordeboekskryfprogram ontwikkel wat kon voldoen aan die behoeftes van die WAT as ’n omvattende woordeboek. Dit het die WAT op die voorpunt van rekenaarleksikografie in Suid-Afrika geplaas. Nou raak die WAT-leksikograwe iets meer as Samuel Johnson se definisie van ’n leksikograaf: “a writer of dictionaries; a harmless drudge …”.
’n Finansiële krisis het gelei tot die tweede herskepping van die WAT. In 2004 is die staatsubsidie aan die WAT drasties en sonder vooraf kennisgewing ingekort. Personeelvermindering was onafwendbaar en feitlik oornag moes die WAT ’n alternatiewe inkomstestroom vind vir 50% van sy inkomste. Baie energie en tyd moes nou aan fondswerwing afgestaan word. Daarmee saam moes hard gewerk word aan die beeld van die WAT en die breër rol wat die maatskappy in die gemeenskap speel ten einde potensiële donateurs se vertroue te wen.
Hierin het gereelde radio-optredes, gereelde rubrieke in koerante en enkele televisie-optredes per jaar ’n deurslaggewende rol gespeel. Die Borg ’n Woord-projek met hoëprofielbeskermvroue en -here soos David Kramer, Charlene Lackay, Karen Zoid, Dave Pepler, Marita van der Vyver, Hemelbesem, Deon Meyer, Tracey Lange, Laurika Rauch en tans Dawie Roodt het ook ’n groot rol gespeel. Borg ’n Woord het mense veral bewus gemaak van die waarde van woorde in hul lewens.
Die jaarlikse nuutskeppingskompetisie tydens die Woordfees en die meer onlangse Afrikaanse handelsnaamkompetisie is ook bewusmakers van die skeppende krag van Afrikaans terwyl dit ook belangrike blootstelling aan die WAT verleen.
Danksy die wonderlike ondersteuning van mense wat lief is vir Afrikaans was die fondswerwingsveldtog van die WAT suksesvol. Met die klein redaksie sou dit in 2018 egter nog 20 jaar duur om die WAT te voltooi.
Die derde herskepping van die WAT het in 2018 plaasgevind toe ’n Tienjaarplan vir die voltooiing van die WAT tot by Z aanvaar is.
Die hoofmomente van die plan is die aanstelling van vyf bykomende redaksielede en bykomende befondsing van R32 miljoen oor ’n tydperk van tien jaar. In die eerste twee jaar van die plan is al die gestelde doelwitte deur die vergrote redaksie bereik. Die 16de deel van die WAT is voltooi en word vanaand bekendgestel. Slegs ag jaar van die plan vir die voltooiing van die WAT bly oor: die einde is in sig.
Tagtig persent van die WAT se inkomste is afkomstig van donasies. Ons rig graag ’n groot en opregte woord van dank aan ons huidige ankerdonateurs wat jaarliks groot donasies aan die WAT maak, nl Het Jan Marais Nationale Fonds, die Trust vir Afrikaanse Onderwys, Sanlam, die Universiteit Stellenbosch, die Nancy Steyn Trust, die Pan Suid-Afrikaanse Taalraad en die Hiemstra Trust. Ons waardeer egter ook elke ander skenking en elke deelnemer aan Borg ’n Woord.
Die strewe van die Woordeboek van die Afrikaanse Taal is om Afrikaans in sy wydste omvang te weerspieël. Dit beteken dat nie net Standaardafrikaans nie, maar ook die ander variëteite soos Kaaps en Namakwalands, ’n tuiste in die woordeboek sal vind. Ons sal altyd daarna streef om Afrikaans op ’n positiewe en inspirerende wyse te bevorder.
Die dinamiese WAT bewys dat dit in ’n woordeboekprojek nie net oor woorde gaan nie – die daad moet ook by die woord gevoeg word om sukses te verseker. En dit gebeur. Geluk aan die Redaksie onder die bekwame leiding van Willem Botha wat hierdie enorme taak met soveel grasie en ywer afhandel.
Op 95 het die WAT ’n digitale huppel in haar stap, want Z is binne bereik.

Willem Botha oorhandig Deel XVI van die WAT aan Rufus Gouws.
Willem Botha: Benewens die WAT-direksie is daar ook ’n WAT Trust. Die WAT Trust is betrokke by fondswerwing en is ook verantwoordelik vir die bestuur van die Trust se fondse. Johan Holtzhausen is die voorsitter van die Trust.

Johan Holtzhausen, voorsitter van die WAT Trust
’n Woord van die WAT Trust — Johan Holtzhausen
95 jaar! WAT ’n groot taak, maar ons is in die pylvak, danksy Willem Botha en sy span leksikograwe en diegene voor hulle; Rufus Gous, Hester Klopper en hulle mede-direkteure; die ondersteuning van die Universiteit Stellenbosch; en my mede-trustees by die WAT Trust en diegene voor ons.
Daar is egter ’n groep instansies en persone wat ook spesiale vermelding verdien en wat die WAT bly ondersteun het selfs gedurende die pandemie.
- Het Jan Marais Nationale Fonds – lewer ’n ongelooflike bydrae oor baie jare en vanjaar het hulle hul bydrae weer verhoog sodat die WAT voor 2030 voltooi kan wees. Erna Meaker as Voorsitter en haar mede-trustees – baie dankie.
- Trust vir Afrikaanse Onderwys – hulle het ook hul jaarlikse bydrae verdubbel. Prof Eloff en mede-trustees – baie dankie.
- Die Hiemstra Trust vir hulle bydrae oor baie jare – dankie aan die voorsitter, Helgaard Raubenheimer.
- Sanlam, die Rupert-, Steyn- en Mouton-families en soveel ander.
Baie dankie vir ieder en elk se ondersteuning. Elke bydrae, groot of klein, maak ’n verskil.
Dr Botha en span: dankie – en hou ons asseblief op koers met die Tienjaarplan. Ons is amper daar! Donateurs en potensiële donateurs ondersteun en bly ondersteun ons asseblief in die pylvak. Ons het julle nodig.
Laastens, hoekom is ons deel van die grootse taak om ons taal te boekstaaf en vir ons nageslag ’n erfenis daar te laat? Vir my vat die stuk poësie van Willem van der Colff van Stellenbosch ons sentiment oor ons taak en ons taal gepas saam:
my taal
my taal kan klap soos ’n sweep
sy kan hard wees soos ysterklip
sy kan swets soos ’n matroos
maar soms kom lê sy, sag en soet,
soos heuning op my tong
sy vergestalt my vrese, drome, hoop
verwoord my lief en leed
vul my huis en haard
vind weerklank in my gebed
sy stap uit die kombuis uit
sy verwelkom my met arms wawyd oop
daar is ’n konsertina in haar stem
ʼn ghoema in haar lag
uitbundig dans sy ’n riel
sy is sonder weerga
sy staan in volblom
met wortels vas geanker in Afrikagrond
deurdrenk van son
taai, aanpasbaar soos ’n aalwyn
sy hou nooit op met groei
sy rank tot teen die hoogste hemelblou
sy bly, vir altyd, mý taal!
Willem Botha: Ons stel deel XVI van die WAT bekend en Frikkie Lombard, die eindredakteur, en Alet Cloete, een van die senior mederedakteurs, lig die sluier so ’n bietjie oor die uitdagende taak om ’n omvattende woordeboek soos die WAT saam te stel.

Frikkie Lombard, die eindredakteur van die WAT
WAT XVI — Frikkie Lombard
’n Slim man het op ’n keer gesê dat ’n woordeboek die heelal in alfabetiese volgorde verteenwoordig. Indien dit waar is, en ek glo dit nogal, dan kan ’n verdere uitbreiding van dié analogie een van ’n leksikograaf se grootste probleme uitlig: Soos wat die heelal voortdurend uitdy, so is dit ook gesteld met die woordeskat van ’n taal. Om by te bly, kan vlees en bloed soms kwaai takseer.
Anders as in ’n gespreksituasie, waar dinge maklik geïmpliseer kan word, en waar die konteks vir swak kommunikasie kan vergoed, moet ’n woordeboekmaker elke stukkie inligting eksplisiet en selfstandig hanteer. Dit kan alleen gedoen word deur die verband tussen taaluitinge en die konteks waarin taalgebruikers hulle aanwend, te bestudeer en te abstraheer. Die woordeboekmaker is verder ’n tussenganger tussen linguistiese teorie en taalpraktyk omdat hy/sy met albei moet werk, en hy/sy is daarom by uitbreiding ook ’n tussenganger tussen gewone gebruikers en die taalwetenskap of linguistiek. Weinrich stel hierdie uitdagende en problematiese aard van die leksikograaf se taak in die regte perspektief: “Ein Wörterbuch zu machen, ist ein höchst mühseliges Geschaft.” In die geval van ’n omvattende woordeboek soos die WAT, is dit selfs nog meer die geval.
Met Deel 16 van die WAT, wat in 125 alfabetiese trajekte ingedeel is van die afkorting SPR (Sekuriteitereguleringspaneel) tot Szonditoets, is die werk aan die letter S voltooi. By die nasien van hierdie werk het ek weer onder die indruk gekom van ons uitgebreide woordeskat, die rykdom aan Afrikaanse uitdrukkings en die ongelooflike vermoë van ’n taal om verskeie betekenisonderskeidings binne een woord te huisves, maar ek het ook opnuut weer bewus geraak van die leksikograaf se uitdagende taak om hierdie dinge te ontsluit. Wie sou byvoorbeeld kon dink dat die woord sterk 64 betekenisonderskeidings, 6 gespesialiseerde uitdrukkings en 23 idiomatiese uitdrukkings kan hê? Dit is slegs vir die byvoeglike naamwoord, want sterk is meerfunksioneel, en kan ook ’n bywoord en werkwoord wees.
’n Woordeboek skryf nie homself nie. Dit is harde werk, en vir die onverdrote ywer waarmee hierdie deel klaargemaak is, wil ek die redaksie van harte bedank, en in die besonder vir die senior mederedakteurs, Gerhard van Wyk en Alet Cloete.

Alet Cloete, ’n senior mederedakteur van die WAT
WAT XVI — Alet Cloete
WAT XVI strek inderdaad van SRP tot Szonditoets en dié lemmas illustreer juis die wydte van die spektrum woorde wat in dié bestek gedek word. Die volvorm van die afkorting SRP is Sekuriteitereguleringspaneel, en dit verwys na ’n instansie wat onder andere ’n ogie hou oor die samesmelting en oorname van maatskappye binne ’n streng wetlike raamwerk. Geen grys gebied dus hier nie.
Szonditoets, vernoem na die Hongaarse psigiater en psigoanalis Léopold Szondi, is ’n projektiewe en nieverbale persoonlikheidstoets waarin ’n respondent foto’s van psigiatries versteurde persone waartoe hy of sy aangetrokke voel, moet kies, waardeur bepaal word of die persoon tot persoonlikheidsafwykings neig en of sy of haar persoonlikheidsamestelling soortgelyk is aan die versteurde persone s’n. Hiermee andersyds die wêreld van die emosies en psige. En terloops, daar is ’n bewese verband tussen leksikografie en raserny. Dink maar aan die biografiese drama The Professor and the Madman, die verhaal van ’n skisofreniese dokter wat oor die 10 000 woorde tot die Oxford English Dictionary bygedra het!
In pas met die tyd is daar in WAT XVI ’n goeie kwota nuwe woorde, bv staatskaping en swaaistaat in die Hoofdeel en Covid, Covid-19, grendeltyd, inperking en koronavirus in die Addendum.
Hierteenoor is daar die verskeidenheid woorde van historiese belang, bv staalmeester (= iemand wat die kwaliteit en kleur van lakenstof-monsters moes nagaan. Die Nederlands stalen het oorspronklik “materiaalmonster” beteken – vandaar die naam), sterftent (= tent waarin die liggame van afgestorwenes, veral in die tyd van die konsentrasiekampe, gehou is totdat hulle begrawe kon word) en stormklok (= klok wat tydens die Middeleeue gelui is om inwoners van ’n bepaalde stad te waarsku teen gevaar en om al die weerbare jong manne tot die stryd op te roep).
Maar diegene wat woordeboeke vir die vermaaklikheidswaarde daarvan lees, kan hulle ook verkneukel in die woorde stieftande vir “kunsgebit”, stofjas vir “donkie” en streelperseel vir “masseersalon”. Of in beeldende streektaalwoorde soos stok-in-die-rok (opgeteken in George, Heidelberg, Mosselbaai en Riversdal) vir ’n Hubbard-pampoen, en die verouderde woord stompkop (opgeteken in die Paarl) wat verwys na ’n passasierstrein wat plaaslike, voorstedelike ritte onderneem het.
En dan is daar bestaande woorde wat betekenisuitbreiding ondergaan en nuwe betekeniswaardes kry wat verwoord moet word. Een so ’n woord is swanger wat by uitbreiding ten opsigte van ’n paartjie gebruik word en beteken “in ’n situasie of toestand waar ’n kind verwag word”, byvoorbeeld “Selfs voor ons uitgevind het ons is swanger, het ons van aanneming ook gepraat,” of “Dr CZ is omstrede omdat hy bejaardes en gay egpare help om swanger te raak.”
Ander woorde is die resultaat van kontaminasie, bv swerkater, uit swernoot en blikskater, of superdoor, vir ’n belangrike en vername man, uit superintendent en kokkedoor.
Maar die genoemde voorbeelde is net ’n strooiseltjie van die interessanthede wat die gebruiker te wagte kan wees. Deel XVI met sy stortvloed S-woorde, helder betekenisverklarings en kosbare voorbeeldmateriaal onderstreep weer eens die rykdom van Afrikaans.
Willem Botha: Die WAT is nie net ’n weerspieëling van Standaardafrikaans nie, maar van al die variëteite van Afrikaans, asook streektaal en geselstaal. Gerda Odendaal, een van die mederedakteurs van die WAT, is betrokke by ’n hernieude poging om Kaapse Afrikaans tereg te laat kom in die woordeboek.

Gerda Odendaal, ’n mederedakteur van die WAT
Kaaps in die WAT
As omvattende verklarende woordeboek is die Woordeboek van die Afrikaanse Taal reeds sedert die eerste deel gemoeid met die optekening van Afrikaans in sy ruimste sin deurdat sowel gesproke as geskrewe materiaal uit al die variëteite van Afrikaans opgeteken is. Die Buro van die WAT het oor die jare ook besondere moeite gedoen om soveel as moontlik voorbeelde van streektaal vir sy databasis te versamel ten einde ’n omvattender en meer verteenwoordigende dekking daaraan in die woordeboek te kan gee.
Een van dié variëteite van Afrikaans wat oor die grootste aantal sprekers beskik en ook die oudste Afrikaanse variëteit is, is Kaapse Afrikaans. Kaapse Afrikaans het sy oorsprong in die sewentiende-eeuse invloed van slawe op die vorming van Afrikaans. Vanweë Suid-Afrika se ongelukkige politieke verlede het hierdie variëteit van Afrikaans nie altyd die erkenning en verteenwoordiging gekry wat dit behoort te kry nie. Alhoewel daar oor die jare veral ’n aantal Moslemafrikaanse lemmas, wat deel vorm van Kaapse Afrikaans, in die WAT opgeneem is, het hierdie variëteit veral vanweë ’n tekort aan geskrewe materiaal in Kaapse Afrikaans ook in die WAT enigsins agterweë gebly.
Die afgelope aantal jaar is daar ’n hernude belangstelling in en agitasie vir die erkenning en bevordering van Kaapse Afrikaans. Hierdie ywer vir die verteenwoordiging van Kaapse Afrikaans, tesame met die verskyning van ’n hele aantal Kaapse Afrikaanse tekste oor die afgelope 10 jaar, het die WAT aangespoor om in Julie 2020 met ’n projek te begin wat ten doel het om gapings in die woordeboek ten opsigte van die opname van Kaapse Afrikaans te oorbrug.
Die eerste stap was om die WAT se korpus uit te brei ten einde te verseker dat meer Kaapse Afrikaanse lemmas, betekenisonderskeidings en uitdrukkings ingesluit word. Dit het aanleiding gegee tot ’n lys van meer van 1 500 lemmas, betekenisonderskeidings en uitdrukkings van A tot Z uit Kaapse Afrikaans, waarvan reeds sowat 100 by Deel 16 ingesluit is. Dit sluit unieke Kaapse Afrikaanse lemmas in soos satmaak, skwassie, smokkie, soema, sturvy en swirlkous en uitdrukkings soos sterkgevreet trek of sterk lekkers eet, asook Moslemafrikaanse items soos shukran, soenat en salaah maak.
Ten einde te verseker dat die Kaapse Afrikaans wat in die WAT opgeneem word ’n akkurate weerspieëling is van die variëteit soos wat dit deur sy sprekers gebruik word, is ’n aantal kenners op die gebied van Kaapse Afrikaans betrek, wat die manuskrip nagaan voordat dit gepubliseer word. Hulle is Frank Hendricks, variasietaalkundige en kenner van Kaapse Afrikaans, die sosiolinguiste en kenners van Kaapse Afrikaans, Quentin Williams en Marcelyn Oostendorp, asook die sprekers en kenners van Moslemafrikaans, Shamiega Chaudhari en Faika Haroun.
Hierdie projek gaan steeds ná die verskyning van Deel 16 voort en is al tot en met die letter M voltooi. Die WAT hoop om hiermee uiting te gee aan die gelykwaardigheid van alle variëteite van Afrikaans en sodoende werklik ’n tuiste vir alle sprekers van Afrikaans te wees.
Willem Botha: Die laaste item op die program is ’n klavier- en sanguitvoering deur Ying-Shan Tseng. Vir haar sanguitvoering word sy deur José Dias op die klavier begelei.






Kommentaar
Welgedaan WAT!
Welgedaan alle medewerkers!
Ek is heeltemal in vervoering oor die voltooiing en die volledigheid van Deel XVI.
Al die bekendmakings oor huidige en toekomstige projekte het my baie trots laat voel om deel te kan wees van hierdie besonderse projek.
Baie geluk, Willem en span, asook al die ander mense wat agter julle staan en julle steun. Julle doen uitstekende werk!
Dit was 'n pragtige en keurige geleentheid! Hartlik geluk met beide S en die WAT-verjaarsdag!