Was daar 'n Tagtigerbeweging?
2005

  • 0

My optrede vanaand het 'n preambel nodig. Van groot belang is dit om daarop te wys dat dit nie die bedoeling was dat ek vanaand alleen hier voor u staan nie. My wens was dat Piet Roodt, my eertydse kollega in die Departement Afrikaans van die Universiteit van Pretoria, hier saam met my sou optree. Hy was immers as redaksielid van die Tydskrif vir letterkunde my onmisbare helper deur die hele dekade van Tagtig heen. En dit is in hoofsaak as redakteur van die Tydskrif, 1973-1992, en dus ook gedurende Tagtig, dat ek 'n diskoers wil aanvoor oor die vraag of daar 'n Tagtigerbeweging was. Die voorneme was dat ek en Piet saam hier 'n gesprek oor die onderwerp sou voer, 'n gesprek gerig en gekleur deur ons ervaring by die Tydskrif in dié tyd. Onvoorsiene, ernstige gesondheidsprobleme het sy aanwesigheid hier verhinder.

Gelukkig is hy besig om te herstel, dermate dat hy hierdie diskoers saam met my voorberei het. U sal dus sy stem as 't ware saam met myne aanhoor, en dis vir my 'n gerusstelling dat hy saampraat, net soos dit vir my in die tagtigerjare 'n blye versekering was dat hy saam met my werk.

I
Meer as 40 jaar gelede het NP van Wyk Louw geskryf:

Dis eintlik 'n bietjie literêr-historiese slordigheid by ons - of gebrek aan afstand - dat ons by die Afrikaanse letterkunde so met die 10-talle werk: 20-ers, 30-ers ... tot by die 60-ers nou ... Ons het waarskynlik nog nie die ware geledinge in ons sowat 100 jaar letterkundige tradisie ontdek nie (Sestiger, Jg 1, nr 3: "Sestig, sestiger, sestigste", 1964:5).

Hy wys daarop dat die meeste skrywers wat Sestigers genoem word, reeds in die jare vyftig gepubliseer het. 'n Mens sou kon byvoeg: en dekades daarna nog goeie werk gelewer het - laat ons Jan Rabie noem, Etienne Leroux, André P Brink, Hennie Aucamp, Chris Barnard, Breyten Breytenbach.

'n Dekade-indeling as instrument van periodisering in die literatuurgeskiedenis deug nie, maar die etikettering het by ons gebruiklik geword, waarskynlik om af te baken of te orden omdat die literêre werke wat in opeenvolgende dekades gemaak word, tog dikwels van mekaar verskil. Anders gestel: elke dekade lewer talentvolle skrywers op wat anders skryf as hul voorgangers, wat werk lewer wat beduidend verskil van wat hulle self vroeër gedoen het. Om 'n oomblik by die poësie te bly en weer eens vlugtig en onvolledig op te noem: ons kan, volgens debute en vroeë werk, Leipoldt plaas in die tweede dekade van die 20ste eeu, Toon van den Heever in '20, Van Wyk Louw in '30, Opperman in '40, Blum in '50, Breytenbach in '60, Krog en Stockenström in '70, Cloete in '80.

Maar vir die literatuurhistorikus om 'n unieke beweging te identifiseer binne die stroom van werke in wat Rob Antonissen nog die "ontwikkelingsgang" van 'n literatuur kon noem - dit vra meer as die aanduiding van literatuur wat binne 'n bepaalde dekade verskyn het. Dit vra dat 'n waarnemer rondom die literêre enkelwerke sal kyk; byvoorbeeld, soos Henriette Roos dit stel aan die begin van haar "Perspektief op die Afrikaanse prosa van die twintigste eeu" in deel I van Perspektief en profiel - 'n Afrikaanse literatuurgeskiedenis (1998): "... deur die samehang tussen die Afrikaanse literatuur en 'n groter Suid-Afrikaanse samelewing duidelik te herken" (21). Of: dat daar na die breër "literêre bedryf" gekyk sal word - literêre tydskrifte, ook vaktydskrifte, skrywersverenigings, vakverenigings. Dit sou insluit, 'n verkenning van die stand van die literêre teorie binne 'n bepaalde tydperk, kritiese norme waarvolgens die literatuur in 'n bepaalde tydperk beoordeel word.

So sou 'n mens oor die grensoorlog, oor eskalerende politieke verset, oor die noodtoestand moes berig in jou beskrywing van die samelewing waarbinne die literêre tekste van Tagtig ontstaan het. Maar dan sou jy ook, paradoksaal, moes aantoon dat, terwyl landsgrense en grense binne die samelewing met bloed verdedig is, daar in die land van die Afrikaanse letterkunde 'n merkbaar toenemende strewe na ont-grensing was.

Ek wil met 'n paar voorbeelde volstaan:

Vir die eerste keer word 'n vakvereniging vir dosente en ondersoekers van Afrikaanse letterkunde, die ALV, in 1984 gestig, as uitvloeisel van 'n simposium "Suid-Afrikaanse letterkundenavorsing aan die begin van die jare tagtig", gereël deur die Sentrum vir Suid-Afrikaanse letterkundenavorsing (SENSAL), destyds deel van die Raad op Geesteswetenskaplike Navorsing (RGN) en Unisa. Die ALV word in meerdere opsigte 'n aanvulling van die Afrikaanse Skrywersgilde wat in 1985 reeds tien bestaansjare vier: 'n mens kan sê dat die ALV die eensame akademikus uit die studeerkamer gehaal het, soos die Skrywersgilde die woordkunstenaar uit die ivoortoring geroep het.

Die ALV kry 'n "lyfblad", Stilet gedoop deur die digteres en akademikus Lina Spies, 'n ryk naam waarin 'n mens dolk en graveernaald, punkteerinstrument en voelspriet, maar ook styl en lettere kan herken (soos dit uitgelê word in 'n voorsittersrede in 1988 - die eerste jaargang begin in 1989); kongresreferate word in bundels versamel. So kan 'n mens gemaklik sien wat die onderwerpe was van die gesprekke wat die literatuurwetenskaplikes en dosente oor die Afrikaanse letterkunde gevoer het.

Ek maak 'n willekeurige greep uit die referate van 1988: "Kontemporêre literatuurteorie en die studie en onderrig van die Afrikaanse letterkunde" (Heilna du Plooy); "Die verhouding tussen teks en konteks in Afrikaanse teatergeskiedskrywing" (Eunice Malan); "Die Afrikaanse letterkunde: Klas en apartheid" (Ampie Coetzee, Julian F Smith en Hein Willemse). Kontemporêre literatuurteorie word intrinsieke deel van die skeppende én essayistiese werk van skrywers wat ook dosente is - André P Brink, Etienne van Heerden, Joan Hambidge.

Juis in die referatebundel van die ALV-kongres van 1988 artikuleer Johan Degenaar (in belangrike mate die "in-huis-filosoof" van literêre byeenkomste in dié tyd) die dominansie van die postmodernisme (die Groot Ont-grenser) binne die konteks van die Suid-Afrikaanse kultuur in 'n bydrae getitel "Intertekstualiteit". Onder meer dui Degenaar die volgende kenmerke van die postmodernisme aan:

  • Postmodernisme impliseer ... 'n bewustheid van die gefragmenteerdheid van die lewe, van heterogeniteit in plaas van homogeniteit, van diskontinuïteit in plaas van kontinuïteit.
  • Die postmodernistiese teks word gekenmerk deur ... ondermyning van kategorisering, deur selfreferensialiteit en metafiksie, vermenging van style en genres wat impliseer die problematisering van genre-onderskeidinge, demokratisering ten opsigte van karakters en die weiering om een bo die ander te bevoordeel, demokratisering van fiksie en feite en die verwisselbaarheid daarvan.
  • 'n Voorbeeld van postmodernisme binne die konteks van die Suid-Afrikaanse kultuur is die deurbreking van die skeiding tussen hoë kuns en populêre kuns - en in dié verband verwys Degenaar na kabaret "wat met ligte aanslag heilige koeie slag, die waardes van die establishment dekonstrueer, hiërargieë omkeer, angels aan woorde teruggee, en intertekstualiteit met die taal van die liggaam illustreer". Die indertyd opspraakwekkende kabaret Piekniek by Dingaan word genoem as die kondensaat van al hierdie dinge.

'n Mens sou, anachronisties, 'n reël kon neem uit DJ Opperman se gedig "Sirkus" (Negester oor Ninevé, 1947) en praat van al dié deurbreking van skeidslyne, al dié ont-grensings, as 'n "verwarring van ouderwetse waardes".

In 1985 vind daar 'n simposium plaas by die Universiteit van Wes-Kaapland, "Swart Afrikaanse skrywers". In die Voorwoord van die verslag van die simposium (met dieselfde titel, waarin bydraes van Jakes Gerwel, Julian F Smith, Ikey van de Rheede, Larry Pokpas, Jeremy Cronin, Richard Rive, Hein Willemse, Beverley Jansen, Vincent Oliphant, Patrick Petersen, Peter Snyders en Melvin Whitebooi opgeneem is - die redakteurs was Julian Smith, Alwyn van Gensen en Hein Willemse) word die byeenkoms onder meer beskryf as "'n poging ... om 'n breër spektrum van literêre aktiwiteit te bestryk as dié wat deur gevestigde Afrikaanse akademiese belange gekanoniseer is". 'n Mens sou kon stel dat dié simposium daarop dui dat 'n grens getrek word tussen swart en wit Afrikaanse skrywers. Maar op die forums geskep deur nuwe strukture, nuwe tydskrifte, kom die geskeidenes as mense bymekaar, as vak- en ambagsgenote, en verkry die dialoog tussen die groeperinge momentum, leer die deelnemers aan die literêre bedryf mekaar se idioom verstaan, word teen die skeidslyne gebeur.

Binne die groter galery van nuwe sogenaamde "little magazines" wat vroeg in dié dekade ontstaan - Stet, Graffier, Ensovoort, Tagtiger, Taaldoos (waaroor later in hierdie fees uitvoeriger diskoers gevoer sal word) - het twee "groot" tydskrifte van vroeër nog uitgehou: Standpunte, wat in 1945 opgerig is, maar aanvanklik veral gedrewe is deur ouer-geworde Dertigers NP van Wyk Louw en WEG Louw; en die Tydskrif vir letterkunde, wat gegroei het uit die Jaarboek van die Afrikaanse Skrywerskring, 'n "noordelike" skrywersgroepering onder leiding van die romanskrywer en Dertigerdigter CM van den Heever, indertyd hoogleraar aan die Universiteit van die Witwatersrand. Die Jaarboek het in 1951 as die Tydskrif vir letterkunde 'n kwartaalblad geword. Vir baie jare het die persepsie bestaan dat Standpunte 'n "suidelike" literêre beskouing onderhou, en die Tydskrif 'n "noordelike" Wat dit presies beteken het, wil ek nie hier probeer uitlê nie; daar was in elk geval in die vroeë dekades van die tydskrifte se geskiedenis aanvoelbare spanning tussen die groepering rondom die Louws en dié rondom CM van den Heever en sy vriend en kollega, prof Abel Coetzee. Later het die spanning Noord-Suid in die Afrikaanse letterkunde een van die gemeenplase in literêre gesprekke geword. Teen die jare Tagtig was dié spanning nouliks meer merkbaar of ter sake: Standpunte word in 1986 afgesluit, en al was die redaksie van die Tydskrif sedert 1966 Pretoria-gebaseerd, is die medewerkers daarvan uit al die windstreke van die land gewerf. Miskien moet 'n mens hier ook praat van 'n ont-grensing tussen Noord en Suid!

II
Ek het u tot dusver besig gehou met die inkleur van die Afrikaanse literêre toneel, heel lig en breedweg, gedurende die tagtigerjare. En ek het nou aangekom by die kern van my verhaal: die plek van die Tydskrif vir letterkunde op daardie toneel. Want ek en kollega Piet Roodt het hierdie spreekbeurt gekry nie as literatuurhistorici nie, maar as getuies van Tagtig. En dié faset van die Afrikaanse literêre toneel waaroor ons sal "getuig", is in hoofsaak te sien in 'n stapel tydskrifte - tien of meer jaargange van die Tydskrif vir letterkunde, wat in dié tyd nog steeds as kwartaalblad uitgegee is.

Ten tye van Februarie 1980, aangedui as "Nuwe Reeks XVIII:1", was ek die redakteur, met Elsa Nolte, Nico Snyman en Piet Roodt as my redaksionele medewerkers, en verder 'n hele dosyn lede van 'n skakelredaksie, waarvan sommige administratief, sommige werwend, sommige keurend en sommige algemeen-menslik ondersteunend werksaam was.

Elsa was veral vir die administrasie van boekbesprekings verantwoordelik, Nico Snyman vir die afdeling waarin voorgeskrewe boeke vir matriek deur akademici bespreek is, 'n diens wat ons sirkulasie beduidend gebou het. Piet het my met intensiewe werwing van kopie en met die opmaak van die blad bygestaan.

Hierdie intensiewe werwing het heelwat met temperament en styl te make gehad. Piet is sowat 15 jaar jonger as ek, en self 'n bedrewe skrywer (teen daardie tyd het daar al 'n digbundel, Foma (1972), van hom verskyn, en as vrug van Tagtig word sy kortverhale gebundel in Afrika is blou soos 'n lemoen (1990) en Die geel geluid van die son (1991)). Hy was 'n gereelde beraadganger by die Skrywersgilde, en 'n gul gespreksgenoot, ook van jonger skrywers. As letterkundedosent in die Departement Afrikaans by die Universiteit van Pretoria het hy voortdurend op die uitkyk gebly vir talent onder die studente. Ek het 'n akademiese en burgerlik-huislike lewe gelei; my skrywersaanknopings was merendeels ouer, en ek sou opgemerk kon word by rustiger jaarvergaderings en byeenkomste van vakverenigings.

Die Tydskrif vir letterkunde was in dié jare nog die "amptelike orgaan" van die Afrikaanse Skrywerskring, wat in werkgemeenskappe in verskillende streke nog sigbaar en hoorbaar vergader het rondom literêre kwessies. "Die publikasie van hierdie tydskrif", so is verklaar in die voorwerk, "word moontlik gemaak deur 'n jaarlikse skenking van die Departement Nasionale Opvoeding en van Die Afrikaanse Persfonds aan die Afrikaanse Skrywerskring."

('n Nota is nodig oor Die Afrikaanse Persfonds. Dit was 'n trust, in die lewe geroep vir die bevordering van die Afrikaanse taal, uit persoonlike fondse deur 'n voormalige eerste minister (1924-1939) van die Unie van Suid-Afrika, generaal JBM Hertzog - weldoener ook van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns, soos die naam van die prestige-ryke Hertzogprys nou nog aandui. Die redaksie het jaarliks 'n klein verslagvergadering saam met enkele trustees gehou, maar hoewel daar sorgsaam na ons finansiële sake omgesien is, is daar nooit ingemeng in ons redaksionele werkwyses nie.)

Toe ek begin 1973 die redakteurskap van die blad aanvaar het, het ek in 'n koerantonderhoud verklaar dat ek daarmee "vir Afrikaanse skrywers wil lesers maak" - 'n té eng stelling, want deur die jare was daar steeds (hoewel later afnemend) ook Nederlandse bydraes in die inhoudsopgawes te sien. In 1984 is die vyftigste bestaansjaar van die Afrikaanse Skrywerskring met 'n Skrywerskongres gevier; in 'n toespraak by dié geleentheid het ek die implikasies van dié verklaring só aangevul: "... om te verseker dat skrywers van gehalte en van belofte inderdaad in die Tydskrif publiseer ... wat beteken gevestigde skrywers én die beginnendes, die pre-debuteerders". Hierdie samesyn, het ek bygevoeg, was nog altyd belangrik, vir skrywers en lesers tegelyk. "Die geleentheid word vir die leser geskep om die letterkunde in sy groeiproses mee te maak; die vaster tred van die gevestigdes, die soms wankelskrede van die beginners. Die leser bevind hom dan in die werkswinkel van die letterkunde ..." (Meer oor die geskiedenis en stellingnames van die Tydskrif kan gevind word in Elize Botha, Die Tydskrif vir letterkunde en die Skrywerskring - waarhede en wense, TL XXII:4, bl 30; Elize Botha, Die Tydskrif vir letterkunde en die Vlaamse verbintenis, in De Geest en Van Gorp (reds), Extra muros, langs de wegen - opstellen voor Marcel Janssens. Leuven 1997.)

Ek vermoed dat so 'n stellingname verwant is aan wat Hennie van Coller in 'n opstel in bogenoemde Festschrift vir Marcel Janssens noem 'n "pragmatiese" benadering van die letterkunde.

Juis die Tydskrif -uitgawe van Februarie 1980 weerspieël hierdie "register". Die blad open met die teks van 'n toespraak wat Etienne Leroux op 22 September 1979 gehou het tydens 'n Museumweek waarvan 'n dag aan die slag en die slagveld van Magersfontein gewy is: "Hoekom skryf 'n skrywer oor Magersfontein en hoekom Magersfontein, o Magersfontein?" (Die verbod op die roman was toe nog nie opgehef nie - dit het in Maart 1980 gebeur.) Daar is nuwe gedigte van Lina Spies en 'n verhaal van PJ Haasbroek. Maar daar is ook 'n teks in van Alexander Strachan, vir wie ek kort tevore by 'n SAVAL-kongres in Bloemfontein ontmoet het (SAVAL: Suid-Afrikaanse Vereniging vir Literatuurwetenskap - nog 'n grensdeurbrekende forum, omdat letterkundedosente oor 'n hele spektrum dissiplines heen daar bymekaargekom het). Die verhaal was getitel "Huldeblyk"; toe dit, gestroop van allerhande woord-oordaad, in Strachan se opspraakwekkende debuutbundel 'n Wêreld sonder grense in 1984 verskyn, is die titel verander na "Koebaai". Dit is die essensiële grensverhaal, vroeg reeds toonaangewend in die genre wat (as my waarneming korrek was) Elsa Joubert in 1984 in meerdere voordragte - voor die Stellenbosse Werkgemeenskap van die Akademie, as voorsitter van die Skrywersgilde - as 'n nuwe ontwikkeling in die Afrikaanse prosa aangedui het. Toonaangewend was die verhaal in die kil reportage van die soldaat-in-aksie, die brutaliteit en ontmensliking van oorlog, maar ook vanweë die kontras tussen die militaristiese dissipline wat by die begrafnis van 'n geliefde makker gehandhaaf moet word en die rou, uiteindelik onbeheerbare verdriet oor die verlore kameraad. Die derde nommer van dieselfde jaargang, Augustus 1980, het twee belangrike, maar baie verskillende bekendstellings gebring. Daarin is eerstens onthul dat die literatuurwetenskaplike en kritikus, TT Cloete, digter is - en ek gebruik die woord "onthul" omdat sy eerste verse volgens afspraak met my in Augustus 1979 verskyn het onder die skuilnaam T Janse van Rensburg. Die tweede ronde sou ook onder dié skuilnaam verskyn. Inmiddels het DJ Opperman Cloete se manuskrip gelees en geesdriftig daarop gereageer: "Koningskos!" het hy daarvan gesê. "Dit is een van die grootste verrassings in ons letterkunde - 'n deursoute akademikus openbaar hom onverwags op betreklik gevorderde leeftyd as volbloed digter." (Cloete was toe 56.) Cloete het dus vir ons laat weet dat ons maar die masker kan afhaal, en die voorblad kondig aan: "TT Cloete: digter". Terselfdertyd, dieper in die blad in, verskyn van 'n outeur aangedui as JP Prinsloo 'n verhaal getiteld "By die skryf van aantekeninge oor 'n reis": debuut van Koos Prinsloo, sekerlik een van die merkwaardigste skrywers van Tagtig. Hy was toe Honneurs-student in die Departement Afrikaans by die Universiteit van Pretoria, en Piet het hom uitgenooi om van sy werk vir ons te bring. Dit was tipografies geen maklike teks om te hanteer nie. Een van die komponente in die verhaal is die geskrif "Mij Ervaringe" van die Grootvader, wat die vertellende jongman by sy tuiskoms lees. Die deurbreking van die grens tussen feit en fiksie is in dié verhaal aan die orde; die werklike bladsy waarop die "Voor Woord" tot die "ervaringe" deur die werklike student Koos se werklike oupa geskryf is, moes gekopieer word en so outentiek in die bladsye van die verhaal in die tydskrif verskyn. Piet moes die kosbare objek koesterend deur die setproses in 'n chaotiese drukkery êrens in Pretoria-Wes loods, en dit weer ongeskonde aan 'n besorgde Koos terugbesorg. Maar daar was die verhaal dan: profeties. soos Etienne van Heerden later aangedui het, van Koos se oeuvre soos dit deur sy kort lewe in vier bundels - Jonkmanskas (1982), Die hemel help ons (1987), Slagplaas (1992), en Weifeling (1993) - sou ontvou: 'n verhaal van vervreemding, van die uitvee van grense, ook tussen fantasie en (historiese) werklikheid. Tot vandag toe lees ek nie die laaste sin sonder huiwering nie: "Die erf lyk na 'n nuwe wêreld, het die jongman gedink ..." Daar word gesê dat literatuurgeskiedenis nie die geskiedenis van enkelwerke is nie, maar dat 'n enkelwerk soms geskiedenis maak. Die verskyning van hierdie verhaal het geskiedenis gemaak. In Augustus 1982, twee jaar later, staan Koos se verhaal "Die jonkmanskas" eerste in die tydskrif, met 'n voetnoot: "Uit die debuutbundel Jonkmanskas wat later vanjaar by Tafelberg-uitgewers verskyn." Die Tydskrif vir letterkunde van Februarie 1983 moet ook uit die stapel gehaal word. Hennie Aucamp ('n gereelde medewerker - toe ek redakteur geword het en hom om 'n bydrae gevra het, het hy geantwoord: "Op jou roep seg ik nooit nee nie, seg ik altijd, altijd ja ...") word daarin in sy baanbrekende rol in die vestiging van kabaret op die literêre toneel aan die orde gestel: met "'n greep uit 'n kabaret", "Geen rose sonder dorings nie III" en 'n artikel van Karin Malan oor Met permissie gesê. In die gereelde rubriek "Literêr-Aktueel", word berig dat Ernst van Heerden, "digter, kritikus en leermeester-in-die-letterkunde", in Mei 1982 vereer is met 'n eredoktorsgraad van die Universiteit van die Witwatersrand en in Augustus 1982 met 'n goue erepenning vir kultuurprestasie van die Studenteraad van die Universiteit van Pretoria. Direk daarna (asof ons opsetlik wou uitstal hoe eklekties ons te werk gaan!) volg 'n "item" onder die opskrif "André Letoit oor die Tagtigers", met 'n inleidende sin van die redaksie: "Van André Letoit het die redaksie onlangs 'n essay ontvang, met die titel: 'Ek, Onsself, Die Hele Spul (die eerste litirêre (sic) essay deur 'n proefbuisbaba ooit)' ... Ons plaas dit ongeredigeerd, as tydsdokument." Ek noem dit 'n "item", maar dit is 'n verhandeling werd. Manifeste speel 'n belangrike rol in episodes van vernuwing in die literatuur, en hierdie essay van Letoit, "vroeër en soms nog André le Roux du Toit, Koos tussen my vriende in die Konserwatiewe Party wie ek deesdae nie meer groet op straat nie", kan beskou word as een van die beduidende "position papers" van Tagtig. Hy knoop die Afrikaanse Tagtig aan die Nederlandse negentiende-eeuse vernuwing. Hy noem vervreemding en ontmensliking as elemente van die Afrikaanse Tagtig. Hy sonder die werk van Johan van Wyk (van wie ons ook heel vroeë gedigte, deur homself geïllustreer, by die tydskrif ontvang het) - "'n kreet van protes" - uit as tiperend van die tyd. Daar is geen sprake van 'n eenheidsbeweging of sameswering met voorbedagte rade nie:

Daar het 'n nuwe geslag grootgeword onder julle neuse en party van hulle het nog nooit van CM van den Heever gehoor of 'n plattelandse somer beleef nie. Wat presies wil ek sê? Dat ons jongmense in proefbuise grootgeword het en hul eie waardes moet soek, op onortodokse wyses ... Wie ons werklik is, sal ons nog moet sien.

'n Baldadige teks, wat swalk tussen gesimuleerde outobiografie, bepeinsing en kroegfilosofie, en wat wys dat die skrywer daarvan tog 'n generasie- of groepsbesef het (was dit miskien, onder andere, omdat hy musikant was en in 'n "band" gespeel het?).

Gans anders geformuleer was die antwoord van Etienne van Heerden op die vraag "Is die Tagtigers vervreemd?" - 'n bydrae tot die Skrywersberaad van die Gilde in Gordonsbaai, 1981, wat ook as 'n manifes beskou kan word. Deur Piet ter plaatse gewerf, verskyn die teks in die Tydskrif van Mei 1981. Etienne was geen vreemdeling in die Tydskrif nie: 'n kortverhaal van hom, "Genesis", verskyn in Mei 1980. In die Beraad-stuk, wat ook opgeneem is in die jubileumbundel van die Skrywersgilde, Skrywer en gemeenskap (1985), wys Van Heerden op vervreemding tussen die jong skrywer en die formele struktuur rondom die letterkunde, maar ook op "vervreemding wat moontlik tussen die jonges aan die gebeur is" - 'n gespletenheid, 'n Terug-na-die-Volk-groep en 'n meer eksperimentele groep. Wat die eksperimenteles betref, moet die jonges waak dat hulle nie "'n laatlammetjie van 'n Sestig-lammerseisoen" word nie. Die woord op papier - dis waarom dit gaan.

… En in hierdie opsig moet elkeen op sy eie, privaat, die ding doen ... Laat ons eerlikheid vooropstel, en nie agter dekades of verwagtings van bewegings aan skryf nie. Netnou word stamelaars orakels en dwerge reuse ... Ons eerste verantwoordelikheid, lyk dit vir my, lê nie by 'n groep of 'n beweging of 'n dekade nie, maar by die private daad van skepping.

Hier blyk iets van 'n ánder vervreemding: die skeppende skrywer wat as enkeling, tersyde van 'n groep, sy werk moet doen.

III
Ek het my by my lees gehou en veral op die prosabydraes in die Tydskrif gekonsentreer. Die tagtigerjare word trouens gesien as die dekade van die kortverhaal in Afrikaans. Ek het aan u die laboratorium wat die tydskrif in die vroeë tagtigerjare was, voorgehou by wyse van anekdote en eksemplaar. Dit bring mee dat baie ongesê gebly het - ek sou byvoorbeeld nog moes vertel van twee wenners van die Eugène Marais-prys vir debuutwerk, Pierre Haarhoff, met sy gesofistikeerde wetenskapsfiksie, die sonderlinge talent van Pieter Stoffberg in Die hart van 'n hond. Ek sou meer kon sê oor wendinge in die werk van ouer skrywers. Waar ek iets wou vasstel aangaande "beweging" in Tagtig, het ek al meer na die beginnendes gekyk.

Want, soos die twee manifeste waarna ons vlugtig geluister het, te kenne gee: in die jong skrywer kry ons dikwels 'n skerper artikulasie van "beweeg" - weg-beweeg, aan-beweeg, om nuut te kyk, nuut te maak.

Virginia Woolf het, in die eerste reeks van haar The common reader-opstelle (lank, lank gelede: 1925), goeie woorde gehad hiervoor in "How it strikes a contemporary":

There is something about the present which we would not exchange, though we were offered a choice of all past ages to live in ... We are sharply cut off from our predecessors. A shift in the scale - the sudden slip of masses held in position for ages - has shaken the fabric from top to bottom, alienated us from the past and made us perhaps too vividly conscious of the present. Every day we find ourselves doing, saying, or thinking things that would have been impossible to our fathers.

Heel aan die begin het ek 'n lei-woord aangedui vir Tagtig: ont-grensing. Ek wil die woord vir oulaas, en ook by herhaling, aanvul met drie tekste-gemoeid-met-beweging.

Daar was die herout van die grensliteratuur, JC Steyn, met sy verhaal "Op pad na die grens", wat in Februarie 1975 in die Tydskrif verskyn het. Daarin het hy verskillende betekenisse van "grens" geaktiveer. JP Smuts toon dit aan in sy oorsig van die prosa van Tagtig in Stilet van Maart 1991: grens is landsgrens, is grens tussen die soldaat en die gemeenskap, is die skeiding tussen oorlog en vrede, is as werkwoord die weeklag, die "howl, howl, howl, howl" van 'n koning Lear met Cordelia dood in sy arms, sou ek wou sê, teen "the rack of this rough world". Sal ons sê dat dit 'n soort huiwering vóór die grens was?

Daar is Koos Prinsloo se "By die skryf van aantekeninge oor 'n reis", waarin 'n vervreemding voltrek word, grense oorgesteek word, wat die vormgewing van die verhaal ten opsigte van die konvensionele betref, en wat juis daardeur uitdrukking gee aan vervreemding van die geskiedenis, van gesin, van wat voorhande is in die hede.

Daar is die openingsteks in Etienne van Heerden se bundel My Kubaan (1983), "Slap grensdrade" - ook 'n verhaal oor 'n reis: die jaarlikse besoek van 'n jongman aan 'n oom, eienaar van die familieplaas. Sentraal in die verhaal is die twee rituele wat telkens plaasvind: die eerste, dat oom Isaac die name van die voorgeslagte aan die jongman Jac voorlees, beginnende by die stamvader. Die tweede, dat die stoetramme besoek word. Maar Jac sien oral tekens van verval, nie net in die slap grensdrade nie, ook in die gemoed van die patriarg. Sy seun Boet, "die kroonprins", het "oor die tou getrap" met een van die bruin diensmeisies, weggegaan en by die "Staande Mag" aangesluit - dus sy voorgeskrewe rol as opvolger versaak. Daar is 'n geboorte op hande - van 'n nuwe soort erfgenaam: sal die kindjie blou oë hê? Het Etienne van Heerden hier die "fall from grace" en die moeilik aanvaarbare genade ("grace") van 'n nuwe begin, soos dié van Lucy in JM Coetzee se Disgrace, geprefigureer?

In die saamwerk van ouer en jonger skrywers in die laboratorium van die Tydskrif vir letterkunde kon ons nie, meen ek, 'n beweging onderskei nie. Daar was nie 'n Tagtigerbeweging nie, maar daar was beweging in Tagtig.

Ek het ten slotte weer 'n formulering van Etienne van Heerden nodig - uit die jongste Insig, Maart 2005:

Tagtig was 'n radikalisering eerder as 'n skoon breuk met die verlede. En 'n snuf in die neus van wat voorgelê het.

  • Hierdie bespreking het op 10 Maart 2005 plaasgevind in die Konservatorium se Jannaschsaal as deel van die Woordfees se Diskoers-program.

Eerste publikasie op LitNet: 17 Maart 2005

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top