
was gewees
tussen my en jou rol
’n potlood lomp
om ons stomp
liefhê skerp te skuur
op sandpapier
’n lang-liniaal
om geniaal(!)
die afstand tussen wees en was
(sekuur)
uit – te – meet
’n pen sonder veer
(leeg-ge-ink)
’n halwe uitveër
voos gedink
oor die wis en (on)wis
van ons wees –
met my voorvinger skryf ek in nat sand
’n enkelsin:
ons was gewees


Kommentaar
Interessante, speelse skryfstyl. Ek hou veral van die eerste strofe. 🙂
Baie dankie, Jemima!
My ma is op 24 Maart 2024 oorlede, sy was 74. Kanker gehad, 8 maande siek gewees. Ek was by haar week voor sy oorlede is. Sommer oor baie ditjies en datjies gesels, onder andere het sy genoem (3 keer) dat hulle as kinders 'n sêding/gediggie gehad het oor "was"... sy't geglimlag en probeer onthou: "Was, was gewees..." Maar sy kon nie die woorde kry. Snaakse gedagtes help my met die rouproses, ek wil so graag die gediggie vind. Ken julle dalk so iets?